Rassie kies ʼn Bokspan vol groentjies teen Wallis

Die Springbokke kan maar dankbaar wees dat hulle Saterdag in Washington teen ʼn uitgedunde Walliese span en nie teen een van die groot kragte van wêreldrugby speel nie.

Die Bokafrigter, Rassie Erasmus, het Woensdagoggend sewe nuwelinge in die opdrafspan ingesluit en nog ses groentjies op die plaasvervangersbank gekies vir die eenmalige toets wat buite die toetsgleuf val.

Dertien nuwelinge in ʼn toets? Kan dit moontlik wees? Maar nou ja, Wallis sal ook met ʼn gros nuwelinge die Bokke aandurf.

Die nuwelinge in die Bokke se 15-tal is Travis Ismaiel en Makazole Mapimpi (albei vleuels), André Esterhuizen (senter), Ivan van Zyl (skrumskakel), Ox Nché (stut), Jason Jenkins (slot) en Kwagga Smith (flank).

Die nuwelinge op die bank is Akker van der Merwe (haker), Thomas du Toit (stut), Marvin Orie (slot), Sikhumbuzo Notshe (losvoorspeler), Embrose Papier (skrumskakel) en Robert du Preez (losskakel).

Nog net sewe van dié Bokke het al voorheen teen Wallis gespeel en saam het hulle nog net 134 toetse agter die blad, met die voorspelers wat in nog net 81 toetse gespeel het.

Dit is darem baie meer as die 1949-Springbokke wat ná die Tweede Wêreldoorlog 15 nuwelinge in die eerste toets teen die All Blacks gehad het. (Daar was toe nog geen plaasvervangers nie.)

En dit is steeds heelwat meer as die 40 toetse wat die hele Bokspan in 1993 teen die Franse agter die blad gehad vir die eerste toets wat op Kingspark met 20-elk gelykop geëindig het. Die Franse het voortgegaan om die tweede toets op Ellispark met 18-17 te wen en die reeks met 1-0 te beklink.

Onthou gerus dat die Bokke toe baie onervare was, want daar is in 1990/’91 geen toetsrugby gespeel nie.

Kan ʼn mens iets aflei uit Erasmus se spankeuses?

Nie te veel nie. Dit is feitlik ʼn uitgemaakte saak dat die spelers wat in Suid-Afrika agterbly saam met van die oorsese spelers, die ruggraat van die span sal vorm wat in die eerste toets op 9 Junie teen Engeland sal speel.

Erasmus het seker gemaak dat van sy kombinasies ʼn mengsel van jeug en ervaring bevat.

Die agterste driehoek se gebrek aan ervaring wek tog kommer, met net een toets (Curwin Bosch se vier minute verlede jaar as plaasvervanger teen Argentinië) tussen hulle ‒ en veral omdat donderstorms Saterdagmiddag vir Washington voorspel word.

Maar Jesse Kriel behoort Esterhuizen in die middelveld op sy gemak te hou en Elton Jantjies (losskakel) span saam met Ivan van Zyl, wat deur die oud-Springbokskrumskakel Fourie du Preez as een van die land se opwindendste spelers beskou word.

Voorlangs kan Chiliboy Ralepelle en Wilco Louw vir Ox Nché (loskop) op sy gemak stel, Pieter-Steph du Toit (wat ook die kaptein is) sal sy nuwe slotmaat, Jenkins, kalm moet hou en Oupa Mohojé se taak is om aan Smith rigting te gee.

Die Springbokspan teen Wallis (aantal toetse tussen hakies) ‒

15. Curwin Bosch (1), 14. Travis Ismaiel (*), 13. Jesse Kriel (29), 12. André Esterhuizen (*), 11.  Makazole Mapimpi (*), 10. Elton Jantjies (23), Ivan van Zyl (*), 8. Dan du Preez (3), 7. Oupa Mohojé (18), 6. Kwagga Smith (*), 5. Pieter-Steph du Toit (kaptein, 32), 4. Jason Jenkins (*), 3. Wilco Louw (5), 2. Chiliboy Ralepelle (23), 1. Ox Nché (*). Bank: 16. Akker van der Merwe (*), 17. Steven Kitshoff (23), 18. Thomas du Toit (*), 19. Marvin Orie (*), 20. Sikhumbuzo Notshe (*), 21. Embrose Papier (*), 22. Robert du Preez (*), 23. Warrick Gelant (2).

