Quade terug, maar Bokke kan hom sekerlik ook platduik

Quade Cooper. Foto: Michael Bradley/AFP.

Quade Cooper is ’n onvoorspelbare speler wat as losskakel ongetwyfeld vir ekstra vonk in die agterlyn kan sorg.

Daarbenewens is hy op 33-jarige ouderdom waarskynlik lus om toetsrugby te speel – hy het immers laas in 2017 vir die Wallabies uitgedraf, terwyl hy seker alles in sy vermoë sal doen om ’n Australiese burger te word.

Dan was dit baie Aussies se grootste wens dat hy saam met Tate McDermott sal speel; hiér kom ’n gedugte skakelpaar, meen hulle.

“Ons is baie opgewonde om Quade weer deel van die opset te hê en hy het ongetwyfeld sy kans verdien. Sedert hy terug is, het hy ’n positiewe invloed op die span gehad en baie druk op die keurders geplaas om hom te kies,” het Dave Rennie (afrigter) gesê.

Die enigste probleem is dat die Bokke se verdediging vir niemand terugstaan nie en dit is beslis binne hul vermoë om vir Cooper en kie. plat te duik.

Hulle sal ook oorgehaal wees om die bordjies in Australië te verhang.

Om een of ander duistere rede sukkel die Springbokke teen die Wallabies weg van die huis. Die Suid-Afrikaners is die sterker span, maar hulle verloor baie meer as wat hulle wen.

Die Aussies het agt van hul laaste tien tuiswedstryde teen die Springbokke gewen. Faf de Klerk het terselfdertyd ook gewaarsku dat die Suid-Afrikaners nie die Wallabies ligtelik moet opneem nie.

“Om in Australië te speel is altyd ’n taai fisieke stryd. Dan probeer hulle ook deesdae om spanne se voete onder hulle uit te hardloop en hulle sal beslis ons verdediging toets. Ons moet op ons skerpste en beste wees,” het De Klerk gesê.

Die wedstryd begin Sondag om 12:05 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Wallabies: Tom Banks (heelagter), Andrew Kellaway (regtervleuel), Len Ikitau (buitesenter), Samu Kerevi (binnesenter), Marika Koroibete (linkervleuel), Quade Cooper (losskakel), Tate McDermott (skrumskakel), Rob Valetini (agtsteman), Michael Hooper (kaptein en flank), Lachlan Swinton (flank), Matt Philip (slot), Izack Rodda (slot), Allan Alaalatoa (stut), Folau Fainga’a (haker) en Angus Bell (stut). Plaasvervangers: Feleti Kaitu’u, James Slipper, Taniela Tupou, Rob Leota, Pete Samu, Nic White, Reece Hodge en Jordan Petaia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokkie ·

Sou ‘n mens nou ook kon sê dat die Aussies vir Cooper teen SA gaan ‘loslaat’ ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.