Quins-broederskap reik uit in nood … en vreug

harlequinsHarlequin-klubs plaaslik en in die buiteland huiwer nie om die hand van broederskap in nood en vreugde na mekaar te reik nie.

Ben Eybers, die vooorsitter van Pretoria Harlequins, vertel toe Port Elizabeth Harlequins se stel truie onlangs gesteel is, het die klub `n noodsein aan die Pretoriase lid van die broederskap gestuur.

“PE Quins sou sy ligaverpligting in `n ander klub se truie moes nakom en Quins kon nie toesien dat dit gebeur nie. Ons was gelukkig genoeg om `n stel truie van voorverlede jaar se eerste span beskikbaar te hê. Dit is onmiddellik Baai toe versend en het betyds vir die span se wedstryd teen die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) opgedaag.”

Willie Blundin, die voorsitter van PE Harlequins, het laat weet dat dié gebaar sy span geïnspireer het, en dat hy die NMMU oortuigend kon klop.

In `n ander verwikkeling is Quins se sewesspan besig om sy vere reg te skud om in Julie aan Dallas Harlequins van Texas, Amerika, se sewestoernooi te gaan deelneem.

PE Harlequins - logoDie klub het onlangs `n afsonderlike afdeling vir sewesrugby geskep, met Leon Potgieter as voorsitter, en beplan om `n All Stars-span vir die Windhoekse sewestoernooi in te skryf en in Desember `n Quins-span vir die Dubaise sewestoernooi in te skryf.

Voorts het Harlequins van Nairobi in Kenia die Lappiestruie van Pretoria, Port Elizabeth, Wes-Rand (Krugersdorp) en Dallas genooi om in September aan die klub se Christie-sewestoernooi deel te neem. Dié toernooi bestaan reeds sedert die vroeë jare sestig van die vorige eeu.

Mike Lucas, die Keniaanse klub se voorsitter, sê daar is plek vir drie besoekende spanne in die toernooi.

Die Quin-klubs in Pretoria en Nairobi is ook in gesprek oor die uitruil van spelers.

Die Groenkloofse klub het juis tans die Poolse toetslosskakel, Michal Kepa, wat op uitruilgrondslag vir hom in die Carltonreeks uitdraf sedert Jacques Petzer-Moore sy enkel teen Polisie gebreek het.

kenya harlequinsEybers sê daar is `n sterk moontlikheid dat die Poolse slot Matheusz Bartoszek ook vir die klub kan speel.

Quins werk op die koop toe aan `n uitruilprogram met Leipzig in Duitsland, Orcan Sochaczew in Pole en Dallas Quins. Jan Boot, `n gewese Carltonspeler en oudafrigter van die Blou Bulle se o.21-span, is die Dallas-span se hoofafrigter.

Die voorsitter sê Quins beplan insgelyks `n tienmantoernooi in Oktober in vennootskap met die Kaapstadse tienmantoernooi.

Carltonliga

Oor Pretoria Harlequins se derde nederlaag vanjaar teen Dragons, dié keer in die tweede ronde van die Carltonreeks, sê Eybers die Groenkloofse span het met rukke en stote goed gespeel, maar die Dragons se losskakel, Marnus van Rensburg, was uitstekend en het Quins gekelder met twee breekslae wat elke keer tot `n drie gelei het.

Dit was die Poolse toetslosskakel, Kepa, se eerste wedstryd in die Carltonliga, waar hy vir Pole se toetse later vanjaar kom voorberei.

dallas harlequins“Quins se tweede span het weer slae gekry nadat drie van sy spelers vroeg Saterdag onttrek het,” het Eybers aan Pale Toe! gesê.

“Die derde span se neut is steeds ongekraak nadat hy in `n verbete terugvegpoging die Dragons die tweede keer vanjaar in die Carlton met `n strafdoel in die doodsnikke kon klop.”

Eybers sê Quins o.21 het ook onder die Drake deurgeloop, maar die o.20-span het sy vorige nederlaag in dié baie mededingende liga gewreek deur die weeromwedstryd te wen en daardeur sy aanspraak op `n plek in die halfeindstryd lewend te hou.

Weens die langnaweek is Quins se wedstryde teen Polisie na Woensdag 15 Junie vervroeg. Hy reken die eerste spanne behoort 20:00 af te skop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.