Raiders glo Goue Beker is binne sy bereik

Die Goue Leeus se verteenwoordiger in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale klubreeks om die Goue Beker glo hy het ʼn realistiese kans om vanjaar die boonste sport in die reeks te bereik.

WJ Daniels, Raiders se spanbestuurder, sê dis hoegenaamd nie blote lippediens as hy dit sê nie, dis die beskouing en verwagting van elkeen wat vanjaar met die span se veldtog gemoeid was.

“Raiders het ‘n paar jaar gelede teen Pretoria Polisie in die nasionale reeks gespeel, ʼn voorganger van vanjaar se Quins-Bobbies-rugby (QBR), en weet presies watter fisiekheid en trompop mededinging van hulle te wagte kan wees,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Raiders beskou QBR as sy grootste uitdaging in die groepfase, en sien uit na die kragmeting .

“Hy slaan egter al die spanne in die groep hoog aan, en kyk veral nie verby Old Georgians (Zimbabwe) nie, wat hy Saterdag op dié se tuisveld moet gaan aandurf.”

Raiders het in 2015 aan die reeks deelgeneem, en is verlede jaar naelskraap deur Pirates van deelname daaraan weerhou.

Daniels sê die klub was vasbeslote om vanjaar daarvoor in aanmerking te kom, en het dit reggekry met drie ligawedstryde in die bank.

“Ons spring sonder ernstige beserings aan sleutelspelers weg. Behalwe vir ʼn paar kleiner skete is almal beskikbaar.

“Raiders het in Babba Ellis, wat ná afloop van die liga na die Seychelle-eilande verhuis het, ʼn puik speler verloor, maar het die hele groep in die loop van die seisoen ingespan, met die gevolg dat die span goed aangepas is.”

Hy sê die ervare stut Anthony Gallacher het aan die begin van die seisoen by Raiders aangesluit, en uit die staanspoor gladweg by die klub- en spankultuur en -etos ingeskakel om ʼn waardevolle bate in die masjienkamer te word.

“Saam met ysters soos die slot Velaphi Khumalo, die haker Henna Bredenkamp, en die kaptein en flank, Luzuko Panya, beskik Raiders oor ʼn gawe mengsel van jeug en ervaring.”

Daniels sê die rotasiestelsel het ʼn mate van diepte in die klub geskep, en Raiders in staat gestel om blootstelling te gee aan jong spelers wat die geleentheid met albei hande aangegryp het.

“Jongelinge soos die loskopstut Dylan Malgas, die flank Ad Cilliers en die senter Wayne Davenhill het die aandag op hulle gevestig, en hulself die onderskeie posisies toegeëien.”

Die spanbestuurder sê die huidige hegte groep speel puik as ʼn span saam.

“Geen speler is groter as die span nie, en die afrigters het uitmuntend daarin geslaag om dit by hulle te laat insink.

“Hierdie ingesteldheid, tesame met ʼn gesonde mededinging om plek in die span, het Raiders aansienlik versterk, en die verwagting geskep dat die groep spelers op die punt staan om iets besonders te bereik.”

Daniels sê die span waak daarteen om te ver vooruit te wil kyk, en pak die reeks wedstryd vir wedstryd aan.

Die klub moes hard werk om te kom waar hy is, en dit het nie altyd maklik gegaan nie.

“Raiders boks deurgaans sonder ʼn borg in ʼn gewigsafdeling bo sy eie, waar hy in die Leeus se topliga teen swaargewigte soos die Pukke en UJ (wat hy albei vanjaar geklop het) moet meeding.

“Uit ʼn geldelike oogpunt voer die klub dus ʼn voortdurende opdraande stryd,” sê Daniels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.