‘QBR-samesmelting werp gewis vrugte af’

qbrDie samesmelting tussen die Pretoriase klubs Harlequins en Polisie om Quins-Bobbies-rugby (QBR) te vorm, het gewis vrugte afgewerp.

Só sê die nuwe klub se voorsitter, Ben Eybers, nadat al drie QBR-spanne die afgelope Saterdag baie goed teen `n sterk Springs in Groep A3 van die Noorderbonde se Assupolreeks gevaar het.

In sy eerste wedstryd sedert die klub onlangs tot stand gekom het, het die eerste span Springs 55-5 geklop.

Eybers sê die span het vinnig `n voorsprong van 48-0 opgestapel, maar in die tweede helfte die voet van die petrolpedaal afgehaal en `n paar veranderinge aangebring.

“`n Mens weet nie wat die Springs-afrigter rustyd aan sy span gesê het nie, maar jy moet jou hoed afhaal vir die span se verdediging in die tweede helfte, wat talle gewisse drieë gefnuik het.”

Hy sê QBR se ander eerste span het Springs se tweede span oorrompel; en die QBR-o.21-span is kerngesond, en sy oefenwedstryde teen die Tukkies se akademiespanne het gewis tot `n goeie vertoning bygedra.

“Dié span sal aanstaande Saterdag deeglik teen die Universiteit van Johannesburg getoets word.”

Eybers nooi al QBR se ondersteuners na Quins se velde, waar die klub die Johannesburgse studente met drie spanne sal aandurf.

Die UJ is `n gedugte klub en sy eerste span het Maandag sy stem dik gemaak deur die Tukkies 18-17 in die reeks om die Varsitybeker te klop.

eruembleemERU teen Brakpan

 Colin Booysen, die spanbestuurder van East Rand United (ERU), sê Brakpan het met sy sege van 39-28 (rustyd 22-7) oor ERU in Groep A1 voor laasgenoemde se fanatiese ondersteuners op sy tuisveld, die “Begraafplaas” in Reigerpark, getoon waarom die Panne die Valke-kampioenspan is, en waarom hy die halfeindstryd van die afgelope Goue Bekerkampioenskap gehaal het.

Die skouspelagtige wedstryd het tien drieë opgelewer, ses deur Brakpan en vier deur ERU.

Booysen sê ERU se afrigters is beïndruk deur die wyse waarop hul span in alle opsigte sy man in `n baie fisieke kragmeting teen die hoogaangeskrewe Brakpan gestaan het.

“ERU het al die speelwerk in die grootste gedeelte van die eerste helfte verrig, maar kon slegs sewe punte aanteken.
“Soos telkemale in die verlede het die tuisspan in die tweede helfte beter begin speel, en in dié helfte drie skitterdrieë gedruk.”

Booysen sê heelwat positiewe punte het vir ERU uit die wedstryd geblyk, en die klub sien uit na die res van die Assupolreeks en die seisoen wat voorlê.

Hy het aan Pale Toe! gesê selfs die voorsitter van Brakpan, Harry Nieuwenhuis, het erken dat ERU dié seisoen veral op sy tuisveld baie spanne slapelose nagte sal besorg.

Rudi Mathee (agsteman) was ERU se speler van die wedstryd.

“Hy het Brakpan deurentyd met sy kragtige lopies en vreeslose plettervatte hoofbrekens besorg,” het Booysen berig.
Gamat Ndanda (twee), Duane Brown en Dustin Losch het die tuisspan se drieë gedruk. Brown het drie verdoel vir `n persoonlike bydrae van 11, en Clayton Gindan die vierde.

tut-vikingsTUT teen Noordelikes (Pretoria)

 Neels van Heerden, die voorsitter van die Tshwane Universitiet vir Tegnologie (TUT) se rugbyklub, sê die instelling speel tans in twee reekse – dié om die Varsityskild en die Assupolreeks.

“Net nuweling-eerstejaarstudente en studente wat meer as 50% van hul krediete in 2016 geslaag het, mag aan die skildreeks deelneem. Dit beteken dat weekliks minstens 23 studente nie in aanmerking kom om in dieselfde week vir TUT se Assupolspanne te speel nie.”

In weerwil hiervan het TUT Saterdag sy wedstryd teen Noordelikes (Pretoria) in Groep B4 van die Assupolreeks ver gewen (47-7).

“In die eerste helfte het JP de Beer (heelagter) twee skitterende individualistiese drieë gedruk,” het Van Heerden Pale Toe! laat weet.

“In die tweede helfte het die samespel baie verbeter en het die studente nog vyf keer agter die doellyn gaan kuier, die driedrukkers Chestwin Gaffley, Lebohang Chapole, Zavian Klaasen, Calvin Maduna en Cascious Dube.”

De Beer het vyf van die drieë verdoel om sy bydrae op 20 te staan te bring, en Shawn Jaards een.

TUT II (jongspan) het Noordelikes 10-5 geklop.

