Rassie en Gatland verander byna niks

Wanneer dinge voor die wind gaan met ʼn rugbyspan, word daar maar min kopgekrap wanneer span gekies word.

Dit was die geval met die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, én sy Walliese eweknie, Warren Gatland, toe hulle Donderdag hul spanne bekend gemaak het vir Saterdag se kragmeting in die Principality-stadion in Cardiff (afskop 19:20).

Erasmus het die eerste keer in 14 toetswedstryde, sedert hy by Allister Coetzee oorgeneem het, dieselfde span behou as die een wat Skotland verlede Saterdag met 26-20  op Murrayfield geklop het.

Erasmus het net een verandering by die plaasvervangers aangebring.

Die slot Eben Etzebeth, wat die afgelope twee toetswedstryde weens ʼn enkelbesering misgeloop het, is in Lood de Jager se plek op die bank gekies.

Etzebeth was in 71 van sy 74 toetswedstryde in die opdrafspan en was nog slegs drie keer, in 2013, 2014 en 2015, een van die plaasvervangers.

Hy sal beslis in die tweede helfte, wanneer RG Snyman se asem begin kort raak, opgestuur word om die kole te gooi.

Gatland was genoodsaak om slegs een verandering aan die span te maak wat die Wallabies sowat twee weke gelede met 9-6 geklop het. Die beseerde heelagter, Leigh Halfpenny (harsingskudding), word deur Liam Williams vervang.

Gatland rig die Walliese span sedert 2007 af en weet presies watter spelers die nodige vaardighede vir toetsrugby het. Hy het Donderdag gesê daar is diep gedink, maar dit kon darem eintlik nie te moeilik gewees het nie.

Wallis, wat in agt agtereenvolgende toetswedstryde onoorwonne is, het reeds sy merk met die oog op die Wêreldbeker-toernooi gemaak terwyl die Springbokke nog moet skaaf, maar dis duidelik dat albei afrigters op hul kerngroepe vir aanstaande jaar se toernooi in Japan besluit het.

Hoe verskil die spanne van dié wat aan die einde van verlede jaar, óók in Cardiff, kragte gemeet het en wat deur Wallis met 24-22 gewen is?  (Kom ons vergeet van Junie se toetswedstryd in Washington, want dit was niks anders nie as twee raap-en-skraap-groepe wat die twee rugbylande se beursies moes laat bult het.)

Baie.

Net twee Walliesers, die gewese Nieu-Seelandse senter Hadleigh Parkes (dit was sy debuuttoets vir Wallis) en die ervare slot en Walliese kaptein Alun-Wyn Jones van daardie opdrafspan speel weer teen die Bokke.

Jesse Kriel, Handré Pollard, Steven Kitshoff, Malcolm Marx, Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit was in die Bokke se beginspan.

Maar daar het sedertdien baie water in die see geloop en onder Erasmus is daar nou bestendigheid, al is die Bokke se wenrekord nog nie na wense nie.

Spanne ‒

Wallis
15 Liam Williams, 14 George North, 13 Jonathan Davies, 12 Hadleigh Parkes, 11 Josh Adams, 10 Gareth Anscombe, 9 Gareth Davies, 8 Ross Moriarty, 7 Justin Tipuric, 6 Dan Lydiate, 5 Alun Wyn Jones (kaptein), 4 Adam Beard, 3 Tomas Francis, 2 Ken Owens, 1 Nicky Smith. Bank: 16 Elliot Dee, 17 Rob Evans, 18 Dillon Lewis, 19 Cory Hill, 20 Ellis Jenkins, 21 Tomos Williams, 22 Dan Biggar, 23 Owen Watkin.

Suid-Afrika
15 Willie le Roux, 14 Sbu Nkosi, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Embrose Papier, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 RG Snyman, 3 Frans Malherbe, 2  Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank:  16 Bongi Mbonambi, 17 Thomas du Toit, 18 Vincent Koch, 19 Eben Etzebeth, 20 Francois Louw, 21 Ivan van Zyl, 22 Elton Jantjies, 23 Cheslin Kolbe.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henk ·

Erasmus, jou voorganger was hardkoppig en het geweier om die beste binnesenter te kies. n Posisie wat gevul moet word deur iemand wat kan side step, n lyn kan reguit maak, gapings kan skep en kan sorg dat die vleuels die bal kry. Dis nou daai twee ouens met 11 en 14 op die rug en nie 1 tot 8 wat gewoonlik in SA spanne die posisie vul nie. Maar om terug te kom na jou nr 12. Hy kan nie eens behoorlik die afgesaagde stampkar rugby ding doen nie, maar jy klou aan hom!

Boerseun ·

Henk, wie is jou alternatief? Al SA se binne senters huidiglik speel stamp kar rugby. Dealende doen dit net beter as die ander. Al die provinsies sal hulle wedstryd planne moet verander en daarvolgens span moet kies. Rasse het nie veel opsies hier nie.

kallie ·

Ek het lanklaas enige internasionale senter gesien wat kan sidestep en gapings slaan. So skaars soos hoendertande, verdediging is te goed onder toplande op toetsvlak .

nico k ·

Stem saam dat binne senters nie meer geleentheid het vir gapings vat nie. Die losvoorspelers is te vinnig op hulle. Daarom kies hulle die sterk man om die bal te kan vasmaak.

Faan ·

Gaan soek die senter wat aan julle norme voldoen in Natal. Sy naam is Marius Louw.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.