Rassie bly – vir eers

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber. (Foto: Twitter/Springbokke)

Volgens Rassie Erasmus is daar nie noodwendig ʼn vuurtjie waar daar ʼn Ierse rokie trek nie.

Daar word die afgelope ruk gereeld in die media bespiegel dat die Wêreldbeker-wenafrigter kort op Jacques Nienaber se hakke sal volg: Die pad na Ierland wink immers waar hy David Nucifora se skoene as die Iere se hoëprestasie-bestuurder kan volstaan.

Die 50-jarige Nienaber het vroeër aangedui dat die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk sy laaste wedstryde as hoofafrigter van die Springbokke sal wees. Hy sal ná die internasionale rugbyskouspel by Leinster se afrigtersgroep inskakel.

“Nee, ek gaan nie [Ierland toe nie],” het Erasmus Maandag tydens ʼn mediasessie gesê.

“Daar was nog geen gesprekke nie en daar steek geen waarheid in die gerugte nie. Ek weet nie waar dit begin het nie, maar ek volg nie vir Jacques na Ierland nie,” het SA Rugby (Saru) se direkteur van rugby gesê.

Erasmus was in 2019 aan die stuur van die Springbok-span wat die Webb Ellis-trofee in Jokohama omhoog gehou het. Sedertdien trek hy die toutjies as SA Rugby se direkteur van rugby.

Rian Oberholzer het vroeër bevestig dat Erasmus vir nog ʼn seisoen of twee deel van die Springbok-opset sal bly.

“Ons sal weldra ʼn nuwe Springbok-afrigter [in Nienaber se plek] aanwys, maar Rassie Erasmus is deel van die opset tot ten minste 2025,” het Saru se tydelike uitvoerende hoof destyds gesê.

Vir eers is Erasmus en kie se volle aandag op die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog in Frankryk waar ʼn belangrike groepwedstryd teen Ierland op die span wag.

Die oud-Springbok was vir ʼn paar seisoene Munster se afrigter en hy weet dat die Iere rateltaai rugbyteenstanders is.

“Ons sal hard moet werk en alles op die veld gee. Benewens Ierland se goeie aanval- en verdedigingstrukture is hulle tegnies ook baie korrek,” het hy gesê.

Hy het die ervare Johnny Sexton as een van die Iere se gevaarmanne uitgesonder.

“Toe ek by Munster was, het ons net een keer met Leinster afgereken. Wanneer Johnny in die span is, gebeur dinge op die veld en hy het nie net ʼn invloed op sy eie span nie, maar ook op sy teenstanders.”

Tog sal Rassie Erasmus altyd gereed wees om ʼn haas uit die hoed vir die Springbokke te pluk.

Dit is nie eens altemit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael ·

Rassie was al die tyd steeds die afrigter,, het nooit die pligte van direkteur van rugby uitgevoer nie. Nienaber was altyd steeds net hulpafrigter, maar met titel en salaris van hoofafrigter. Rassie het mooi vir hul tweetjies gesorg

Sobymykoolkop ·

En jou punt is…….Baie seker lanie Rassie sal hom nie aan jou opinie steur nie

wiesalweet ·

George – en hoe weet jy dit?? Kuier jy saam met hom? Slegs dan kan jy ‘n opinie lig.

JohanR ·

Dink al die monde sal stil wees as Jacques en Rassie weer die goue beker huis toe bring…..vir die 4de keur!

Chris ·

Ek is nie meer ‘n rugby ondersteuner soos ek hele paar jaar gelede was nie. Ek lees maar en kyk so nu en dan wat met die rugby konsert aangaan. Ek is net onrustig en vry myself, myself wie is die volgende Springbok afrigter. Ek kan nie nou aan iemand dink nie, nie dat ek enigsins op hoogte van SA rugby of enige ander rugby is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.