Raakrugby is gevaarlik. Werklik?

In watter sportsoort kry jy baie maklik  seer? Raakrugby!

Ja, raakrugby, wat gewoonlik gebruik word om op te warm, om fiks te word, om kontak te vermy wanneer jy op die strand speel of piekniek hou.

Volgens die jongste syfers wat op stuff.co.nz bekend gemaak is, is daar 29 000 amptelike deelnemers in Auckland en was daar 7 761 beserings die afgelope drie jaar wat tot beseringseise van bykans R38 miljoen gelei het.

Die groot probleem is dat spelers, veral die goue oues, nie behoorlik opwarm nie en dan dyspierbeserings, krampe en enkelbeserings opdoen. Sagteweefselbeserings het die grootste deel uitgemaak, sowat 86 persent van die totale getal beserings.

Daar was ook 1 500 kniebeserings, 1 408 enkelbeserings, 148 gesigbeserings, 44 elmboogbeserings en 22 neusbeserings waarvoor eise ingestel is.

Terloops, daar is dwars oor Suid-Afrika heelwat raakrugby-ligas waaraan mans en vroue, en soms as gemengde spanne, deelneem. En Suid-Afrika se Olimpiese en Wêreldkampioen Wayde van Niekerk het verlede jaar in ʼn raakrugby-‘voorwedstryd’ op Nuweland ernstig seergekry.

Gepraat van opwarm. Daar word in Pretoria vertel dat die oud-Springbokstut Mof Myburg sy kop in die kleedkamer netso een of twee keer na links en regs  geskud het en dan gesê het: “Oukei manne, hier gaan ons.”

In 1990 in die Curriebeker-eindstryd tussen Noord-Transvaal en Natal op Loftus Versfeld het die Bulle se senter Pieter Nel, sy hakskeensening geskeur het toe hy uit die tonnel gedraf het.

Daar word gesê dat hy uitgeswaai het vir ʼn fotograaf en toe beseer is. Dit het tot ʼn aanvanklike geskarrel gelei en die toekomstige Springbokheelagter, Theo van Rensburg, moes toe gaan senter speel. Gerbrand Grobler het toe as heelagter diens gedoen.

Die eindtelling? 18-12 in Natal se guns.

Hoeveel keer het dit al gebeur dat spelers tydens opwarming voor wedstryde seergekry het?

Beserings is deel van die spel in rugby – en nou hoor ons ook in raakrugby.

Maar wat van in 2011 toe die Sharks se nuwe aanwins, die Franse losskakel Frédéric Michalak, nie ná rustyd uit die kleedkamer gekom het nie?

Michalak, wat ná die spanpraatjie sy nood voor die tweede helfte gaan verlig het, is per ongeluk in die kleedkamer agtergelaat nadat die ander spelers reeds op die veld was. Die veiligheidsbeampte het glo in Afrikaans gevra of almal uit die kleedkamer was voordat hy die deur toegesluit het.

Die plaasvervangers het dit langs die kantlyn agtergekom nadat die Cheetahs afgeskop het en het toe na hom gaan soek. Hy is tien minute later baie benoud in die kleedkamer gekry … en het sekerlik Engels en ʼn paar Afrikaanse woorde gebruik wat hy aangeleer het!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.