Rassie: Afrigters benodig kontinuïteit vir sukses

Rassie Erasmus (Foto Munsterrugby.ie)

Verlede week, reeds voor die Wallabies-fiasko, het die Springbokke se afrigter, Rassie Erasmus, laat blyk sy kop is op ʼn blok en dat die span moet begin wen of hy kan dalk as afrigter vervang word.

Regtig?

By al hul ander tekortkominge en foute die afgelope tyd, kan SA Rugby net eenvoudig nie so kortsigtig wees nie.

Wie gaan Erasmus vervang? Hoe lank gaan die proses wees om sy opvolger aan te stel en die kontraktuele sake af te handel? Wie sal sy assistente wees? Hoe lank gaan hy neem om sy uitsoekspelers te identifiseer en oorsese goedkeuring vir hul vrystelling vir Springbok-toetse te kry?

Ja, dit gaan oor kontinuïteit.

Dit is insiggewend dat die vyf afrigters wat lank by die Springbokke betrokke was, die beste wenpersentasies het: Kitch Christie (14 toetse; 100%), Nick Mallett (38; 71,05%), Jake White (54; 66,67%), Heyneke Meyer (48; 66,67%) en Peter de Villiers (48; 62,5%).

ʼn Mens hoef nie veel verder as die 1980’s te delf om te sien watter slegte gevolge die vervanging van afrigters op toets- én provinsiale vlak tot gevolg gehad het nie.

♦ Jy kan dit gaan haal by Louis Luyt en sy ongeduld oor die Curriebeker-sukses wat weggebly het.

Hy het spelers gekoop, grootliks van Noord-Transvaal en die Oostelike Provinsie, en ʼn rits gesiene afrigters soos Pa Pelser, Apies du Toit, Derek Minnie, Ray Mordt, Kitch Christie, die voormalige All Blacks-afrigter Laurie Mains, die oud-All Blacks-flank Alex Wylie, Dawie Snyman, Koos Ehlers, Hugo van As en Harry Viljoen as afrigters ingespan en afgedank as daar nie feitlik onmiddellike sukses was nie.

Die gevolg? Elke keer moes die nuwe afrigter van vooraf begin, sy eie spelers kies, dié van sy voorganger by sy eie metodes en spelpatroon laat aanpas ‒ en als sonder sukses.

Dit was eers in 1993, nege jaar nadat Luyt in 1984 president van Transvaal geword het, dat hulle hul eerste Curriebeker sedert 1972 kon wen.

♦ John Williams is – ná ʼn mini- goue era van Noord-Transvaal tussen 1987 en 1991 toe hulle in dié vyf jaar vier Curriebeker-titels gewen het (een is met die Westelike Provinsie gedeel) –  in 1992 as die Bokke se afrigter aangestel.

Sy eerste toets as afrigter was teen die All Blacks in 1992, toe Suid-Afrika ná die skorsing oor sy politieke beleid, tot internasionale rugby hertoegelaat is. Die Springbokke het op Ellispark met 24-27 verloor, en die week daarna op Nuweland met 3-26 teen die Wallabies slae gekry.

Williams se tydperk as afrigter is ná die toer na Frankryk en Engeland beëindig en hy is ná vier neerlae en een oorwinning deur Ian McIntosh vervang.

♦ Die groot aantal Nood-Transvaalse spelers onder Williams moes plek maak vir die Natalse spelers wat Ian McIntosh vir sy 12 toetse as afrigter ingesluit het. Hy het ses van sy 12 toetse verloor, vier gewen en twee het gelykop geëindig.

Luyt, toe reeds president van die ou Sarfu, het hóm in die pad gesteek.

Kitch Christie – hy het Transvaal reggeruk en op die wenpad geplaas

♦ Toe is Kitch Christie as nasionale afrigter aangestel. Hy het sy sukses by Transvaal/Goue Leeus voortgesit in ʼn onoorwonne rekord in sy 14 toetse as Bokafrigter met die Wêreldbeker-titel in 1995 as die hoogtepunt.

