Rassie rits Eddie Jones se mond toe

Eddie Jones – Rassie Erasmus het hom onkant betrap (Foto Twitter@EnglandRugby)

Mof Myburg, Lofty Nel, Victor Matfield, Johann Ackerman en nou ook Schalk Brits.

Hulle is deel van ʼn lang lys ervare spelers wat aan die einde van hul loopbane gekom het, maar toe ʼn noodoproep gekry het om weer toetsrugby te speel.

Die besluit van die huidige afrigter, Rassie Erasmus, om die 37-jarige Brits, wat twee weke gelede “uitgetree” het toe Saracens in die eindstryd van die Engelse Premierliga met die Exeter Chiefs klaargespeel het, kan ʼn meesterskuif wees, want dit kan die Engelse afrigter, Eddie Jones, die papelellekoors gee en sy spelers heeltemal onkant betrap.

Brits, steeds een van die fiksste en begaafste spelers in wêreldrugby, moes in baie meer as sy tien toetse gespeel het, soos Pale Toe! by verskeie geleenthede berig het. Sy insluiting (hy sal na alle waarskynlikheid weer op die bank soos in nege van sy toetse wees) kan baie waarde tot die Springbokke voeg voor Saterdag se tweede toets teen Engeland in Bloemfontein. Op én van die veld af.

Brits speel al jare lank in Engeland, hy is vertroud met die rits spelers van Saracens wat die kern van Engeland uitmaak, hy ken hul lynstaanroepe, weet presies wat hul sterk- en swakpunte is, en hy weet hoe hulle eet, leef, dink en oefen.

Ek sou wat wou gee om Jones se gesig te sien toe hy in sonnige Umhlanga die boodskap van Brits se insluiting (in die beseerde Trevor Nyakane se plek) gekry het.

Dis ʼn kopspeletjie wat hy nie gaan wen nie.

Kom ons delf terug tot in 1970 toe die reeks tussen die Bokke en All Blacks met een-elk gelykop was ná die eerste twee toetse.

Die Bokkeurders het “geskok” deur Tiny Neethling (loskop) en Albie Bates (agsteman) te pos en Myburg en Nel in te sluit.

Myburg (34) het ʼn paar maande voor die reeks uitgetree, maar Dok Danie Craven se opdrag aan oom Buurman van Zyl (Noord-Transvaal se afrigter) was om Myburg binne twee weke fiks te kry. Dis waarom  die heuwel by die Polisiekollege in Pretoria so beroemd (of is dit berug by rugbyspelers?) geword het, want dit is waar emmers sweet van Myburg getap is.

Nel (35) het laas in 1965 toetsrugby gespeel, maar sy insluiting het ook die gewenste uitwerking gehad, want die Bokke het die laaste twee toetse gewen om die All Blacks van hul wêreldtroon te stoot.

Matfield (38) het in 2014 uitgetree, sy lewensverhaal vasgepen, begin afrig en as televisiekommentator opgetree, toe Heyneke Meyer hom oortuig het om in 2015 weer die tokse aan te trek.

Ackermann, 36, was ook aan die skadukant van sy loopbaan toe hy in 2006 deur Jake White nader getrek is nadat hy sy buiging reeds in 1996 gemaak het.

In al dié gevalle was dit ʼn sukses en ʼn mens kan nie anders as om Erasmus ʼn kloppie op die skouer te gee nie, veral as dit nog waar is dat hy Bismarck du Plessis en Frans Steyn die deur gewys het omdat hulle wou voorskryf wanneer hulle hul by die Bokke sou aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lerato ·

Dis goed dat Rassie Du plessis en Steyn “die deur gewys het”
Ek het al gesien dat as jy iemand moet lek om te werk, kry jy nie goeie dienste nie.

Josua Keys ·

Schalk Brits was nog altyd ‘n goeie speller maar ek dink mense lees teveel hierin, Joans sal nie gepla wees met Brits se insluiting in die bok span nie hy is ‘n te goeie afrigter wat nie sal toelaat dat een speller sy planne omver krap nie. As ek Rassie is gee ek eerder baie aandag aan hantering en kommunikasie tussen spelers op die veld, Brits sal beslis n aanwins as speller wees maar as individu gaan hy niks kan uitrig sonder sy spanmaats se ondersteuning nie. Rassie het hom raakgesien waar Meyer en Devilliers met klappe oor hul oë geloop het. Ek hoop net Akker vd Merwe behou ook sy pos want tans is daar net twee goeie hakers in SA en dit is Akker vd Merwe en Malcolm Marks(Beseer)

Anoniem ·

Ek het dadelik ‘n rot geruik toe die tweetjies so vinnig uit die bok kamp weggelaat is. Nou weet ons dat hulle die kitaar wou slaan en Rassie moes dans. Goeie besluit, nou weet almal wat om te verwag.

Wesley ·

Ek hou van die kop speletjie wat Rassie sover wen. Hy kon maklik bieg en Strauss terug geroep het (sou ook nie sleg wees nie, hy is weer op sy beste), maak Britz het net soveel meer kennis oor die Engelse, dat dit net meer sin maak. Brits het meer van die veld af te offer as enige ander kandidaat. Hy moet nou hard aan Bongi en Akker slyp as hy nie self die veld gaan vat nie. Slim Rassie, baie slim….

Lol ·

Die beste terugkeer na rugby was Os du Randt. Van hom vergeet Pieter?

LHS ·

Ag asb. dink enige iemand daaraan dat iemand soos Schalk wat ons ken n goeie karakter het, die hand wat hom jare lank gevoed het nou gaan byt. Sy lojaliteit en heeltemal te verstane, is verseker nie by S.A. nie. Hy sal sy werk doen tot die beste van sy vermoe maar verseker gaan hy nie n verraaier word nie, nie Schalk Brits nie. Tweedens as Erasmus gedink het hy gaan net n vinger klap en dan spring die spelers wat in die buiteland speel op die eerste vliegtuig, maak hy n HENGSE fout. Dink hy werklik die meeste van daardie spelers voel enige iets vir die huidige rugby in S.A. Jy sal maar vroegtydig en met baie beter beplanning betyds na vore moet kom as jy van daardie mense wil gebruik. Met so houding gaan Rassie nie ver kom nie, hulle is nie verlee nie.

Stefaans ·

@LHS het jy dalk met die spelers gepraat dat JY weet dat hulle nie meer Springbokke wil wees nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.