Die maande lange raaispeletjie oor die toekoms van die Springbokke se afrigtingspan en die afrigter van die Junior Springbokke is uiteindelik beëindig.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Maandag aangekondig dat Allister Coetzee, wat die Springbokke slegs tot vier oorwinnings in 12 wedstryde kon brei, ook vanjaar aan die stuur van sake gaan wees.
Die Springbokke se eerste toets vanjaar is 10 Junie teen Frankryk op Loftus Versfeld in Pretoria, wat aan Coetzee en sy assistente minder as vier maande gee om seker te maak Bok se kind smyt nie weer naam weg nie.
Coetzee het egter die dienste van ’n bewese en ervare afrigter bekom om die agterspelers af te rig.
Franco Smith, die Cheetahs se afrigter, wat die Vrystaters in 2016 tot Curriebeker-glorie gebrei en die Shimlas in 2015 uit die Varsitybeker laat drink het, is as agterlynafrigter in die plek van Mzwandile Stick aangestel.
Smith, wat die Springbokke verlede jaar in dieselfde hoedanigheid op hul jaareindtoer na Europa bygestaan het, sal steeds tot aan die einde van 2019 in sy pos as afrigter van die Cheetahs se Superrugbyspan aanbly.
Die Springbokke se agterlyn het verlede jaar verbeeldinglose rugby opgedis wat grootliks te wyte was aan die onervare Stick, wat behalwe `n seisoen as agterlynafrigter vir die Kings geen afrigtingservaring op die hoogste vlak het nie.
Die verdedigingsafrigter sal volgens Saru binnekort aangekondig word. Brendan Venter, wat algemeen as een van die grootste denkers van die spel beskou word en tans in dieselfde hoedanigheid by Italië se nasionale span betrokke is, gaan luidens gerugte binnekort in dié hoedanigheid bevestig word.
Johann van Graan en Matthew Proudfoot, wat verlede jaar die voorspelerafrigters was, is weer met dié taak toevertrou.
Ná maande se bespiegeling is Chean Roux, wat die Maties van 2008-2010 na drie Varsitybeker-titels gebrei het, as afrigter van die Junior Springbokke aangewys. Hy was ook verlede jaar ’n tyd lank die verdedigingsafrigter van die Springbokke.
Ackermann
Die o.20-Wêreldbeker skop vir Suid-Afrika op 31 Mei teen Frankryk in Tbilisi, Georgië af, wat beteken dat Roux nie veel tyd gaan hê om die span te brei nie.
Roux sal deur Stick bygestaan word, wat na die agterspel van die Junior Springbokke sal omsien.
Aanvanklik is die naam van Jonathan Mokuena, die afrigter van die Luiperds en die Pukke se Varsitybeker-span, aan dié pos gekoppel. Daar is egter die naweek berig dat Mokuena gesê het hy stel nie in die pos belang nie, omdat “dit onregverdig teenoor die spelers (sal) wees met wie ek ’n lang pad stap. Ek heg groot waarde aan menseverhoudings. Ek wou nie die Pukke of die Luiperds in die steek laat nie.”
Johan Ackermann, die afrigter van die Lions, wat verlede jaar die SA ‘A’-span teen die besoekende Saxons, Engeland se naasbestes gebrei het, sal weer aan die stuur van dié span wees vir twee wedstryde later vanjaar teen die Franse Barbarians. Ackerman se hulpafrigters sal Abe Davids, afrigter van die SWD Arende en Chumani Booi, hulpafrigter van die Grens, wees.
“algemeen as een van die groot denkers van die spel”???? se wie?