Rassie Erasmus verras met sy GROOT Springbokgroep

Altesame 17 nuwelinge, nog geen kaptein nie, vyf spelers wat oorsee speel en 19 bruin spelers.

Dit is van die vername kenmerke van die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, se eerste Springbokgroep van 43 spelers wat aanstaande week in Washington teen Wallis speel en van 9 Junie af vir Engeland in ʼn reeks van drie toetse pak.

Die nuwelinge is die stutte Ox Nche en Thomas du Toit, die haker Akker van der Merwe, die slotte RG Snyman, Marvin Orie en Jason Jenkins, die losvoorspelers Kwagga Smith en Sikhumbuzo Nothse, die skrumskakels Ivan van Zyl, Embrose Papier en Cameron Wright, die losskakel Robert du Preez, die senter André Esterhuizen en die vleuels Aphiwe Dyantyi, Makazole Mapimpi, Sibusiso Nkosi en Travis Ismael.

Die grootste verrassings is die insluiting van Wright, Van Zyl,  Papier, Orie, Nizaam Carr, Chiliboy Ralepelle en Oupa Mohoje.

Willie le Roux, Faf de Klerk, Frans Steyn en Bismarck du Plessis is van oorsee af nader getrek, terwyl Duane Vermeulen ook ingesluit is nadat sy kontrak by Toulon tot ʼn einde gekom het.

Dan is die drie Du Preez-broers, Dan, Jean-Luc en Robert, die eerste keer saam in die Springbokspan.

Die groot vraag is of die span Wallis en Engeland kan klop.

Daar is meer as genoeg ervaring, daar is borrelende talent en groot vaart agterlangs en ʼn hele paar ysters voor, maar Erasmus se spankeuses vir die onderskeie toetse sal die grootste rol speel.

As hy van die begin af kan raakvat en die span binne die bestek van ʼn paar dae kan saamsnoer, kan die span(ne) ʼn lang paadjie stap.

Maar as hy te veel nuwelinge speelkans gee en ʼn verkeerde spelpatroon volg, kan dit ook maklik boemerang.

Ook is dit vreemd dat daar net vyf Lions in die span is, hoewel hulle die beste van die Suid-Afrikaanse spanne in die Superreeks vaar. Dit terwyl die span van Sharks, Stormers en Bulls wemel, terwyl hulle almal maar louwarm is.

Die Springbokgroep (toetse tussen hakies) ‒

Voorspelers (24)
Nizaam Carr (Stormers, 5 toetse), Bismarck du Plessis ( Montpellier, 79), Dan du Preez (Sharks, 3), Jean-Luc du Preez (Sharks, 10), Pieter-Steph du Toit (Stormers, 32), Thomas du Toit (Sharks, 0), Jason Jenkins (Bulls, 0), Steven Kitshoff (Stormers, 23), Siya Kolisi (Stormers, 28), Wilco Louw (Stormers, 5), Frans Malherbe (Stormers, 17), Bongi Mbonambi (Stormers, 14), Oupa Mohojé (Cheetahs 18), Franco Mostert (Lions, 18), Beast Mtawarira (Sharks, 98), Ox Nché (Cheetahs, 0), Sikhumbuzo Notshe (Stormers, 0), Trevor Nyakane (Bulls, 37), Marvin Orie (Lions, 0), Chiliboy Ralepelle (Sharks, 23), Kwagga Smith (Lions, 0), RG Snyman (Bulls, 0), Akker van der Merwe ( Sharks, 0), Duane Vermeulen (Toulon, 39)

Agterspelers (19)
Lukhanyo Am (Sharks, 1), Curwin Bosch (Sharks, 1), Damian de Allende (Stormers, 28), Faf de Klerk (Sale Sharks, 11), Robert du Preez (Sharks, 0), Aphiwe Dyantyi (Lions, 0), André Esterhuizen (Sharks, 0), Warrick Gelant (Bulls, 2), Travis Ismaiel (Bulls, 0), Elton Jantjies (Lions, 23), Jesse Kriel (Bulls, 29), Willie le Roux (Wasps, 41), Makazole Mapimpi (Sharks, 0), Sibusiso Nkosi (Sharks, 0), Embrose Papier (Bulls, 0), Handré Pollard (Bulls, 26), Frans Steyn (Montpellier, 56), Ivan van Zyl (Bulls, 0), Cameron Wright ( Sharks, 0).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Henry ·

Vreemd dat Eshwin Willemse uitgelaat is.
Sal seker ingesluit word wanneer Naas en Mallet finaal geskors is.

Valerie ·

Lag myself in en toe weer uit ‘n koma! Maar, grappies in sy eie Supersport tydgleufie. Willie le Roux? My man blaas stoom by sy naeltjie uit as hy Le Roux op die veld sien.
Hulle behoort Wallis te klop, maar behoort maklik 3-0 te verloor teen Engeland, en 7-0 teenoor die All Blacks (enige jaar, enige tyd), en Argentinië sal die klomp ook deurmekaar hardloop.

Andre ·

Alhoewel ek jare nie meer Springbok rugby kyk nie kan ek net se hier kom n ding, dit gaan nie lank wees nie dan is Rassie ook weer uit

rollie ·

Vreemde groepie skrumskakels wat gekies is, die een so vrot soos die ander.

Frans C ·

`Wiens brood men eet diens woord men spreekt`. met 19 uit 43 (44%) het Erasmus so na as wat demmit aan ‘n vloekwoord is by die verlangde 50 % swart uitgekom.
Of die span die mas gaan opkom is ‘n ander saak.Die Lions hoef nie sleg te voel nie,hoe minder spelers in die span hoe beter is die herstel kans.
‘n Man soos Mostert wat week in en week uit sy hart uitspeel, het dringend ‘n ruskans nodig en dit sal my nie verbaas as hy met ‘n besering terugkom nie.Waar die All Blacks ‘n verpligte ruskans vir sy voorste spelers instel, word ‘n pond vleis vereis deur elke afrigter van sy Bokke.Geen wonder die lys beserings word al hoe langer nie.

Stephan ·

Ek wonder wat is sy plan met Rooikaart du Plessis en Sideshow lê Roux.

George Steyn ·

Kan ‘n baie goeie span kies uit die spelers. Ek dink net ons gaan sukkel by afkreuk punte – net Kwagga is vinnig genoeg, maar die vraag is of hy gaan speel? Ek sou eerder ‘n Roelof Smit ook daar wou gesien het.
Spelers wat ek nie daar wou sien nie is eerstens Kolisi???? Speel net naby die doellyn om drieë te druk die hele seisoen en sit ektra druk op sy mede spelers. Mbonambi, Ralapele, Andre Esterhuizen, Notshe, Mahoje, Ivan van Zyl, Papier en Frans Malherbe( net omrede hy pas terug is na ‘n lang tyd afwesig).

AWVDM ·

Blyk dat die Lions die Stiefkind in hierdie “Fairy Tale” is…..

Erick ·

Ek, as Bulls ondersteuner, is Ivan Box Kick van Zyl nie eers goed genoeg om vir die Bulls te speel nie, wat nog van vir die Springbok span.

JW ·

Ver te veel onnodige 8ste manne nl. Dan du Preeze, Nizaam Carr, Sikhumbuze Notshe.
Waar is die bal jagters?? Slegs Kwagga Smith sal die werk kan doen!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.