Rassie glo Kolisi gaan fiks wees vir Wêreldbeker

Siya Kolisi. (Foto: GB Jordaan)

Springbokkaptein Siya Kolisi is goed op dreef om die Springbokke later vanjaar in die Wêreldbeker te lei, het Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, Donderdag gesê.

Erasmus en Bok-afrigter Jacques Nienaber is oortuig dat Kolisi betyds van die knieoperasie sal herstel wat hy op 28 April ondergaan het om aan die Wêreldbekertoernooi in Frankryk deel te neem. Die toernooi skop in September af.

Volgens Erasmus en Nienaber sal Kolisi soveel moontlik tyd gegun word om te herstel, selfs al loop hy die oorblywende ses toetswedstryde wat voor die eerste Wêreldbekerwedstryd teen Skotland op 10 September in Marseille gespeel sal word, mis.

“Kolisi is ons kaptein. Ons sal hom nie as kaptein vervang nie, ons sal net instaan-kapteins hê,” het Erasmus tydens ʼn mediakonferensie in Kaapstad gesê.

“Gegewe die vordering wat hy met sy herstel maak, hoop ons dat hy in staat sal wees om in een van daardie wedstryde te speel. Selfs al is hy nie 100% gereed vir die toetswedstryd teen Skotland nie, is dit nog ver van die Wêreldbekerfinaal op 28 Oktober.”

Nienaber het daarop gewys dat Kolisi in aanloop tot die Wêreldbekertoernooi in 2019 ook weens ʼn besering nie baie wedstryde kon speel nie.

“Ons sal hom soveel tyd moontlik gun.

“Ondervinding het ons geleer dat hy nie nodig het om in baie toetswedstryde voor ʼn Wêreldbeker te speel nie.”

Bokke berei langer voor

Nienaber het verder gesê dat die Springbokke vanjaar ʼn langer voorbereidingstyd het voordat hulle na Frankryk vertrek, vergeleke die voorbereidingstyd wat hulle destyds voor hul vertrek na die Wêreldbekertoernooi in Japan gehad het.

Erasmus was toe die afrigter en Nienaber die hulpafrigter.

“Ons het sedertdien baie meer tyd gehad om op goed soos sisteme te fokus,” het Nienaber gesê.

“Wat diepte betref, is ons span baie beter voorbereid.”

Die Springbokke het verlede week ʼn kamp met ʼn klein span in Durban gehad, waarvan Kolisi deel was. Hy het egter nie rugby gespeel nie.

ʼn Groter groep sal Sondag vir ʼn drie dae lange kamp in Durban byeenkom, wat spelers van die Stormers insluit. Die Stormers speel Saterdag teen Munster in die finaal van die Verenigde Rygbykampioenskap (VRK) in Kaapstad.

Nienaber sê die Springbokke beoog om koning van die Rugbykampioenskap te kraai wanneer hulle in Julie teen Australië en Argentinië in Nieu-Seeland speel. Daar kan wel veranderinge aan die span wees weens beserings of spelers wat ná ʼn besering terugkeer.

Die Springbokke is in dieselfde groep as Ierland en Skotland, met ander sterk mededingers soos Nieu-Seeland en Frankryk teen wie die Bokke moontlik te staan kan kom.

Erasmus sê hul wedstryd teen Skotland is uiters belangrik.

“As ons teen Skotland wen, het ons meer ruimte om asem te skep. Na my mening is Skotland die grootste toetswedstryd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

capie ·

Regtig? Met ‘n onfikse speler die wereldbeker probeer wen? Dan nog met ‘n paar spelers uit die ouetehuis. Niemand is onmisbaar nie, so kies eerder op meriete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.