Ralepelle en Kirchner toer saam met die Bokke

Zane Kirchner en Chiliboy Ralepelle sal saam met die Springbokspan toer en beskikbaar wees vir die volgende twee toetse in Australasië in die Castle Lager Rugbykampioenskap.

Ralepelle is die derde haker in die toergroep. Hy moes die Argentynse been van die toer misloop weens ‘n rugbesering. Alvorens hy Saterdag kan vlieg, moet hy nog ‘n fiksheidstoets ondergaan.

Die Springbokgroep van 28 spelers vertrek via Sydney na Brisbane vir die toetse teen Australië in Queensland op 7 September en Nieu-Seeland in Auckland op 14 September.

“Dit gaan ‘n moeilike twee weke wees teen twee van die beste spanne in die wêreld en soos ons verlede naweek teen Argentinië gesien het, kort hierdie span nog baie afwerking,” het die Springbokafrigter, Heyneke Meyer, gesê.

“Die Springbokke kon nog nooit in Australië in die Suncorp-stadion wen nie en ons laaste wen op Eden Park was 1937.

“Australië mag dalk sy eerste twee wedstryde in die kampioenskap verloor het, maar hy het verlede naweek in Wellington baie verbeter.

“Hy is altyd ‘n moeilike opponent tuis; die Springbokke se laaste oorwinning daar was in 2009 en ons het slegs drie uit 18 wedstryde teen Australië in hierdie kompetisie gewen.

“Ons kom Donderdag (vandag) bymekaar en sal baie hard moet werk die volgende 10 dae. Ons het onsself teleurgestel in Mendoza en ons sal daardie foute moet regstel as ons kompeterend wil wees teen Australie,” het Meyer aan die media gese.

Die 28-man Springboktoergroep na Australië en Nieu-Seeland is:

Voorspelers (16): Lourens Adriaanse, Willem Alberts, Marcell Coetzee, Bismarck du Plessis, Jannie du Plessis, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Juandré Kruger, Francois Louw, Tendai Mtawarira, Coenie Oosthuizen, Chiliboy Ralepelle, Gurthrö Steenkamp, Adriaan Strauss, Flip van der Merwe, Duane Vermeulen.
Agterspelers (12): Bjorn Basson, Jean de Villiers (k), JJ Engelbrecht, Bryan Habana, Zane Kirchner, Patrick Lambie, Willie le Roux, Ruan Pienaar, Jan Serfontein, Morné Steyn, Piet van Zyl, Jano Vermaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.