Rassie se Bok-raaisels

Rassie Erasmus – Bokafrigter. (Foto: Twitter munsterrugby)

Dis een van die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, se karaktereienskappe, jy weet nooit wat hy volgende gaan doen nie.

Dis soos hy destyds gespeel het, en ook later toe hy die Vrystaat, Stormers en die Westelike Provinsie afgerig het.

Wie kan nog die gekleurde kaarte onthou wat hy as afrigter van langs die veld en later op die dak van die Vrystaat-stadion se hoofpawiljoen aan die spelers gewaai het wanneer hulle (hy) besluit het of hulle hoek toe of pale toe moes skop?

Later het dit oorgespoel na disko-ligte.

Hy het met die teenstanders se koppe gesmokkel en in ʼn stadium wou die Vrystaat (toe hy reeds daar weg is) glo in ʼn wedstryd teen die WP nie kleedkamer toe gaan nie, want hulle was bang dat daar mikrofone geplant was wat hul taktiek vir die tweede helfte sou weggee.

Erasmus het Sondag ʼn Springbokoefengroep van 20 spelers aangewys wat Maandag in Stellenbosch saamtrek om voor te berei vir die komende Europese toer vir vier toetswedstryde teen Engeland (3 November), Frankryk (10 November), Skotland (17 November) en Wallis (24).

Die finale toergroep sal direk ná Saterdag se Curriebeker-eindstryd tussen die Westelike Provinsie en die Sharks op Nuweland bekend gemaak word.

Die groep sal dan ook die Springbokke wat in Europa speel, soos Franco Mostert (wat dalk binnekort by Gloucester inval), Willie le Roux (London Wasps), Cheslin Kolbe (Toulouse), Faf de Klerk (Sale Sharks), Cobus Reinach (Northampton Saints), Vincent Koch (Saracens) en Francois Louw (Bath) insluit asook byna sekere keuses soos Damian Willemse, Wilco Louw, Bongi Mbonambi (almal WP) en S’bu Nkosi, Jean-Luc du Preez, Akker van der Merwe, Thomas du Toit en dalk ook Dan du Preez (almal Sharks).

Daar was sprake dat die veelsydige veteraan Gio Aplon (Toyota Verblitz in Japan), ook betrek sou word, maar drie ander spelers wat in Japan speel (Duane Vermeulen, RG Snyman en André Esterhuizen) is reeds in Stellenbosch en hy nie.

Aplon (36) kon as heelagter betrek word omdat Le Roux en Kolbe nie beskikbaar is vir die eerste toetswedstryd teen Engeland nie, aangesien die toetswedstryd buite die toetsvenster val. Maar alles dui nou daarop dat Willemse die heelagter teen Engeland sal wees.

Ook sou dit die verkeerde boodskap aan plaaslike begaafde spelers soos Divan Rossouw, Curwin Bosch en Dillyn Leyds uitgestuur het.

Maar dan weet ʼn mens nooit met Erasmus nie, want hy hou jou aan die raai.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gollie ·

Geen Blou Bul of Lion spelers in nie dit laat wonder met wie se kop hy smokkel.Dalk met hom eie kop om homself die trekpas te gee.Sy eerste wedstryd sal hom laat besef spankeuse was swak.

Lions&Bulle ·

Hi Golle, daar is verskeie Lions en Bulle in die oefengroep: Forwards – Schalk Brits, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Siya Kolisi (c), Frans Malherbe, Malcolm Marx, Trevor Nyakane, RG Snyman, Duane Vermeulen, Warren Whiteley.

Backs – Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, André Esterhuizen, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Embrose Papier, Handré Pollard, Ivan van Zyl.

Stefan ·

Gollie, hier is die oefengroep, daar is Lions en Bulle in die groep:
– Schalk Brits, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Siya Kolisi (c), Frans Malherbe, Malcolm Marx, Trevor Nyakane, RG Snyman, Duane Vermeulen, Warren Whiteley.

Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, André Esterhuizen, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Embrose Papier, Handré Pollard, Ivan van Zyl.

Hanna ·

Ag tog julle verskoon maar die Bulle se kommentaar, nou nie dat hulle span waffers gevaar het die seisoen nie. Rassie ons staan agter jou, doen so voort!!!!

koos1 ·

Hanna, het jy Saterdag se wedstryd gekyk? Die Bulle het die gunstelinge en die “onoorwinlike” WP vir 100 minute goed besig gehou.
En die was die semi finale van die Currie beker!
So, jou kommentaar hou nie regtig water nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.