Quin-klubs landwyd se verhaal, meewerking gevra

harlequins

Pretoria Harlequin het `n projek begin om al die Quins-klubs in Suid-Afrika te identifiseer en inligting oor hul geskiedenis in te samel.

Ben Eybers, die klub se voorsitter, sê Quins sal graag ander klubs wat die embleem (handelsmerk) voer help om as klubs te groei, en wil onder meer na `n nasionale borgskap vir die Lappiestruie in al die bonde aandag gee.

Die Quin-tradisie kom `n lang pad, met die moederklub in Londen wat in 1866 gestig is en vanjaar sy 150ste verjaardag vier.

Die klub is aanvanklik as Hampstead gestig, maar het die naam in 1870 na Harlequin verander. `n Twis oor die nuwe naam het tot `n skeuring in die klub gelei. Die wegbrekers het `n ander klub gestig wat vandag as Wasps bekend staan.

Pretoria Harlequin het in 1906 die heel eerste buitelandse klub geword om by die moederklub in Londen te affillieer en is steeds die enigste SA klub wat dié onderskeiding geniet.

Die hoogtepunt in die verhouding tussen die twee klubs was waarskynlik toe die 60ste herdenking van dié band in 1966 met `n toer van die Londense klub na Suid-Afrika gevier is.

Sedertdien het nog sewe buitelandse klubs met die moederklub geaffillieer. Hulle is in Australië (in Melbourne, Victoria, en in Hobart, Tasmanië); Nieu-Seeland (in Hamilton, Waikato); Indië (Future Hope Harlequins, in Kolkata); Kenia (in Nairobi); Amerika (in Dallas, Texas) en die Verenigde Arabiese Emirate (Abu Dhabi).

Eybers sê hulle wil graag vasstel hoeveel Quins-klubs in Suid-Afrika is of was.

Hulle weet tans naas Pretoria van die volgende: Wes-Rand Harlequins (Goue Leeus), Port Elizabeth Harlequins (Oostelike Provinsie), Durban Harlequins (KwaZulu-Natal) en Oudtshoorn Harlequins (Suidwestelike Distrikte).

Hy sê daar was ook Harlequin-klubs in die Westelike Provinsie (Milnerton), in die Noord-Kaap, en in Namibië/Suidwes-Afrika (Keetmanshoop), maar geen besonderhede is oor hulle bekend nie.

Pretoria Harlequin se wêreldwye invloed blyk onder andere uit oudspelers soos Phil Pretorius, wat die Kaaimanseilande se direkteur van rugby is; Roedolf van der Westhuizen, wat onlangs as hoofafrigter van Bermuda uitgetree het; en Niku Kruger, wat toetsrugby vir Amerika speel.

Eybers vra dat almal wat inligting oor SA Harlequin-klubs het, of die een of ander bydrae tot die behoud van die Harlequin-tradisie kan lewer met hom by 084 444 4321 of [email protected] in verbinding sal tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.