Pure Leeueplesier vir die Lions teen Ospreys

Die Lions het Vrydag sewe drieë teen die Ospreys gedruk. (Foto: GB Jordaan)

Daar is ʼn uitdrukking in rugby wat lui dat dit ʼn jongmanspel is wat deur ouer mense gespeel word.

Dit was egter nie Vrydagaand op Ellispark die geval nie, toe die vlugvoetige, vaardige en veel jonger Lions die ouer Walliese Ospreys van hul voete af gespeel het in die Verenigde Rugbykampioenskap.

Die Lions het met 45-15 geseëvier nadat hulle rustyd met 14-3 voorgeloop het en het sewe indrukwekkende drieë in hul bonuspuntsege gedruk.

Dit was die Lions se derde opeenvolgende sege en dis jammer dat daar slegs ʼn paar honderd toeskouers op Ellispark was, want die tuisspan is steeds onoorwonne tuis. Hulle was lus om te speel, om met die bal te hardloop en om die spinnerakke van ʼn sukkelende span in hul derbywedstryde teen die ander Suid-Afrikaanse spanne af te skud.

Die Lions is ná hul oorwinning 11de op die puntelys, met 26 punte en dit is jammer dat hulle eers laat in die reeks wakkergeskrik het.

Die Ospreys probeer nóg ‘n drie deur die Lions keer. (Foto: GB Jordaan)

Die Walliesers, met ʼn heelwat ouer span, het merkbaar swaar getrek.  Ses of sewe van hul spelers Saterdag is ouer as 33 jaar, met die slot Bradley Davis wat op 39-jarige ouderdom reeks sy rakleeftyd beleef het.

Die Lions het dit uitgebuit en hul vinnige agterspelers soos Rabz Maxwane, Edwill van der Merwe, Wandile Simelani en Morne van den Berg het stof in die oë van hul teenstanders geskop.

Met ʼn puik Burger Odendaal wat bestendigheid in die middelveld gee en ʼn baie groot rol in die ontwikkeling van die jong losskakel Jordan Hendrikse speel, was die agterlyn rooiwarm en het hulle die horlosie teruggedraai na ʼn tyd toe die Lions onder Johan Ackermann en Swys de Bruin geseëvier het.

Daarby het die klipharde haker Jaco Visagie, Ruan Dreyer, Ruben Schoeman en die twee Tshituka-broers, Emmanuel en Vincent, gekook.

Die sewe drieë wat die Lions gedruk het, was ʼn baie goeie tentoonstelling van hul vaardighede, vaart en die wyse waarop hulle eers die basiese beginsels reg uitgevoer en toe hard geslaan het.

Die Walliesers moet inderdaad nou bekommerd wees. Hulle het die voete gesleep, gans te maklik besit afgestaan en kon nie die basiese beginsels reg uitvoer nie.

Die Lions het Vrydag sewe drieë teen die Ospreys gedruk. (Foto: GB Jordaan)

Boonop het vaart agterlangs ontbreek.

Raak ʼn mens te gou liries oor die Lions? Nee wat, gun hulle eerder hierdie Leeuplesier.

Punte: Lions 45 (14): Drieë: Rabz Maxwane, Morné van den Berg (2), Francke Horn, Manny Ras, Edwill van der Merwe, André Warner. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3).

Ospreys 15 (3): Drieë: Rhys Webb. Doelskop: Josh Thomas. Strafdoel: Thomas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.