Rassie gaan saam met Bokke toer

Rassie Erasmus. Foto: GB Jordaan.

Rassie Erasmus, SA Rugby (Saru) se direkteur van rugby, sal weer saam met die Springbokke toer vir hul wedstryde teen Wallis, Skotland en Engeland.

Die 48-jarige Wêreldbeker-wenner het die Suid-Afrikaners se onlangse toer na Australië misgeloop sodat die span se aandag op hul wedstryde kon bly en nie deur ’n moontlike mediastorm afgetrek word nie.

’n Tugverhoor staar Erasmus in die gesig nadat hy vroeër ’n video van 62 minute uitgereik het waarin hy videogrepe uitwys waar hy glo die Springbokke in die eerste toets in Kaapstad teen die Britse en Ierse Leeus te na gekom is. Hy het ook voorbeelde uitgelig waar daar nie genoegsame respek aan die Bokke, en veral nie aan die Bokkaptein, Siya Kolisi, betoon is nie.

Veral Australië se Nic Berry het onder Erasmus se bekwame videoredigeer-vingers deurgeloop en Rugby Australië het die “aanval” onder meer as “onaanvaarbaar” bestempel.

Daar is intussen bevestig dat die voormalige Springbok-losvoorspeler se tugverhoor op 30 Oktober sal begin en Christopher Quinlan sal in die voorsitterstoel sit.

Jacques Nienaber (afrigter) het egter gister gesê dat Erasmus hom by die span sal aansluit.

“Rassie kom saam met ons op die toer en hy sal oudergewoonte op sy pos wees,” het Nienaber gesê.

Ná die wisselvallige vertonings deur skeidsregters in die eerste paar wedstryde van die Verenigde Rugbykampioenskap, meen baie Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners dat Erasmus nou meer skietgoed as ooit het.

Ian McIntosh, die voormalige Springbok-breier, is een van Erasmus se ondersteuners.

“Kan iemand Wêreldrugby met die nodige respek inlig dat wette daargestel is om die spel te laat vloei, en nie om dit gereeld te onderbreek nie. Terselfdertyd is dit ook belangrik dat die skeidsregter weer no. 31 op die veld word en nie no. 1 nie,” het McIntosh in ’n onderhoud met iol.co.za gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Moedeloos

Wanneer vind die tugverhoor plaas?

Willi

Die lastige water draer en lawaai bek so wragtig weer terug. Hoop hulle skors hom tot in die derde geslag.

Andrew

Hy kan sommer n video van die bulle se laaste wedstyd maak om sy punt by die verhoor te bewys