Rassie en kie. wys klipharde spel kan Leeus tem

Franco Mostert en Eben Etzebeth trek vir Maro Itoje plat. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Die Britse en Ierse Leeus het gisteraand op die Kaapstad-stadion besef daar is ’n groot verskil tussen Suid-Afrikaanse provinsiale spanne en ’n vermomde Springbokgroep.

Die toerspan het hul eerste nederlaag van hul Suid-Afrikaanse safari gely toe ’n SA A-span – gelaai met Wêreldbeker-wenners – hulle met 17 – 13 geklop het.

Toegegee, dit was seker nie die sterkste Leeus-kombinasie nie (Alun Wyn Jones is ook nog op pad nadat hy van sy besering herstel het), maar Cheslin Kolbe-hulle het gisteraand gewys dat die besoekers inderdaad getem kan word.

Die Suid-Afrikaners het ’n fisieke eerste helfte oorheers om ’n rustydvoorsprong van 17 – 3 te geniet, maar hulle moes later bontstaan om die Leeus van hul doellyn weg te hou.

Hoewel die besoekers – en veral hul agttal – die laaste 40 minute van die wedstryd oorheers het, het die tuisspan briljant verdedig om die wedstryd te wen. O ja, daardie twee drieë wat nie toegeken is nie, het beslis ook in die Suid-Afrikaners se guns getel.

“Ons het verwag dat die ouens ’n bietjie stoom teen die einde gaan verloor nadat hulle vir ’n week in hul hotelkamers gekluister was en net twee keer saam as ’n span kon oefen.  Die twee geel kaarte (Faf de Klerk en Marco van Staden) het ook nie gehelp nie,” het Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, gesê.

Hy het die Suid-Afrikaners vir hul moed en durf geloof, maar terselfdertyd ook gewaarsku dat ’n soortgelyke vertoning in die toetse waarskynlik nie ’n reeksoorwinning sal verseker nie.

“Hierdie wedstryd was die perfekte doepa vóór die eerste toets, juis omdat al twee spanne met die louere wou wegstap.”

Toe die tuisspan op die veld draf, het die A-Team se temamusiek oor die stadion se luidsprekers gespeel. En oudergewoonte het die uitgeslape Rassie Erasmus se planne gewerk.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika A: Drieë: S’bu Nkosi en Lukhanyo Am. Doelskoppe: Morné Steyn (2). Strafskop: Steyn.

Britse en Ierse Leeus: Drie: Wyn Jones. Doelskop: Owen Farrell. Strafskoppe: Farrell (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Die voorry het gesukkel, veral Nyakane en later Oosthuizen en Koch. Rassie sal die probleem moet regstel.

MakersMark

Die “one trick ponies” se trick werk toe…..skrums het hul ons gehou, maar by die afbreekpunte en verdediging het SA A hul pap gespeel. So as die “one trick” werk is geen ander “tricks” nodig nie ………

Anton

Die Sharks se tweede span het dit al gewys