Rassie se balanseertoertjie word voorgesit

Ivan van Zyl – hy en Embrose Papier sal by die diepkant ingegooi moet word. (Foto: GB Jordaan).

Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus se gedagte was uit die staanspoor om die regte spelers te identifiseer en diepte te bou met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi.

Nou word Erasmus skielik in ʼn nuwe rigting gedwing nadat sake tot dusver vir hom redelik voorspoedig verloop het, ondanks die Walliese fiasko toe hy met feitlik ʼn tweede span Washington toe is om SA Rugby se leë geldkoffers effens te help vul, en ʼn onnodige verloorslag teen die Poemas én teen Australië.

Vir Erasmus is daar nou die slegte nuus dat Faf de Klerk en Willie le Roux vir die Rugbykampioenskap-reeks se toetse deur hul klubs afgegee is, maar klaarblyklik nie vrygestel sal word vir die Bokke se jaareindtoetse teen Engeland, Frankryk, Skotland en Wallis nie.

Die eerste van die vier toetse op opeenvolgende Saterdae word op 3 November op Twickenham teen Engeland gespeel.

♦  Erasmus sal nou weer van voor af moet raakvat. Die skaarste aan gehalte-skrumskakels in Suid-Afrika beteken dat hy oor die vier naweke in November vir Engeland, Frankryk, Skotland en Wallis met die twee huidige groentjies in die groep, Embrose Papier en Ivan van Zyl, moet takel.

Die Bokke sal drie skrumskakels saamneem. Die derde man moet nog gevind word.

Boonop moet Erasmus die balanseertoertjie tussen wen en diepte vir die Wêreldbeker-toernooi herhaal.

Ruan Pienaar, goed soos hy was en tans nog vir Montpellier is, is op 34 nie meer ʼn opsie vir die Wêreldbeker-toernooi nie. Hy het in 2007 die Wêreldbeker help wen en was in 59 van sy 78 toetse (67%) aan die wenkant.

Francois Hougaard speel tans van die beste rugby van sy loopbaan, maar het vroeër laat blyk hy is nie meer vir toetsrugby beskikbaar nie.

Dalk kan Hougaard omgepraat word. Sy twee, drie treetjies voordat hy uitgee, is klaarblyklik oorsee uitgestryk. Dit was sy vernaamste swakheid.

Hy slaan nou werklik die kitaar by die Worcester Warriors met sy oordeel en spelwisseling en ook sy kragtige lopies.

Dan is daar Cobus Reinach, wat oorsee vir Northampton speel en wat baie goed by die vinnige patroon van Erasmus sal kan inskakel.

Tuis is daar net die Springbok Ross Cronjé wat maande lank ná ʼn skoueroperasie nie sal kan speel nie.

♦  Op heelagter is daar Damian Willemse. Warrick Gelant is nie fiks nie en Curwin Bosch het, ondanks sy geweldige talent, nie oortuig dat hy op toetsvlak hoort nie.

Erasmus het ook duidelik gewys dat hy nie in Andries Coetzee belangstel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MIK SMIT ·

FRANS STEYN BLY DIE BESTE AL ROUNDER IN DIE WERELD. HY IS 31 en HY KAN DIE
BOKKE UIT DIE SLOOT HELP.

All Black ·

Frans Steyn is ‘n riller. Hy verdien om in die Springbok span te wees maar omdat hy reguit is met Saru sal hy nooit weer gekies word nie. Dis ‘n jammerte.

Nico ·

Curwin het nog nooit ‘n regverdige kans gehad nie. Sommige spelers vaal wedstryd na wedstryd maar daar word met hulle volhard. Curwin is een van heelwat spelers wat nie behoorlike kanse kry nie.

Frans C ·

Enigeen wat kommentaar lewer moet eers https://images.supersport.com/content/SARUSTP.pdf lees.Volgende jaar moet daar op alle vlakke ‘n 50% ‘black participation’ wees.
Blykbaar het Erasmus ook onderneem dat by die wêreldbeker in Japan in 2019,11 van die opdrafspan swart sal wees.Jy moet weet dat as oorseese kommentators al van mening is dat dit die Springbokspan gaan verswak,die skrif vir Blanke rugbyspelers aan die muur is.
Kwotas en ‘n verswakkende Rand en ekonomie dryf ons belowendste rugbyspelers oorsee.Indien Erasmus ‘n transformasie dienskneg bly,soos die geagte heer de Klerk,’n politieke dienskneg was,gaan Springbokrugby dieselfde pad as sokker loop.

Dit help dus nie om te spekuleer nie,want dit gaan nie by 50% bly nie,want kwantiteit en
nie kwaliteit bly die deurslaggewende maatstaf en dan wil dit my voorkom dat mense van kleur,die bruin mense,ook nie swart genoeg is,want met ‘black participation’ word eintlik net etniese swartes bedoel.

Geen wonder korrupsie en eiebelang vier hoogty nie,want as jy nie skroom om jy eie
arm mense se geld te verduister nie,kan daar geen gees van welwillendheid teenoor ander minderheidsgroepe wees nie,ook nie op sportgebied nie.

All Black ·

Mooi reguit gesê Frans. Ek geniet jou skrywes.
As ‘n mens nie ore het nie moet jy maar voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.