Pylvak na die uitspeelrondes

Maandagaand se Varsitybekeruitslae sal met die reeks wat einde se kant toe staan, ʼn groot rol speel in die bepaling van die vier halfeindplekke.

Die Varsitybekerreeks se ligafase word oor twee weke voltooi, en die voorste ses spanne sal benewens hul eie vertonings ook afhanklik wees van die “gunste” van ander deelnemers om een van die vier halfeindplekke te haal.

Daar is ook vyf wat teoreties ook ʼn meerdere, en in gevalle ʼn baie mindere, kans het om selfs ʼn tuishalfeind aan te bied.

♦  Die Maties, met 27 ligapunte, is vanselfsprekend in die binnebaan vir ʼn tuishalfeind met ʼn onoorwonne rekord wat ses wenne en ʼn enkele gelykop uitslag insluit.

Die Stellenbossers het nog twee wedstryde, albei weg, oor. Hulle speel Maandagaand in die Baai teen die Madibaz wat nog nie vanjaar gewen het nie, en dan teen die NWU-Pukke in Potchefstroom.

Dit is onwaarskynlik dat die Maties uit ʼn tuishalfeind gehou sal word.

♦  Wits, ook ná ses wedstryde, is met 23 ligapunte in die tweede plek en net vier punte agter die Maties. Hulle het egter nog twee taai wedstryde voor – Maandagaand tuis teen hulle buurspan UJ en oor ʼn week weg teen die Pukke.

Hierdie twee oorblywende teenstanders van die Witsies het egter albei nog drie wedstryde oor en kan bo die Wits eindig en tuis in ʼn halfeind speel.

♦  Die Pukke (20 ligapunte) moet nog teen die Shimlas (weg), Wits (tuis) en die Maties (tuis) speel. Dis ʼn taai program en die Pukke se wedstryd teen Wits kan die halfeindplek bepaal en ook waar dit gespeel sal word.

♦  UJ, ná sy onverwagse afslag van die Shimlas in Bloemfontein, het tans 16 punte. Hulle het Maandagaand ʼn wegwedstryd teen Wits. Dan volg UP-Tuks (weg) , en dan die Ikeys tuis.

Verloor hulle teen Wits, is dit vir hulle neusie verby wat die tuishalfeind betref – en word dit al hoe moeiliker om die halfeindplek te verseker.

♦  Die Shimlas (vyf wedstryde, 14 punte) en die Ikeys (15 punte ná ses wedstryde) het nog albei ʼn wiskundige, dog uiters onwaarskynlike, kans dat hulle tuis hul halfeind sal kan speel.

Dieselfde ses spanne spook dit in die eerste plek natuurlik uit om tussen die voorste vier te eindig net om die halfeind te haal – of dit nou tuis of weg is.

Opsomming van bepalende wedstryde (spanne, ligapunte, wedstryde nog oor)

  1. Maties, 27 punte, nog teen Madibaz (weg), Pukke (weg)
  2. Wits, 23 punte, nog teen UJ (tuis), Pukke (weg)
  3. Pukke, 20 punte, nog teen Shimlas (tuis), Wits (tuis), Maties (tuis)
  4. UJ, 16 punte, nog teen Wits (weg), Tuks (weg), Ikeys (tuis)
  5. Ikeys, 15 punte, nog teen UJ (weg), Ixias (weg)
  6. Shimlas, 14 punte, nog teen Pukke (weg), Madibaz (tuis), Ixias (tuis)

Maandagaand se bepalings –

16:45 – Wits vs UJ (TV)
18:30 – Ixias vs UP-Tuks
18:30 – Madibaz vs Maties
19:00 – NWU-Pukke vs Shimlas (TV)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.