Rassie se balanseertoertjie

Dit sal interessant wees om te sien hoe Rassie Erasmus sy balanseertoertjie gaan uitvoer om ʼn wenspan te bou en die ondersteuners, media en spelers tevrede te hou.

Hy moet twee Springbokspanne kies wat op 2 Junie in Washington DC teen Wallis speel en van 9 Junie af in die reeks van drie toetse teen Engeland te staan kom – en daar sal altyd ʼn gebrom wees wanneer Springbokspanne gekies word.

In die ou dae is daar strykdeur in die Kaap vrae gevra hoekom daar so min spelers van die Westelike Provinsie in die span is. In die Noorde is daar byvoorbeeld weer getwyfel aan die vermoë van spelers soos Wang Wyness, Mike Lawless en selfs Jannie Engelbrecht, ondanks hul vaardighede.

Erasmus sal na alle waarskynlikheid ʼn groep van 40 spelers kies wat aan die einde van Mei vir drie dae in Suid-Afrika sal voorberei voordat die eerste Bokspan na Amerika vertrek om teen Wallis te speel.

Dit sal wel ʼn waagstuk wees om net drie dae voor die toets na Amerika te reis, maar Erasmus het geen ander keuse nie. Die Sharks speel nog op Vrydag 24 Mei teen die Jaguares in Buenos Aires en die volgende dag pak die Stormers die Lions op Nuweland en die Bulls kom op Loftus Versfeld teen die Brumbies te staan.

Die Springbokspan sal dan al gekies wees en beserings kan ʼn groot rol speel, want daar sal steeds baie op die spel wees en dit kan bepalend vir die res van die reeks wees.

Die spelers en Erasmus sal ook op dieselfde golflengte moet wees, want die sogenaamde swakker span sal teen Wallis speel. Wat sal gebeur as die span verloor? Wat van die spelers se selfvertroue vorentoe?

Erasmus sal ook ʼn blaadjie uit die boek van die Lions moet neem. Hulle het twee weke gelede vlugvoosheid gesystap deur eers op die Woensdag na Sydney te vertrek en was die Vrydagaand verrassend “vars” teen die Waratahs.

Maar Washington is nie Sydney nie en Wallis is ook nie die Waratahs nie.

Dit sal ʼn nuwe ervaring en langer vlug wees – en wees maar verseker dat die Walliese afrigter, Warren Gatland, die Bokke ʼn derde opeenvolgende neerlaag sal wil toedien, al gaan hy ʼn hele paar van sy topspelers vir die wedstryd ruskans gee.

En dan wag grootmond Eddie Jones, wat ook van sy topspelers tuis laat, en sy Engelse span die volgende drie Saterdae op die Bokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Kies die volgende span en jy het geen probleme nie Rassie: Kitshoff, Marx, Louw, de Jager, PS du Toit, JL du Preez, Smith, Kolisi (want jy moet) van Zyl, Pollard, Vorster, Am, Mapimpi, Combrinck en Leyds. Die 2 senters is wel onbeproef, maar na my mening die beste in hulle posisies op die oomblik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.