Rassie glimlag sekerlik, want Iere oortuig g’n teen Italië

Foto: AP Photo/Alessandra Tarantino

Dit moes Sondagmiddag ʼn heerlike agtermiddag vir die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, voor die televisie gewees het.

Erasmus sou beslis baie waargeneem en pitkos ingeneem het tydens die Sesnasieswedstryd tussen Italië en Ierland in die Stadio Olimpico in Rome.

Die Iere het met 26-16 gewen nadat hulle rustyd nog met 12-16 agtergeloop het. Teen Italië?

Die kans is goed dat die Springbokke en Iere se paadjies by die Wêreldbekertoernooi in September in Japan kan kruis. Waar daar ʼn paar weke gelede opgesien is om die Iere in ʼn moontlike kwarteindstryd te pak, het Sondag se vertoning hul beeld skade berokken.

Dalk begin die hoë verwagtinge as die wêreld se beste span naas die All Blacks hul tol eis, want dié Ierse span het leemtes, sommer ʼn hele paar van hulle.

Hulle het Sondag goed begin en dit het net 12 minute gevat om die spinnerakke van verlede Saterdag se nederlaag teen Engeland af te stof toe die Suid-Afrikaanse slot Quinn Roux, wat op Afrikaans Hoër in Pretoria skoolgegaan het en nou vir Connacht speel, die vonk aangesteek het nadat hy die Iere se eerste drie gedruk het.

Toe die vleuel Jacob Stockdale net ʼn paar minute hierna die Iere se tweede drie gedruk het ná ʼn aanslaan deur Italië se senter Michele Campagno, moes die Iere tuis begin sing het.

Maar hul geesdrif is gou gedemp, veral nadat Edoardo Padovani en Luca Morisi die Azzurri kort voor rustyd ná puik drieë  met 16-12 laat voorloop het.

Maar nog twee drieë deur Conor Murray en Keith Earls in die tweede helfte het die knoop vir Ierland deurgehak.

Die groot vrae: Wat het van die Ierse losskakel, Jonathan Sexton, wêreldrugby se speler van die jaar, se selfvertroue geword?

Hoekom sukkel die skrumskakel Conor Murray so?nWaarom is die hegte verdedigingspatroon nou so vol gate? Waar is die passie, goeie besluitneming en ondersteuning?

Ja, daar moet nog baie water in die see loop en ja, die Iere sal waarskynlik regkom.

Maar Sondag was nie die dag daarvoor nie.

Puntemakers:

Ierland 26 (12): Drieë: Quinn Roux, Jacob Stockdale, Conor Murray, Keith Earls. Doelskoppe: Johnny Sexton, Murray (2).

Italië 16 (16): Drieë: Edoardo Padovani, Luca Morosi. Strafdoele: Tomasso Allan (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet de Jager ·

Welkom terug Pieter. Dis wonderlik om weer sinvolle kommentaar oor ‘n rugbywedstryd te lees: nie ‘n boel snert op rym geskryf nie. Nou lees ek weer Maroela! Wat het van Piet Ebersohn geword?

LOL ·

Ag nee, Pieter is terug. Nou moet ons net weer lees hoe wonderlik die Leeus en Bulle is.

Swartwolf ·

Dis alles goed en wel. Maar moet NIE die negatiewe impak van kwotas onderskat nie. Ierland klop Italie vandag laasjaar verloor bokke teen Italie.

Afrikaan ·

As jy bly is oor jou opposisie se swak spel om jouself te laat beter voel/lyk, is daar regtig min hoop….

Rupert Ashford ·

Is daar kans dat SA teen Italie kan speel by die WB???

Henk ·

Ek dink nie Rassie het enige rede om te glimlag oor die Iere se vertoning nie. Ek meen, ek kan nie onthou dat die Iere al teen Japan verloor het nie. Ek kan ook nie eintlik onthou dat die Bokke te waffers in hulle laaste 10 toetse presteer het nie. Buiten nou die wen teen die AB. Maar dit kon die Iere ook reg kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.