Rassie kan kies en keur, ondanks beserings

Robert du Preez jr – kan geskiedenis help maak. (Foto GB Jordaan)

Die Springbokspens was lanklaas so vol.

Maar, is die vraag, is die bestanddele wat gebruik gaan word, goed genoeg vir toetsrugby?

Dis hoekom dit elke keer ʼn terugslag is wanneer ʼn speler seerkry, soos die haker Malcom Marx onlangs teen die Hurricanes en nou ook die losskakel Pat Lambie in Saterdag se eindstryd van die Europese Beker-reeks toe hy vir Racing92 teen Leinster gespeel het.

Marx was ʼn sekere keuse, maar hy het ʼn dyspiersening geskeur en sal minstens ses weke langs die kantlyn wees. Dis darem al ou nuus.

Lambie gaan Maandag eers vir ʼn skandering en as dit ʼn geskeurde kruisligament (knie) is, sal hy ses tot agt maande lank langs die kantlyn wees. Eina!

Noudat die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se arm gedraai het om in te stem dat hy kan kies wie hy wil (hy is immers die direkteur van afrigting en het na alle waarskynlikheid sy eie besluit geneem) staan ʼn rits hakers in die tou: Akker van der Merwe, Bismarck du Plessis, Adriaan Strauss, Franco Marais en, o wee, ook Chiliboy Ralepelle, met Bongi Mbonambi nog beseer.

Lambie kon weens sy ervaring en veelsydigheid goud werd gewees het, maar nou lê dit tussen Handré Pollard (ʼn sekere keuse en dalk nog ook as Bokkaptein), Elton Jantjies en Robert du Preez (jr.) en net dalk, ook Damian Willemse as Springboklosskakels.

Frans Steyn kan ook met vrug ingespan word, maar hy sal na alle waarskynlikheid eers sy verpligtinge by Montpellier moet afhandel. Só ook kan Curwin Bosch nog gebruik word, hoewel hy algaande as ʼn afgeronde heelagter na vore tree.

Ai, dit laat ʼn mens net weer daaraan dink hoe die vorige afrigter, Allister Coetzee, opgefoeter het.

As Du Preez gekies word, kan hy en sy tweelingboeties, Jean-Luc en Dan, saam met pa Robert geskiedenis maak: die broers in een span met ʼn pa wat in sewe toetse vir die Bokke tussen1992/’93 gespeel het.

Ja, daar was ook die Morkels, Luyts, Bekkers en Du Plessis-broers, maar nog nie drie broers én ’n pa wat die Springbokbaadjie gedra het nie.

Du Preez, die losskakel, is dalk in belangrike tweestryde effe in die skadu gestel, maar hy het nog nie sy volle potensiaal bereik nie en sy vaardighede kan verder ontwikkel. Hy is een van die akkuraatste stelskoppers en sal geen Springbokspan in die steek laat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

bloues ·

Pieter.
Ek dink darem Rassie is ‘n beter rugby kenner as Coetzee en behoort raak te sien dat Jantjies nie eers amper onder die beste 4 tel nie. Al die ander super spanne se losskakels is beter en selfs die Vrystater wat in die uitdaagbeker speel, is beter as Jantjies.
Bisnarck wat sy eie span se spelers bykom gedurende opwarming het mos daardeur bewys dat rugby vir hom nie ernstig is nie.

Anoniem ·

Nee Pieter Kruger, Rassie het glad nie so baie om uit te kies nie, want daar is GEEN behoorlike plaasvervangers vir Pollard en Marx nie. Elton Jantjies, Robert du Preez en Curwin Bosch is nie naastenby in Pollard se klas nie. Jantjies kan glad nie onder druk speel nie, terwyl du Preez , Willemse, en Bosch nog baie ondervinding kort. Hulle is geheel en al te wisselvallig. Akker van der Merwe is boonop die enigste haker wat oorweeg kan word, die res is om die minste te sê, treurig.

Daar is tans nie 1 skrumskakel wat tans in SA speel wat uitstaan nie. Dan gaan Rassie boonop weens geforseerde spankeuses ook nie die beste lostrio kan kies nie, want Kolisi verdwyn wanneer dinge warm raak, maar ek wil daarop wed dat hy in die beginspan gaan wees, dalk nog selfs as kaptein ook en dit terwyl die Stormers hom deesdae gereeld kort na rustyd vervang.

B-man ·

Oom Manie. Ek stem volkome saam met jou. Gallant is duidelik ook ‘n baie beter keuse as Bosch. Bosch het gesukkel en moes noodgedwonge sy teenstander pooitjie om hom neer te bring!

rollie ·

Coetzee het nie hierdie luxury gehad om te kies wie hy wil nie. Indien Rassie nou faal, het hy geen verskoning nie.

DHK ·

Coetzee het buitendien as afrigter gefaal op nasionale en internasionale vlak. Die Stormers se Superrugby trofeekas staan steeds dolleeg en die Springbokke, wel sy patetiese rekord met hulle spreek vanself, “luxury” of te not.

rollie ·

Stormers het nie superrugby gewen nie maar is die SA span met die beste algehele wen/verloor persentasie in die kompetisie, ook omtrent elke jaar in die uitspeelfase. Die Bulls is baie meer wisselvalig in superrugby, dan bo dan onder (meeste van die tyd onder)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.