Toe hy weens siekte moes halt roep, is daar weer by die Goue Leeus met ʼn afrigter rondgeval. Hulle het in 1996 in die Curriebeker-eindstryd groot pak gekry, in 1999 die Curriebeker gewen, in 2002 in die eindstryd verloor en toe eers weer in 2007 in die eindstryd gespeel (en verloor).

♦ En wat van die Blou Bulle en Bulls wat in Suid-Afrika die eerste dekade van die nuwe millennium oorheers het?

In 2000 het die nuwe afrigter Heyneke Meyer net een van die Superrugby-wedstryde, die heel laaste van die reeks, gewen. Hy is nie vir die Curriebeker-reeks aangestel nie en Phil Pretorius was in 2001 die Bulls-afrigter.

Meyer het egter in 2001 die Blou Bulle se Curriebeker-span afgerig en swak gevaar. Hy is nietemin as die Bulls se afrigter vir 2002 aangestel, het die Vodacombeker gewen, en die Blou Bulle Maatskappy het met hom volhard.

En toe kom die beloning: vyf Curriebeker-eindstryde ná mekaar. Die Blou Bulle wen die Curriebeker in 2002, 2003 en 2004, verloor in die 2005-eindstryd, deel die titel in 2006 met die Vrystaat, verloor die 2008-eindstryd en wen in 2009 in ʼn tydperk waar Pote Human ook die Curriebekerspan onder hande geneem het.

Kontinuïteit. Meyer wen toe ook in 2007, 2009 en 2010 die Superrugby-titel.

♦ Kontinuïteit? Buurman van Zyl het Noord-Transvaal elf jaar lank (1973-’83) afgerig. Toe hy in 1976 weens siekte nie kon afrig nie, het die Ligbloues die enigste keer in daardie tydperk nie die eindstryd gehaal nie.

Daar is nog vele voorbeelde. Soos Carel du Plessis wat as Springbok-afrigter afgedank is, maar toe sy laaste toets teen die Wallabies met 61-22 wen; van Dawie Snyman wat, ná die rondvaltydperk vir ʼn wenafrigter by die WP, die Curriebeker-rekord vir ʼn afrigter van vyf opeenvolgende oorwinnings tussen 1982-’86 behaal het; Dick Muir se sukses by die Sharks en die gesukkel toe hulle daarna vir Jake White, Gary Gold en Robert du Preez kort ná mekaar gehad het … en so kan jy aangaan.

Ja, kontinuïteit is die wagwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

boerseun ·

Rassie, die goue word is “transformasie”. Dit is mos al wat vir julle saakmaak, n kompeterende span wat n x hoeveelheid spelers van elke kleur het. Ergste is daar is nog van julle wat dit kyk met die idee SA gaan enige iets bereik in toekoms.

volla ·

Hy kan onmiddellik vervang word deur Nick Mallett, ‘n afrigter met ‘n bewese rekord as Bok-afrigter en ook ‘n persoon wat duidelik nog in voeling is met die opset en spel in SA as gesoute annalis/kommentator wat tans nog diens doen.

bloues ·

Proudfoot het mos nou pertinent gestel dat transformasie die belangrikste is? Dan is my afleiding dat wen die tweed belangrikse is.
Hoekom dan nog enigsins die Bokkies ondersteun.
Ek gaan Saterdag visvang sonder n radio.

Jakkalas ·

Ek is oortuig politiek het grootliks te veel ingemeng met sport. Ons toeskouer/ondersteuners is ook te ongeduldig met die bokke. Dus is die enigste versekering wat afrigters het is dat hy sy werk gaan verloor. Die grootste probleem is by die top bestuur. Hulle hoort nie daar nie. Die Leeus het verloor en is selfs uit Super rugby geskop(danksy politiek) en bestuur het volhou met die spelers en afrigters. Vandag is hulle die beste span in SA. Byt vas en vat die houe op die ken en daar sal wel sukses kom.

