Rassie: SA Rugby bevestig sy aanstelling as direkteur van rugby

Rassie Erasmus – aangestel as SA Rugby se direkteur van rugby. Foto: Twitter/munsterrugby)

Die weke lange bespiegeling of Rassie Erasmus terugkeer na Suid-Afrika toe is Vrydag deur SA Rugby bevestig: hy is op pad.

Erasmus het ʼn jaar gelede na Ierland vertrek waar hy as direkteur van rugby by Munster aangestel is. Hy het uiteindelik meer afgerig as wat voorsien is weens die dood van die Ierse klubspan se hoofafrigter Anthony Foley.

Jacques Nienaber, die hoogaangeskrewe verdedigingsafrigter wat saam met Erasmus na Munster is, keer ook terug as hoëprestasiebestuurder by SA Rugby. Sy ondervinding sluit in werk as verdedigingsafrigter by die WP, Stormers, Junior Springbokke, SA Skole en die Springbokke.

Erasmus sal, as direkteur van rugby, verantwoordelik wees om Suid-Afrika se agt nasionale spanne en die deelname en bestuur van 20 kompetisies te koördineer. Die ontwikkeling van spelers, afrigters en skeidsregters sal ook onder Erasmus val.

Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Jurie Roux, het beklemtoon dat Allister Coetzee aanbly as die Springbokafrigter en dat hy bloot aan Erasmus sal rapporteer.

Erasmus het tot 31 Desember nog verpligtinge by Munster en sal dus eers aanstaande jaar as direkteur van rugby by SA Rugby kan begin werk.

Hoewel hy self nie sal afrig nie, is Erasmus aangestel as Pro12 se afrigter van die jaar. Hy het Munster in die Europese seisoen tot 26 oorwinnings in 30 wedstryde  en die eindstryd van die Pro12 gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Die ANDER worshond ·

Jippee!!! Omtrent tyd – hy sal die Bokke regruk!

Frederik ·

Kan nie dink dat Rassie op die oomblik so onmisbaar vir SA Rugby is nie. Allister was nog altyd in my oë ‘n goeie afrigter en ek dink hy gaan die ding doen, nou dat Mambula nie meer op sy nek lê nie

Dirkie ·

Rassie is soos n by hy bly nie lank op n blom nie. Hy het Vrystaat net n rukkie afgerig toe is hy Stormers toe. Skaars n jaar daar toe vlug hy Ierland toe. Skaars 6 mnde daar alweer SA toe. Ek wonder of hy Junie 2018 nog aan stuur van sake gaan wees. Hoop vir die beste.

Dries Potgieter ·

Dirkie, jou tydlyn oor Rassie se loopbaan is bietjie skeefgetrek. Hy het die Cheetahs op Curriebeker vlak in 2005 begin afrig en in sy eerste jaar as afrigter die Curriebeker gewen. In 2006 was hy hul eerste SuperRugby afrigter, Hulle was 10de uit 14 spanne daardie jaar, nadat hulle afgestig het van die Cats.
Na 3 seisoene by die Cheetahs is hy in 2008 WP/Stormers toe, waar hy tot 2009 afgerig het. Daarna was hy nog 2 jaar (2010-11) Direkteur van Rugby by die WP/Stormers.
Sedert Jan 2012 was hy SA Rugby se Hoëprestasiebestuurder, waar hy betrokke was tot Julie verlede jaar toe hy Ierland toe is.
Terloops, almal weet van sy frustrasie by die Stormers met al hul binne-politiek. Hulle het die meeste klubs in die land — die stert wat die hond by die WP swaai en een van die redes vir hul bankrotskap verlede jaar. Rassie het destyds gewaarsku (toe hy uit frustrasie daar weg is) dat die ongesonde situasie in die Kaap die WP sou vernietig en dat hulle weens politiek altyd sal sukkel op hul volle potensiaal te bereik, veral op SuperRugby vlak.
Rassie en Brendon Venter tel onder die skerpste rugbybreine ter wêreld, maar soos dit gaan in ons land het die frustrasie van politieke voorskrifte en inmenging hulle nog altyd verhinder om hul ware genialiteit aan die wêreld te wys.
Rassie was dus 3 jaar by die Cheetahs, 4 jaar by die Stormers en 4 en ‘n half jaar by SA Rugby.

Ouboet2 ·

Dankie Driesvir die regstelling.Ek is n groot ondersteunervan Rassie.

Jaybee ·

Frederick, jy is seker die enigste persoon wat so ‘n hoë dink van A Coetzee het. Dries se kommentaar is 100% reg. Ek dink(hoop) Rassie gaan ‘n positiewe verskil aan ons rugby maak. Glo nie A Coetzee is baie in sy skik met die aanstelling nie.

Arie ·

Regtig Frederik? dink jy sowaar hy het die verbetering aan ons spel aangebring? skielik het ons `n agterlyn want laas jaar was daar geen agterlyn afrigter nie net iemand wat sewes gespeel het en kan druk in die skrums en jy glo dis Allister? Asseblief!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.