Raiders klop ERU; Randfontein kry aanwinste

ERUembleemRaiders van die Goue Leeus moes Saterdag hard werk om East Rand United (ERU) van die Valke in `n spannende vriendskaplike wedstryd op die Bill Jardinestadion in Industria onder te sit.

Die eindtelling was 40-34.

Raiders het verlede jaar nog aan die oop klubs se nasionale reeks om die Gemeenskapsbeker deelgeneem.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die skare is op aantreklike hardlooprugby getrakteer en elk van die spanne het ses drieë gedruk.

“Raiders was gemaklik voor totdat ERU met sy kenmerkende terugvegpoging begin het.  Die telbord sou anders gelyk het as ERU se losskakel sy skopskoene aangehad het.

“Die Oos-Randers se afrigtingspan is tevrede met die span se vertoning tot dusver,” sê Booysen.

ERU se laaste vriendskaplike wedstryd komende Saterdag is moontlik teen Harlequins van Pretoria, voordat die Valkeliga op 5 Maart begin en die span van Reigerpark in sy eerste ligawedstryd teen die studente van NWU Vaal speel.

randfontein♦ Dana van Vuuren, Randfontein se voorsitter, sê die klub het `n klompie goeie aanwinste gekry.

Dit sluit die stutte Cayle Denner (Vodacombekerrugby vir die Luiperds) en Ryno Bosman (Goue Leeus o.21 en UJ-Varsitybeker) in; De Wet Brits, `n losvoorspeler van die Pukke af, en Ito Mpete (vleuel van die Goue Leeus se amateurspan) wat sy studies aan die UJ voltooi het. Mpete het voor hy gaan studeer het vir Randfontein o.21 gespeel.

Die Teine het twee staatmakers in LJ van Heerden (stut) en  Herman van Eck (losvoorspeler) verloor. Albei het verlede jaar saam met Mpete vir die Leeus se amateurspan gespeel.

Randfontein neem Saterdag met `n senior en `n junior span aan die Goue Leeus se sewestoernooi by Pirates deel.

Die klub gaan `n biertuin by die Randfonteinse Skou van 3-6 Maart 2016 by die Greenhills-sportstadion bedryf om geld in te samel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.