In die reeks om die Varsityskild het die Walter Sisulu-universiteit van die Oos-Kaap TUT Maandag 17-13 geklop.

Van Heerden sê TUT behoort baie meer diepte in vanjaar se Carltonbekerreeks te hê met die twee eerste spanne wat tans aan die twee reekse deelneem.

Transnetparke teen Mamelodi

 Morgan Pienaar, die voorsitter van Transnetparke, laat weet sy span het Mamelodi die afgelope Saterdag op Meyerton 60-5 in Groep C3 van die Assupolreeks geklop.

Die wenspan se nege drieë is deur Andrew Bredell (twee), Deon Oosthuizen, Pierewiet de Beer, Zander Richter, Shaun Viljoen, Jacques Welgemoed, André Botha en Freddie Lee gedruk.

Lee het sy bydrae met ses doelskoppe en `n strafdoel tot 20 opgeskuif, en is as die agterspeler van die wedstryd aangewys. Oosthuizen was voorlangs die beste.

Pienaar sê Parke was aanvanklik `n bietjie oorhaastig, maar het mettertyd rustiger geraak, en beter op die spel gefokus.

Hy glo daar is `n opswaai by die klub te bespeur.

Saterdag se kragmetings

Groep A

 Die reeks beloof Saterdag `n paar strawwe kragmetings op te lewer.

In Groep A1 durf die onoorwonne Brakpan (Valke) en Centurion (Blou Bulle) mekaar op eersgenoemde se tuisveld aan; en op die Tukkies (Blou Bulle) se veld pak die studente en ERU (Valke) mekaar met `n eerste sege vir albei spanne op die spel.

Dieselfde is die geval in Groep A3 waar QBR (Blou Bulle) en UJ (Goue Leeus) op Harlequins se veld in Groenkloof `n eerste nederlaag in die gesig staar; en Springs (Valke) tuis en Pietersburg Noordelikes (Limpopo) albei `n eerste sege nastreef.

In Groep A2 is Boksburg (Valke) en in Groep A4 Naka Bulle (Blou Bulle) die eerste keer in die reeks in aksie. Eersgenoemde speel tuis teen die Dragons (Blou Bulle), en laasgenoemde op Roodepoort (Goue Leeus) teen die tuisspan.

Groep B

Witbank Ferro’s (Pumas), die Universiteit van die Witwatersrand (Goue Leeus), die Silver Valke (Blou Bulle) en Lonmin (Luiperds) maak almal hul buiging in die reeks.

Ferro’s speel in Groep B1 tuis teen Northam Rhinos (Limpopo); Cullinan (Blou Bulle) in Groep B2 in Johannesburg teen Wits; die Valke in Groep B3 weg teen Korrektiewe Dienste (Blou Bulle); en Lonmin in Groep B4 tuis teen die Blou Bulle se Noordelikes (Pretoria).

Groep C

Die spanne in Groep C1 pak mekaar op die Edenvale Panthers se tuisveld, en die kollig sal veral op die tuisspan se wedstrd teen Meyerton val. Die twee spanne het mekaar verlede jaar in die eindstryd van die Valke se Kestrelliga aangedurf, en die Panthers het die beste daarvan afgekom.

In die ander twee wedstryde op Edenvale speel Mogol (Limpopo) en Elsburg (Valke) teen mekaar; en Vanderbijlpark (Valke) kry met Tswaing (Blou Bulle) te doen, wat verlede week verras het deur Westelikes te klop.

Op Oos-Rand Polisie (Valke) se veld vind twee wedstryde in Groep C2 plaas. Die tuisspan speel teen Westelikes (Blou Bulle); en die buurspanne Eersterust en Mamelodi (albei Blou Bulle) pak mekaar in `n derbystryd ver van die huis af.

Die klubs in Groep C3 trek by Transnetparke se veld in Jan Niemandpark saam. Met die uitsondering van die Kwaggas (Warmbad) van Limpopo is almal Blou Bul-klubs.

Die gasheer speel teen Soshanguve; Warmbad teen Bronkhorstspruit; en Hartbeespoort teen Atteridgeville.

Die bepalings –

A1: Tukkies teen ERU; Brakpan teen Centurion.
A2: Boksburg teen Dragons.
A3: Springs teen Pietersburg Noordelikes; QBR teen UJ.
A4: Roodepoort teen Naka Bulle.
B1: Witbank Ferro’s teen Northam Rhinos.
B2: Cullinan teen Wits.
B3: Korrektiewe Dienste teen Silver Valke.
B4: Lonmin teen Noordelikes (Pretoria).
C1 (op Edenvale): Edenvale teen Meyerton; Mogol teen Elsburg; Vanderbijlpark teen Tswaing.
C2 (by Oos-Rand Polisie): OR Polisie teen Westelikes; Eersterust teen Mamelodi.
C3 (by Transnetparke, Jan Niemandpark): Soshanguve teen Transnetparke; Warmbad teen Bronkhorstspruit; Hartbeepoort teen Atteridgeville.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.