Quade straf slordige Springbokke

Quade Cooper het die wenstrafskop oor die dwarslat gejaag. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

O tog.

Nou weet ’n mens wat gebeur wanneer die Springbokke duikslae mis en Handré Pollard sy skopskoen in Suid-Afrika vergeet het: Hulle verloor.

Die Springbokke het vandag in nóg ’n wedstryd teen die Wallabies weg van die huis vasgeval toe hulle met 28-26 op die Cbus Super-stadion in Queensland verloor het.

Quade Cooper was die tuisspan se groot held toe hy die wenstrafskop in die doodsnikke van die kragmeting oor die dwarslat gejaag het. Daar is terstond ’n petisie van stapel gestuur om vir hom sy Australiese burgerskap te besorg.

Die 33-jarige losskakel het 23 punte vir sy span aangeteken; glad nie sleg vir iemand wat laas in 2017 ’n toets vir die Wallabies gespeel het nie.

Hy is dalk nie goed genoeg vir Australië nie, maar wel vir die Wallabies.

Daarteenoor het Handré Pollard ’n swak toets gehad.

Hy het gesukkel om die agterlyn aan die gang te kry en sy rits verbroude stelskoppe het die Suid-Afrikaners baie seer op die telbord gemaak.

Hy is later deur Damian Willemse vervang, maar dié se vertoning agter die skopkelkie is ook nie baie betroubaar nie. Dit is ’n hartseer verhaal wanneer jou span die meeste drieë druk, maar steeds die wedstryd verloor.

Die Springbokke sal beslis volgende week wil beter speel. Boonop is Siya Kolisi en Willie le Roux met geel kaarte van die veld gestuur. Foto: Twitter.

Bongi Mbonambi en Malcolm Marx het ná goeie rolmaalbewegings die Suid-Afrikaners se drieë gedruk en eintlik het die Bokke ook die oorhand in die skrums gehad (behalwe toe Luke Pearce sy fluitjie vir die laaste strafskop geblaas het).

Oudergewoonte het ’n sterk Springbokspan teen die Wallabies weg van die huis verloor en dit laat beslis ’n wrang smaak in die mond.

In krieket sê hulle gereeld dat vangskote vir jou wedstryde wen. En ’n rugbytoets kan nie sonder die dienste van ’n betroubare stelskopper gewen word nie.

Wonder wat dink die All Blacks hiervan.

  • Puntemakers:

Australië: Drie: Andrew Kellaway. Doelskop: Quade Cooper. Strafskoppe: Cooper (7).

Springbokke: Drieë: Bongi Mbonambi en Malcolm Marx (2). Doelskoppe: Handré Pollard. Strafskoppe: Pollard (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
jou gewete

Wat n wonderlike dag. Geluk Australie, julle het gewen, ongeag. Soos die sa ondersteuners so graag se looks at the scoreboard

MakersMark

Bokke mis 10 punte se skoppe, en behalwe vir die vaste fases en dryfbewegings was hul vrot. En hul verloor met 2. Hoop hul kom terug en sit 20 op die arrogante spul soos hul moet. Bring vir Morne terug op losskakel.

Riaan

Die skopwerk pale toe is pateties … Begin oefen, of kies vir Morne asb

Anton

Twee van my gunstelinge, Pollard en Am het terrible dag gehad :-(

Willempie

“Flash in the pan ” wêreld kampioene. Saterdag wag ń groter pak slae en die daaropvolgende Saterdae vermorseling deur die eintlike wêreld kampioene.