Rassie sal vinnig planne moet maak, of dalk het hy al

 

Jacques Nienaber en Rassie Erasmus. Foto: Twitter.

Die voorstel dat vanjaar se internasionale toetsrooster tussen 24 Oktober en 5 Desember gespeel moet word, sal verreikende gevolge vir rugby inhou.

Maar daar kan nie langer gewag word nie, want dit is die reddingsboei wat moet sorg dat die spel nie doodwurg nie, ondanks die ooglopende waagstukke wat aangegaan sal word.

Daar sal ʼn fyn balans gehandhaaf moet word, maar daar is geen uitweg nie wanneer Wêreldrugby dit heel waarskynlik op 30 Julie tydens ʼn virtuele vergadering sal bekragtig.

Volgens die voorstelle sal die Sesnasies-reeks aan die einde van Oktober en begin November afgehandel word, waarna ʼn nuwe reeks volg waaraan die Sesnasies-spanne en moontlik ook Japan en Fidji sal deelneem.

Die Rugbykampioenskap tussen Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië sal tussen 7 November en 12 Desember in een land, heel waarskynlik Nieu-Seeland, gespeel word.

Die Springbokke sal op die agtervoet wees, want die Suid-Afrikaanse regering het eers baie onlangs die jawoord gegee dat spelers in klein groepies na die speelveld kan terugkeer.

Die spelers kan nog nie voluit oefen nie en sal vyf of ses maande se roes binne ʼn paar weke moet afskud, terwyl die Nieu-Seelanders en Australiërs weke al lustig speel.

Maar soos ek Rassie Erasmus (en die nuwe afrigter, Jacques Nienaber) ken, het hulle reeds hul planne agtermekaar, al kan dit beteken dat ʼn groot groep spelers dalk nie in die komende Curriebekerreeks, wat straks ʼn dubbelronde sal wees met die eindstryd eers in Desember, sal speel nie.

Die Rugbykampioenskap sal die Suidelike Halfrond se mini-Wêreldbekertoernooi wees, hoewel net die vier topspanne sake sal uitspook.

Die Nieu-Seelandse rugbypubliek is uitgehonger en sal in hul duisendtalle na die toetse tussen die All Blacks en Springbokke stroom, asook wanneer die Kiwi’s teen die Wallabies speel.

Maar hoeveel toeskouers gaan in Nieu-Seeland kragmetings tussen die Springbokke en Poemas en Wallabies en Poemas bywoon?

Wat gaan in Argentinië aan? Kan hul spelers al begin oefen, gaan hulle ʼn rugbyfikse mededingende span kan kies?

Maar dis ál kans om rugby aan die lewe te hou en kom ons hou maar duim vas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Scalla ·

Rassie, jy behoort kennis te neem van Mark Fish se twiet!!!

Mauritz ·

Ek sien dat berigte oor Suid-Afrikaanse rugby en krieket nog in die sportafdeling verskyn. Dit sal miskien meer gepas wees as Maroela Media dit voortaan in die politieke afdeling plaas.

Chris ·

Ek sien almal is nog vies vir die polimiek rondom die knielende vuis in die lug manne. As dit van my afhang sou SA Rugby ook moes loop soek het vir ‘n nuwe borg. Ongelukkig gaan die wange en kuite pomp absoluut niks help nie en rugby sal voortgaan soos voorheen. Die manne wat hul truitjies opgeknip het koop net weer nuwes. Wens jou sterkte toe Mnr Erasmus en ander.

Vrijburger ·

Toe nie Chris. Ek het al voor die 2019 wereldbeker besluit ek is klaar met SA sport. Dito vir enkele van my vriende en familie. Die weerstand groei. Waar ek voorheen ontrek het en bloot ophou kyk en ondersteun het, boikot ek nou SA sport aktief. En so sal dit bly tot alle vorme van kwotas in SA sport afgestel word. En ek verkondig hierdie boodskap in die buiteland waar ek my tans bevind.

Therese ·

@Vrijburger
My ondersteuning jare gelede onttrek toe plaasmoorde en ander swart-op-wit-geweld endemies geword het.
Afrikaner sportlui het hieroor nog nooit ‘n oog geknip of die moed van hul oortuiging gehad om internasionale aandag op hierdie tragedie te vestig nie.
Hoe blitsig is hulle nie om die knie te buig met gebalde swartmag vuis in die lug nie!
Verfoeilik.

Maroela Burger ·

Nie eers die wereldbeker wen kan die skade regstel wat die Springbok kaptein veroorsaak het regstel nie. Rassie en sy spelers sal moet besluit of hulle saamstem met sy uitspraak en sodoende rugby se toekoms verseker. Krieket het net eer eens bewys dat die rede vir hulle swak vertonings nie by hulle spel gesoek moet word nie maar by wat se besluite hulle as indivuele spelers maak. geen wonder soveel goeie spelers gaan soek soos alle ander proffessies hule heil in ander lande nie. Sodra politiek by sport inmeng dan verloor alles hulle doel. Mark Fisch het duidelik gewys dat alle lewens saak maak in die wereld en dat nie een ras uitgesoek of gehelp moet word as jy nie goed genoeg is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.