Raaisel rakende Skotse toetsspeler se skorsing

John Hardie – raaisel. (Foto: Scottish Rugby)

Die skorsing Vrydag van die toetsflank John Hardie deur die Skotse Rugbyunie (SRU) is in ʼn raaisel gehul.

Luidens berigte is Hardie, wat in Nieu-Seeland gebore is en Skotland in 16 toetse verteenwoordig het, uit wedstryde vir sy klub, Edinburgh, geskors en deur die SRU meegedeel dat hy nie vir aanstaande maand se toetse teen Samoa, Nieu-Seeland en Australië gekies sal word nie.

Die stap is geneem “hangende ʼn interne ondersoek”, maar geen verdere verduideliking is verstrek nie.

Die SRU sê dis uit die aard van die ondersoek normale praktyk om nie verdere kommentaar te lewer nie.

In nog ʼn terugslag vir Edinburgh is sy kaptein, Marcus Bradbury, enkele dae tevore geskors hangende ʼn ondersoek deur die klub, nadat hy twee weke gelede ʼn kopbesering tydens ʼn nagtelike uitstappie saam met vriende opgedoen het.

Hy is glo in ʼn val beseer.

Omdat dit in sy vrye tyd gebeur het, is dit blykbaar nie die omstandighede van die besering wat ter sprake is nie, maar die feit dat hy homself nie opgepas het sodat hy sy speelverpligtinge kon nakom nie.

Bradbury se ma, Dee, is die visepresident van die SRU, en sal na verwagting die volgende president word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.