Quade Cooper se toetsdoppie dalk geklink

Die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, het Cooper uit sy groep van 38 spelers vir die komende Bledisloebeker (tydens die Rugbykampioenskap) teen Nieu-Seeland gelaat wat die einde van Cooper se internasionale loopbaan kan beteken.

Die Waratahs-losskakel, Michael Foley, het die jawoord bo Cooper gekry in ʼn groep wat 11 nuwelinge insluit, maar geen spelers van die Brumbies insluit nie omdat hulle Vrydag in die kwarteindronde van die Superreeks teen die Hurricanes speel.

Daar is ook geen plek vir die veteraan-agtsteman Scott Higginbotham nie.

Cooper is een van daardie spelers waarvan jou hou of haat. Geen grys gebiede nie.

Op sy beste het hy baie opwinding verskaf met sy binne-aangeë en sy vermoë om geleenthede vir sy buitespelers te skep. Maar hy was onbestendig.

Wanneer die span vorentoe gaan, wanneer hy aan sy eie oordeel oorgelaat word, kan hy ʼn wedstrydwenner wees, maar hy kan jou binne in oogwink sooibrand  gee wanneer hy onder druk geplaas word.

Kan die Wallabies hul rûe styf maak teen die All Blacks, Bokke en Poemas, ondanks die swak peil van hul Superspanne?

Ironies genoeg, ja, want daar is genoeg vaardige  spelers soos Israel Folau, Kurtley Beale, Samu Kerevi, Will Genia en Michael Hooper wat saam met die bestes kan gesels.

Dis ook opvallend dat daar al hoe meer op spelers teruggeval word wat bande met die Suidsee-Eilande het soos Kerevi, Marika Koroibete, Eto Nabuli, Sefa Naivalu, Izaia Perese, Tolu Latu, Lopeto Timani en Taniela Tupou.

Dit dui daarop dat daar nie meer genoeg spelers uit plaaslike geledere na vore tree om die gate te vul nie. En dís hoekom Australië eintlik net drie spanne in die Superreeks moet hê.

Wallabygroep –
(* dui aan nuwelinge, aantal toetse in hakies)

Voorspelers
Jermaine Ainsley* (Force), Adam Coleman (12 toetse,  Force), Pek Cowan (10, Force), Jack Dempsey (1, Waratahs), Kane Douglas (31, Reds), Sef Fa’agase* (Reds), Tetera Faulkner (2, Force), Ned Hanigan (3, Waratahs), Richard Hardwick (2, Force), Michael Hooper (68, Waratahs), Sekope Kepu (80, Waratahs), Adam Korczyk* (Reds), Tolu Latu (4, Waratahs), Sean McMahon (15, Rebels), Stephen Moore (kaptein, 120, Reds), Tatafu Polota-Nau (71, Force), Tom Robertson (9, Waratahs), Izack Rodda* (Reds), Rob Simmons (71, Reds), Lopeti Timani (7, Rebels), Taniela Tupou* (Reds), Jordan Uelese* (Rebels).

Agterspelers
Kurtley Beale (60, Waratahs), Israel Folau (55, Waratahs), Bernard Foley (45, Waratahs), Will Genia (78), Dane Haylett-Petty (17, Force), Reece Hodge (13, Rebels), Karmichael Hunt (3, Reds), Samu Kerevi (8, Reds), Marika Koroibete* (Rebels), Campbell Magnay* (Reds), Billy Meakes* (Force), Eto Nabuli (1, Reds), Sefa Naivalu (7, Rebels), Izaia Perese* (Reds), Nick Phipps (52, Waratahs), Curtis Rona* (Force).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lol ·

Duidelik het al die Suid-Afrikaners wat na Australie ge-emigreer het se kinders nie rugby talent of gene nie ?

Nico K ·

Rugby is nie ‘n baie groot sport in Australië nie. Ek het eendag op google gekyk en gesien dat rugby liga meer as dubbel soveel toeskouers trek as rugby, terwyl Australian football meer as 10 keer soveel toeskouers trek. Selfs sokker trek meer toeskouers in Australië as rugby. So dit lyk nie vir my of Australië se rugby sommer sal verbeter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.