Veritas ·

Rassie is nie die probleem nie. Die feit is dat SA nie meer oor die gehalte spelers beskik, wat Springbokrugby op die kruin van die golf gehou het nie. Ons waarlik talentvolle jong spelers speel in die buiteland omrede ons regering dit vir hulle onmoontlik maak om hulle volle potensiaal tuis te bereik.

Paul ·

Maar hy gee die spelers die skuld. Plaas dat hy dit op die regering se skouers pak of die administrateurs, of die stelsel, of homself, maar nee.

Johan ·

Miskien moet Rassie leer dat transformasie en rasse kwotas nie ‘n plaasvervanger vir in form en kwaliteit spelers is nie; nog minder is kleur die kriterium vir kapteinskap – prestasie is wel en die Stormers se rekord onder die springbok kaptein spreek vanself

Springbokke ·

Die Springbokspan het net 7 ware goeie spelers – die ander is net daar vir ‘transformasie’ of kleur.
Dis is so maklik soos dit.

Dereck Le Roux. ·

Toeskouers het die laaste seggenskap, bly weg van die stadions af as jy ontevrede is met die politieke getjommel op die rugbyveld, lee paviljoene is gelykstaande aan oortrokke bankrekeringe by SARU en by die plaaslike unies en as dit moet laat hulle die bankrotskap paadjie loop maar hoe meer ons dit ondersteun by die stadions hoe meer gaan ons met die afgewaterde politieke getjommel opgeskeep sit met die nasionale afrigters wat klei trap op die rugbyvelde en met die een verskining na die ander verskoning vorendag te kom.

Gideon ·

Al wat ek wil sê is dat Suid Afrika moes nooit toegelaat het dat Johan Ackerman gaan nie want hy is die antwoord vir suidafrikaanse rugby.

Albert ·

Ek stem saam met Dereck die toeskouers het die laaste se. Solank as wat hulle die toerse ondersteun hoe meer gaan hulle transformeer, bly weg dan sal daar iets gebeur. Sodra die pawiljoene leeg raak sal die borge sien daar is fout en sal hulle SARU aanspreek of ontrek. Soos dit nou is, is ons by die afgrond met ons rugby.

Herman Goosen ·

Nie eintlik Gideon. Geen afrigter kan sukses behaal as die regte spelers nie in die span is nie. Soms is die regte kombinasie selfs meer belangrik as die beste spelers. Dit maak nie saak wie Rassie gaan vervang nie sedert swak beleid enige afrigter se statistieke sal benadeel. Sodra dinge baie sleg gaan sal SARU noodgedwonge hul kwotas verslap, en dan maar net weer afdwing wanneer die publiek Springbok rugby weer begin ondersteun om maar net die sukses weer af te breek. Die afrigter is bloot die salaristrekker wat die swak beleid ondersteun ter wille van ‘n goeie inkomste maar een ding is verseker: ‘n Springbok afrigter is ‘n loopbaan en reputasie vernietiger

ACJ ·

Sê nou vir my wie is die regte spelers in die span wat moet speel volgens jou.

John ·

Alweer die voorry wat moet red vir die bang afrigter en die werk moet doen in ons football-wedstryd. En die swartspan gaan weer draaie om ons hardloop en Rassie is weer diep geskok dat hulle, sonder sy afrigting, regtig nie met ‘n beter plan vorendag kon kom nie. En die kaptein het gepleit en gepleit selfs gehuil, maar die rassistiese… nie Rassie nie… rassistiese dom oouu spelers luister mos nie… so tipies. Gooi hulle uit…

Jacques ·

Daar is geen maar geen manier dat die bestaande Springbokspan met die huidige Afrigtingspan binne ‘n week iets gaan verander sodat ons die ALL BLACKS gaan wen nie. Die Springbokke gaan maar net weer verneder word hierdie naweek.

Niklaas ·

Laat ons maar hoop dat daar nie weer n telling van iets soos 0-57 vir die magtige AB span , Saterdag ons naweek gaan bederf nie. Dit is sommer baie moontlik , maar ons moet maar duim vashou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.