Rassie op Ben Smith se spoor

Ben Smith - in Rassie Erasmus se visier. (Foto: YouTube)

Ben Smith – in Rassie Erasmus se visier. (Foto: YouTube)

As Rassie Erasmus eers op jou spoor is, laat hy nie los nie.

Dis soos hy gespeel het,  hy het 80 minute lank nie laat los nie.

Hy was fiks, superfiks en het sy teenstanders gejaag en gejaag tot tot hy hulle vasgetrek het. Sy skraal lyf was misleidend, maar hy was hard soos klip –  slim, genadeloos.

Erasmus is in Julie as Munster se rugbydirekteur aangestel, maar ná die skielike afsterwe van Anthony Foley, het Erasmus as afrigter oorgeneem. Hy trek die toutjies en daar blaas `n vars briesie in Limerick wat voortvloei na Ierse rugby.

Erasmus se aanstelling is weer `n bewys hoe droog die Suid-Afrikaanse Rugbyunie gemaak het deur hom te laat gaan. Moenie hom in die raadsale los nie, hy wil in die paviljoene wees, langs die veld, hy wil afrig.

Ja, sommiges sal dalk sê hy is nie die maklikste mens om mee saam te werk nie, maar was Dok Danie Craven, Louis Luyt en Nick Mallett?

Die Nieu-Seelandse heelagter/vleuel Ben Smith is nou in Erasmus en Munster se visier om ná aanstaande jaar se Superrugbyreeks sy loopbaan in Europa af te sluit. Daar word geskimp dat hy soveel as €2 miljoen (net oor die R29 miljoen) kan verdien, maar  dis `n baie goeie belegging vir een van die beste spelers in die wêreld. Hy is net 30 jaar oud en anders as Daniel Carter, kan hy veel meer waarde vir drie tot vier jaar bied. Die Ierse rugbyunie wil help, sakemanne gaan glo Smith se beursie help vul.

Erasmus weet watter waarde hy kan toevoeg, hy het sy huiswerk behoorlik gedoen en `n moontlike belegging in hom kan dubbel en dwars opbrengste oplewer.

Vir enige rugbyspeler is dit `n enorme klomp geld, maar kleingeld wanneer dit met sokkerspelers vergelyk word.

Die lys van die toptien-sokkerspelers se verdienste is pas bekend gemaak met Cristiano Ronaldo van Real Madrid, Lionel Messi (Barcelona) en Gareth Bale (Real Madrid) die drie bes betaalde spelers.

Ronaldo se kontrak beloop ₤19 miljoen (sowat R328 miljoen) per jaar, en dis ná belasting. Dit sluit nie enige ander verdienste in nie.

Hy verdien ₤365 000 pond per week (sowat R6,31 m) wat neerkom op sowat R625 vir elke sekonde.

Eintlik verdien rugbyspelers dan mos “peanuts” soos die bokser Willie Ludick destyds aan sy vrou, Katie , gesê het nadat hy  deur die Amerikaner Curtis Cokes getimmer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Richard ·

Niks maar niks betaal so goed soos sport. Let wel jy professioneel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.