QBR oorwin Drake met St Joris en al

In die legende het Sint Joris die draak oorwin; Saterdag in Harare het Quins-Bobbies-rugby (QBR) met die Drake, St Joris inkluis, afgereken.

Die Blou Bulle se kampioen het Zimbabwe s’n, Old Georgians, bekend as die Drake, met 38-34 geklop in wat Ben Eybers, die wenspan se voorsitter, ʼn “klubtoets” noem.

“Dit was ʼn naelbytstryd waarin QBR drie keer moes terugbaklei vir sy bonuspuntoorwinning voor omtrent 1 000 toeskouers.

“Dit was eers van ʼn agterstand van 5-10 tot ʼn voorsprong van 12-10 voor rustyd; toe weer 12-17 en selfs 12-24 agter, met ʼn gelykop 24-24 19 minute voor die einde; ʼn voorsprong van 31-24; weer 31-34 agter, tot Sima Yalele in die doodsnikke vir die wendrie oorgeval het.”

Eybers sê die Drake is ʼn goed afgerigte span “met vyf-ses toetsspelers en vier-vyf Carltonspelers, wat van hulle ʼn gedugte span maak”.

Hy glo hulle sal enige tyd in ʼn reeks soos die Blou Bulle se Carltonliga kan meeding.

Michael Nienaber, QBR se linkervleuel, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Eybers sê QBR se Buzwe Mpoloto is sleg beseer met ʼn ontwrigte enkel, maar die res van die span is slaggereed om die Goue Leeus se top-oopklub, Raiders, Saterdag op die Harlequin-veld in Pretoria te pak.

Hy nooi alle QBR-ondersteuners sowel as die ander plaaslike klubs om in die dag te deel.

“Met die Northam Rhinos wat reeds vir die kwarteindronde in aanmerking gekom het, kom QBR een sege kort om ook in Groep B – die groep van die dood – daarvoor in aanmerking te kom.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.