Rassie het glo ’skeidsregter-spesialis’ in visier

Rassie Erasmus. Foto: GB Jordaan.

Met die Wêreldbeker-toernooi om die draai soek spanne na slim maniere om ʼn voordeel bó hul teenstanders te kry.

Volgens berigte stel Rassie Erasmus, SA Rugby (Saru) se direkteur van rugby, glo daarin belang om ʼn “ ʼn skeidsregter-afrigter” by die Springbokke te betrek.

Die 50-jarige afrigter het sy planne tydens ʼn onlangse vergadering in Kaapstad met Saru se uitvoerende komitee bespreek.

Daar heers weliswaar nog onduidelikheid oor die presiese omvang van die beoogde afrigterspos, maar daar word verneem dat dit soortgelyk kan wees aan die rol wat Ruan Botha destyds tydens die Wêreldbeker-toernooi in Japan vertolk het.

Die prestasie-afrigter het die Springbok-ringkoppe toe met hul diepgaande ontleding van die betrokke wedstrydskeidsregter bygestaan.

Dit is immers alombekend dat spanne wat beter by die skeidsregter se interpretasie van die reëls aanpas, ʼn groter kans staan om die wedstryd te wen.

Die Springbokke is in Groep B van die komende rugbyskouspel saam met Ierland, Skotland, Tonga en Roemenië ingedeel. Hulle speel op 10 September hul eerste wedstryd teen die Skotte in Marseille.

Erasmus het al vantevore met Wêreldrugby oor skeidsregters se hantering van Springbok-wedstryde koppe gestamp.

Hy is verlede jaar vir ʼn paar toetse geskors vanweë sy kritiek teen skeidsregters op Twitter en die Wêreldbeker-wenafrigter het hom teen sy kritici verdedig.

“Dit is nie ʼn aanval op die skeidsregter nie. Ek dink nie iemand soos Wayne Barnes sal slegte beslissings maak nie – hy is immers die wêreld se beste én mees ervare skeidsregter.”

Volgens Erasmus is mense geneig om ʼn stertjie by ʼn storie te las, maar hy het ook bygevoeg dat hulle op hul opinies geregtig is.

“Ons het nog altyd ʼn goeie verhouding met ons ondersteuners gehad. En as jy na die twiets kyk, is dit eintlik vir Suid-Afrikaanse ondersteuners om dinge beter te verstaan.”

Hy het egter in November “positiewe gesprekke” met Wêreldrugby se Alan Gilpin (uitvoerende hoof) en Phil Davies (direkteur van rugby) gehad.

Daar is toe ooreengekom dat verdere dialoog noodsaaklik is om die kommunikasie tussen spanne en wedstrydbeamptes te verbeter.

  • Groepe vir die Wêreldbeker:

Groep A: Nieu-Seeland, Frankryk, Italië, Uruguay en Namibië

Groep B: Suid-Afrika, Ierland, Skotland, Tonga en Roemenië

Groep C: Wallis, Australië, Fidji, Georgië en kwalifiserende span

Groep D: Engeland, Japan, Argentinië, Samoa en Chili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokkie ·

Rassie is baie lief vir die spotlight. En alles gaan deesdae net om die wêreldbeker. Dink nou maar net weer wat sy nuwe ‘uit-die-box ‘- rugbygier van ‘n skeidsregter-afrigter gaan kos. Moet ook nie vir my kom vertel van hoe rugby S.A.-ners bymekaar bring nie. Twak, man. Kyk hoe gaan dit in die land. Maak liewer planne om die rugby op plaaslike vlak na die glorie van ouds terug te bring toe elke dorp op Saterdagoggende in rep en roer was oor die middag se rugbywedstryde. Net om ‘n voorbeeld te noem: eens vooruitstrewende rugbyklubs met ryk rugbygeskiedenis en tradisie op die platteland bestaan nie eers meer nie. Gaan kyk maar op ons Bolandse en SWD-dorpe. Dit is vir my baie hartseer.

duiweboer ·

Ag man. Hy is Seker die beste afrigter wat ons ooit gehad het.

Christo ·

Die Rassie gedoente moes al lankal weggejaag gewees het. Nie een “Divvy”kon sy eie naam so swak maak nie

Corne123 ·

hy het al n WB gewen vir SA so ek reken hy weet ao biedjie wat hy doen

Jack ·

Ag wie kyk nog sport en wie stel nog belang ? Spaar my die gemors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.