Raap-en-skraap Kings laat Bulle groot skrik

Tian Schoeman druk die Bulle se eerste drie (Foto GB Jordaan)

Tian Schoeman druk die Bulle se eerste drie (Foto GB Jordaan)

Sewe verdoelde drieë vertel nie die volle verhaal van die Blou Bulle se Curriebeker-oorwinning Vrydagaand teen die raap-en-skraap span van die OP Kings op Loftus nie. Die telling was 49-35.

Met hulle klomp geleende spelers en al was die Kings na net vyf minute reeds 14-0 voor. Teen rustyd was die Bulle slegs 28-25 voor en met 21 minute se speeltyd oor het die  Blou Bulle steeds net 28 punte gehad en het die Kings 30-28 voorgeloop.

Soos die Sharks, wat nie na kampioenmateriaal teen die Boland gelyk het nie, was daar ook heelwat brakkole by die Blou Bulle te bespeur. Die meeste van hulle drieë was wel skitterend, maar die afstaan van punte en baie foute is rede tot kommer.

Hierdie groot skrik was glad nie wat die min mense op Loftus, die Blou Bulle self, of hulle ondersteuners verwag het nie. Die Kings het op hul beurt ook vyf drieë gedruk en net twee verdoel teenoor die sewe uit sewe van die Bulle se losskakel Tian Schoeman.

♦  Die OP het met die afskop die bal uit die lug gevat en na 55 sekondes was hulle eerste punte op die bord. Dit het hulle die nodige selvertroue gegee en dit was laat in die wedstryd nog die geval waar hulle gaan druk het kort na ʼn drie van die tuisspan om die voorsprong beheerbaar naby te hou.

Die Kings se agterlyn het die Bulle met opskietverdediging ontsenu. Die Ligbloues het miskien te dikwels gehardloop net omdat dit hulle nuwe benadering is. ʼn Paar keer is hulle omgedop, een keer het die Kings onderskep en deurgaans het hulle effektief by die afbreekpunte om omkeerbesit baklei. Die Kings se agterlyn het goed en effektief gehardloop.

Hoewel die Bulle miskien effens oorgerus was, was dit ʼn verrassend-goeie vertoning deur ʼn OP-span wat mekaar op en van die veld af nog leer ken. Volpunte vir wat die hoofafrigter Barend Pieterse en die agterlynafrigter, die oud-Blitsbok Vuyo Zangqa, reeds in die kort twee weke uitgerig het.

Vir die Blou Bulle was daar heelwat lesse. Een is dissipline; nog een is die afleer van aanvalsrugby onder alle omstandighede; en dan was daar ook weens pasgenoemde rede en die Kings se opskietverdediging  te veel hanteerfoute.

Puntemakers –

Blou Bulle (28) 49: Drieë: Tian Schoeman, Jamba Ulengo 2, Jannes Kirsten, Bjorn Basson, Burger Odendaal, Joshua Stander. Doelskoppe: Schoeman 7.

OP Kings (25) 35: Drieë: Michael Willemse Berton Klaassen, Johan tromp,
Siviwe Soyizwapi, Martin Bezuidenhout. Doelskoppe: Kobus Marais 2. Strafdoele: Marais 2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.