Ramos se wenskop laat Vlok glimlag

Thomas Ramos laat waai met die regtervoet teen Engeland. (Foto: Jeff Pachoud/AFP)

Thomas Ramos het laat Saterdagaand in Lyon agter die skopkelkie aangetree, ʼn kort aanloop gegee en die bal suiwer oor die dwarslat gejaag om die wedstryd vir sy span te beklink.

Frankryk het Engeland in die finale Sesnasieswedstryd van 2024 met 33 – 31 geklop om die toernooi in die tweede plek af te sluit.

Iewers tussen die duisende toeskouers wat die Parc Olympique Lyonnais se pawiljoen volgepak het, het ʼn tevrede Vlok Cilliers sake dopgehou. Die Hane se Suid-Afrikaanse skopmeester stap immers al ʼn lang pad saam met Ramos.

“Ja, die senuwees het maar geknaag,” het die voormalige Springbok-speler Woensdag aan Maroela Media bevestig.

“Spanning in só ʼn situasie is beslis menslik. Maar terselfdertyd weet jy ook dat die skop binne sy vermoë is en dat hy die druk kan hanteer.”

Ná ʼn teleurstellende aanloop tot die toernooi, is Cilliers tevrede met wyse waarop die span verrigtinge kon afsluit.

“Ek dink ons het uiteindelik baie goed gedoen; veral ná ons slegte begin teen Ierland. Dit was een van ons swakste vertonings van die afgelope vier jaar.”

ʼn Begeesterde Ierse rugbyspan het die Hane se vere ordentlik op die Stade Velodrome in Marseille gepluk om die kragmeting met 38 – 17 te beklink.

Frankryk was weliswaar sonder ʼn paar sterspelers – lees asseblief hier ook die name van Antoine Dupont en Romain Ntamack – maar die span se vurige ondersteuners het swaar aan dié onverwagse groot nederlaag gesluk.

Selfs Ierland se Tadhg Beirne het erken dat die uitslag die besoekers so ʼn bietjie onkant betrap het.

Vlok Cilliers saam met Thomas Ramos (Foto: Verskaf)

“Nadat ons ook amper teen Skotland en Italië verloor het, het ons ʼn paar van ons beste spelers weer vir die laaste twee wedstryde tot ons beskikking gehad. Ons kon dinge weer mooi in ons guns swaai.”

Cilliers is tans in Suid-Afrika nadat hy Sondagoggend vroeg die direkte vlug terug na Kaapstad gehaal het. Moet ook nie dink hy sit stil voordat hy in Junie weer na Frankryk terugkeer nie; VlokSkop-pligte hou hom besig.

Benewens sy droom om studente finansieel by te staan, woeker hy ook om ʼn skoolbussie vir ʼn plaaslike skool te bekom.

Cilliers het in Januarie ʼn kontrak onderteken wat hom tot 2027 in Frankryk sal hou.

“As afrigter wil ek natuurlik nog verbeter en meer leer oor die spel. Maar die belangrikste is om Frankryk die wêreldkampioenspan te maak.”

Sal hy weer in Suid-Afrika wil afrig – hy het immers vantevore ʼn slag saam met die Blou Bulle geslaan?

“Dit is moeilik om te sê; dit is iets waaraan ek nog nie veel gedink het nie. Tans fokus ek op een wedstryd op ʼn keer saam met Frankryk.”

Frankryk se Sesnasies-uitslae:

17 – 38 teen Ierland

20 – 16 teen Skotland

13-elk teen Italië

45 – 24 teen Wallis

33 – 31 teen Engeland.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Ag aaseblief,Colliers sit nie tussen die toeskouers nie,hy dra die skopkelkie aan vir Ramos.Is dit nie die einste Ramos wie se skop teen die bokke deur ‘n vlugvoetige Kolbie afgestorm is nie,en dit een van die redes was hoekom die Franse verloor het,o ja en generaal Pollie se kanonvoet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.