Rassie en Jacques lag nou baie lekker

rassie-erasmus-rugby

Rassie Erasmus (Foto: Munster Rugby)

Een van die grootste foute wat Suid-Afrikaanse rugby begaan het, was om Rassie Erasmus deur sy net te laat glip.

Die tweede grootste fout was om sy verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, ook na Munster in Ierland te laat gaan.

Nienaber, ʼn oud-fisioterapeut, het veral onder Erasmus in die Kaap in een van die land se beste verdedigingsafrigters ontwikkel.  Hy het ook ʼn lang paadjie as kondisioneringsafrigter (en verdedigingsafrigter) by die Cheetahs, die Cats, Westelike Provinsie, Stormers, Junior Bokke en die SA skolespan gestap.

Gaan kyk maar hierdie spanne se vertoningslyste. Dit was nie maklik om drieë teen hulle te druk nie.

En vanjaar by die Bokke?

Die Bokke het in die Rugbykampioenskap, toe Chean Roux in beheer was, 22 drieë afgestaan; die All Blacks net vier en die Wallabies 16. Eina!

Roux is vir die jaareindtoer vervang, maar steeds het die Bokke heelwat drieë teen die Barbarians, Engeland, Italië en Wallis deurgelaat.

Kom ons kyk hoe Munster ná ses maande onder die afrigting van Erasmus en Nienaber vaar.

By die halfpadmerk van die Pro12-liga is Munster eerste op die puntelys, twee punte voor die Ospreys. Munster het reeds 431 punte aangeteken en 53 drieë gedruk. Munster het net 17 afgestaan, die minste van enige span in die reeks.

Erasmus en Nienaber het nie die wiel herontdek nie, hulle het net voortgebou op die sterkpunte van die span.

Daar is ʼn sterk Suid-Afrikaanse geur in die span met spelers soos CJ Stander (hy speel darem al jare lank in Ierland), Jaco Taute (wat die  tweede voorste driedrukker is ná net twee maande by die klub), Jean Kleyn, Thomas du Toit en ook Abrie Griesel, die oud Cheetah- en Blou Bul-skrumskakel, wat ʼn paar weke gelede sy buiging gemaak het.

Thomondpark, waar Munster sy tuiswedstryde speel, was vyf keer die seisoen stampvol en 26 200 toeskouers woon gemiddeld wedstryde by.

Munster was verlede seisoen in die moeilikheid, maar toe vat hulle raak deur Erasmus en Nienaber te lok.

En nou sit SA rugby met die gebakte pere.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

William ·

Stem 100% saam, uiters swak artikel!
Is daar geen gehaltebeheer wat ‘n artikel lees voordat dit gepubliseer word nie??

Milan Bye ·

Baie dankie vir die uitwys van die herhalings in die paragrawe. Ons vra om verskoning daarvoor.
Uiteraard streef ons daarna om ons artikels so goed en korrek moontlik aan te bied en ons gaan elkeen taalkundig en ook feitelik na. Foute het egter `n manier om in te glip maar dit is iets wat ons uiteraard probeer vermy.
Ons het die foute reggestel – en weer eens, verskoning daarvoor!

Louis ·

S A rugby gaan nog lank sit met gebakte pere, wil mos persone aanstel om die A N C tevrede te stel , die komende jaar gaan erger wees as laas jaar, paviljoene was reeds halfvol laas jaar

Jo ·

Ai, ai soveel volmaakte mense in die ou land van ons. Aanvaar tog nou net die verskoning wat Maroela aanbied OF JOU OP OM DIT TE LEES! Jy betaal nie eers daarvoor nie

Deon ·

Jo – het jy daaraan gedink dat Waghond dalk verwys na die onderwerp van die artikel en dus praat van die aanstellings in SA rugby? Want as dit die geval is, het Waghond ‘n goeie punt beet, ek sê maar net….

Riaan ·

Stem saam Deon. Mens dink partykeer te vinnig. Eks maar self skuldig daaraan.

Aubrey Vermaak ·

Ek het nou vir n paar maande hier berigte gelees oor buitelandse rugby waar SA spelers gedy. Oral oor druk hulle driee, skop spanne deur na volgende rondtes. Maar toe daai groot name hier gespeel het kon hulle nie eintlik hond haar af maak nie. Na baie kop krap en denke kon ek eintlik net by een ding uitkom-GELD. Skielik is spelers wat hier so beseer was weer topfiks-druk drieee vir n vale. Dis maklik om ons afrigters te blameer maar as jy rugby speel dan weet jy mos hoe jy moet verdedig,skop en hardloop. Ek het vir jare rugby gespeel -van 1979 af tot 1999. En ons het gespeel vir n vale. Om te wen. Almal was toe ingestel op wenrugby. Maar nou dink ek die trots is weg deur alle probleme soos administrasie en bekommernisse oor die toekoms. Wat n jammerte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.