Rassie Erasmus druk Wêreldrugby in ’n hoek

Rassie Erasmus. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van afrigting, het ’n web om Wêreldrugby geweef waaruit die rugbybase gaan sukkel om hulle los te wikkel.

Erasmus het Donderdagoggend ’n video van 62 minute uitgereik waar hy  videogrepe uitwys waar hy glo die Springbokke in verlede Saterdag se eerste toets in Kaapstad teen die Britse en Ierse Leeus te na gekom is en daar nie genoegsame respek aan die Bokke, en veral nie aan die Bok-kaptein, Siya Kolisi, betoon is nie.

Erasmus, teen wie daar na alle waarskynlikheid opgetree sal word, het veral die Australiese skeidsregter Nic Berry laat deurloop vir ooglopende foute wat hy, asook die twee assistent-skeidsregters, Ben O’ Keefe en Matthieu Raynard en die televisieskeidsregter, Marius Jonker, begaan en oorgesien het.

Die Leeus het met 22-17 gewen en Erasmus wou reeds Sondagmiddag met Berry gesels het om duidelikheid oor sy beslissings te kry.

Wêreldrugby het eers Dinsdagoggend op Erasmus se klagtes gereageer, maar Donderdag is Erasmus se video op die Vimeo-patform geplaas wat toe wyd en syd deur nuuswebwerwe en op sosiale media versprei is.

Erasmus het veral die Bok-drieë wat nie toegeken is nie en die boorvat op Willie Roux (deur die Leeus se plaasvervanger-flank Hamish Watson) uitgelig.

Rassie Erasmus se teenwoordigheid langs die veld maak mense vies. Foto: Twitter.

So ook ʼn laatvat deur Tom Curry op Faf de Klerk, Kwagga Smith wat gestraf is omdat hy nie van ʼn losskrum af wegrol nie, terwyl verskeie Leeus dieselfde oortreding begaan het, maar oorgesien is.

Daar is ook verskeie voorbeelde van ontkantspel en skrumoortredings, waar die Bokke gestraf is, maar nie die Leeus nie.

Ook word die voorval toe Maku Vunipola vir Cheslin Kolbe (wat in die lug gestamp is en hard geval het) oplig toe hy die bal probeer kry, pertinent uitgewys.

Reg of verkeerd, daar gaan nooit saamgestem word (veral deur die verloorspan) met skeidsregters nie.

Ook, wat van die oortredings wat die Bokke begaan het, maar oorgesien is?

Dit gebeur al jare lank.

Dink maar hoe die Leeus in 1974 gal gebraak het oor Max Baise toe hy nie ʼn drie aan Fergus Slattery in die laaste toets wou toeken nie.

Vreemd genoeg is daar nooit gekla toe Baise vroeër wel ʼn drie aan Roger Uttley toegeken het nadat Chris Pope die bal doodgedruk het nie.

Dink maar terug daaraan hoe die All Blacks in 1976 vir Gert Bezuidenhout uitgekryt het nadat hulle die reeks verloor het.

Ook toe Bryce Lawrence in 2011 die Bokke uit die Wêreldbeker-kwarteindstryd “geboender” het.

Wat van die voorval in 2002 toe Piet van Zyl (toeskouer) vir die skeidsregter Dave McHugh in ʼn toets tussen die Bokke en All Blacks te pletter geloop het?

Die All Blacks kla nou nog hoe die Engelse skeidsregter Wayne Barnes hulle in 2011 se WB-toernooi te na gekom het, die Fransman Romain Poite het vroeër vanjaar gebieg dat hy ʼn beslissende fout in 2017 tussen die All Blacks en Britse en Ierse Leeus begaan het.

In Erasmus se geval sê Wêreldrugby hy dra kennis van die voorval en het die aangeleentheid na Saru verwys.

Maar hoe gaan hulle, indien enigsins, die probleem oplos?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
MAGRIETHA

Stem saam met rassie maar hul moet na nog skeidsregters kyk tot plaaslik ook

Daleen

Ag shame Rassie jy is nou die toppunt van wat mens ‘n slegte verloorder noem.

Tubac

Rassie behoort groter te wees en hom nie verlaag na die soort kritiek op sosiale media nie. Eerlikwaar daar is baie gevalle in Rugby wat bevraagteken word, maar word dit so aan die groot klok gehang? Jy as Direkteur van Rugby behoort jou opinie met die wereld ligaam op te neem op n ander vlak. Ek verwag n klomp duimpies af na dese. Dit skeel my min aangesien ek ook geregtig is op my opinie of daarvan gehou word of nie. Miskien is hierdie maar net net n verontskuldiging indien die tweede toets ook kantel.

Vrijburger

Dalk is dit ook tyd dat Wereldrugby ‘n web om Rassie weef, en hom ook in die openbaar aanvat oor kwotas op alle vlakke wat in SA rugby gedryf word. (Hy is mos die Direkteur wat weekliks wil weet hoe die rassamestelling van al die spanne in al die kompetisies lyk? En dan moet afrigters/bestuurders rekenskap gee van hul ‘tekorte’, dit is mos hy?)

koos10

Alles kom van die reël dat afrigters en spelers nie die skeidsregters mag kritiseer nie. Vandag,in 2021, mag jy nie ‘n persoon se besluite bevraagteken nie? Mag jy hom nie op sy foute wys nie? Moet jy net aanvaar? Dis belaglig man. Die Bokke moes al te veel die onderspit byt. Dankie Rassie dat jy opstaan. Dit gaan jou kop kos, maar ten minste nie van jou hart ‘n moordkuil maak nie.