Rassie hou duim vas vir Stormers-sege

Ruhan Nel druk ’n drie teen Munster. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers speel Saterdag in hul tweede agtereenvolgende Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd. Tog staan Munster breed in die span se pad om sy tweede Europese titel te verower.

Dit is veral die Iere se vermoë om belangrike wedstryde weg van hul tuisveld te wen wat van hulle gedugte teenstanders maak.

“Munster gaan ʼn ongelooflike taai uitdaging wees. Hulle is deur vuur gelouter en twee uitspeeloorwinnings weg van die huis wys jou net waartoe hulle in staat is. Terselfdertyd het hulle ook in die groepfase die eerste span in ʼn hele ruk geword om die Stormers op hul tuisveld te klop,” het Rassie Erasmus gesê.

Die Springbokke se direkteur van rugby het na Munster se sege van 26–24 teen die Kapenaars op die DHL-stadion verwys.

“Maar Manie [Libbok] het toe met ʼn paar stelskoppogings misluk, terwyl die span ook uit hul ander foute geleer het. As ʼn mens in ag neem hoe goed die Stormers se afrigtersgroep is en dat hulle op hul tuisveld voor 55 000 toeskouers gaan speel, verwag ek dat die Stormers gaan wen.”

Rassie Erasmus. Foto: (AP Photo/Themba Hadebe)

Erasmus, wat die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokke in 2019 omhoog gehou het, was ook vol lof vir John Dobson se afrigtersvaardighede.

“Hy is slim en dapper wat sy spankeuses betref en hy kla nie wanneer hy sy Springbok-spelers ʼn blaaskans moet gee nie.”

Volgens die voormalige Springbok-losvoorspeler het hy al ʼn paar keer die seisoen gedink dat die Stormers in die moeilikheid gaan wees omdat hulle nie al hul sleutelspelers tot hul beskikking het nie.

“Maar dan vind hulle maar net ʼn manier om die wedstryd te wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.