* dui aan nuwelinge met geen toetse nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Willem ·

Niks anders is uit die hoed gehaal nie, die name kom en gaan nog steeds met dieselfde tempo as deur ‘n fabriek se worsmasjien.

nico k ·

Ek persoonlik dink dit is ‘n goeie span. ‘n Hele paar kan nou getoets word of hulle reg is vir toetsrugby oor ‘n jaar.

hans ·

span gekies op kleur nie meriete – hoop julle verloor – go england

Safan ·

Heeltemal reg- veral die wit spelers hoort glad nie daar nie. e span gehalte

Wesley ·

“damned if you do, damned if you don’t”…. Heel seisoen hoor ons die mense, “kies die nuwe so-en-so vir die Bokke”, en nou maak Rassie so, sommer met n klomp. Nou is hul te onervare? Hoe dink die mense moet ons diepte skep? Om dieselfde mense in die grond te speel en oor honderde tydsones heen en weer te vlieg in net n week EN ook 160 minute van toetsrugby te speel tussen in? Ai nee wat, dink ons as rugbypubliek het mal geword…

Goeie span, behoort die werk te doen…

What a joke! ·

Met gebalanseerdheid reken ou Weezley dertien nuwelinge wat in n toets speel is gebalanseerd….hehehehe
Jy probeer nie diepte vind op toets vlak nie, bietjie meer respek op toetsvlak dink ek word benodig teen jou opposisie tensy toets vlak rugby natuurlik nou dieselfde in jou oe as provinsiale rugby geag word …goeie genade…

Geen wonderSuid afrikaanse rugby is in so n gemors…..tweede bestes en kwotas en en en……
Jy probeer jou beste vind op provinsiale rugby en selfs die super 15 voor jy toets toe gaan my ou…
Wat jy weet van rugby is gevaarlik ou Weezley….seker een van daai kwota en nie meriete ondersteuners ne…..

LHS ·

Nee wat, tot nou kon ek elke jaar die keuses in n mate hanteer maar wragtag hierdie Erasmus kaping van rugby met sy eensydige aanstellings in poste wat nooit geadverteer is nie, die belaglike spelerkeuses, duidelike politieke omkopery. Erasmus is getaak om die finale vernietiging van bokrugby deur te sien.DIe bok embleem sal binne n jaar of wat verseker ook nie meer bestaan nie.

Ronald Odendaal ·

Ek dink dit is n bak gat span. Elke nuwe speller gaan net nuwe bloed en opwinding aan die bokspan bring. Ons het al lankal nuwe jong outjies nodig om iets opwindends in die wereldbeker in te bring. Hulle almal presteer goed in vanjaar se super rugby. ons kan voort bou op hulle en ek sien uit daarna om te sien hoe hulle groei. Ronnie 63 woorde

Willem ·

Die koek kan mos net soveel keer herverdeel word. Als gaan om geld en vir die treeurmare land van ons is dit mos duidelik waarom daar kwotas op spanne afgedwing word. (Party noem dit doelwitte van gekleurdes.) Ons beste haker het ons jare laas gesien, so kan mens aangaan. Ek sal graag wil sien hoeveel volwaardige Springbokspanne se individuele spelers tans in die buiteland speel. En dan is daar ook ouens strate beter is as wat ons binnelands het, maar nie durf waag kies nie. Van hulle verloor ons sommer na skool af.

Snuffels ·

Mohoje se werk moet wees om nie rigting aan Kwagga te gee nie…as hy Mohoje se rigting volg gaan sy loopbaan verby wees!

Johan ·

Terwyl daar iets is soos kwotas, sal die vraag ALTYD bly opkom : Is hy daar op meriete of agv kwota? Van die name is amper “onbekend” – in my opinie nie regtig ‘n toetskandidaat nie.

Rugby is van so aard, ons sal maar altyd debatteer of ‘n speler selfs op meriete die regte een is vir die toetsspan. Dit is so al vandat die Springbokspanne gekies is in die begin van die vorige eeu. Maar tans kan mens oor sekere name nie eers redeneer nie – of nee, die enigste redenasie is juis kwota.

Jammer mense, maar terwyl kwotas vir ‘n feit op laerskoolvlak se verteenworodigende spanne toegepas word, sal niemand maar niemand my ooit oortuig dat kwotas nie ‘n rol speel op topvlak waar politici mos transformasie wil sien nie. Dit is so jammer teenoor die wat wel daar op meriete is.

Geluk aan Siya Kolisi wat ek dink wel op meriete daar is en wat volgens alle aanduidings ook die kapteinskap verdien. Sterkte Siya.

Ronelle ·

Ek dink ons moet vir Rassie en die spelers ‘n regverdige kans gee – wie weet …. Oor Siya as kaptein is ek opgewonde – hy verdien die geleentheid deur en deur en het dit al telkemale bewys. So ek staan 100% agter die bokke!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.