Rassie sê Bokke het begrip vir kritiek

Rassie Erasmus. Foto: (AP Photo/Florencia Tanjun)

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, sê die Springbokke het begrip vir hul ondersteuners se misnoeë met die span.

Die Bokke het drie agtereenvolgende toetse (twee teen die Wallabies en een teen die All Blacks) verloor en dit is veral hul skop-en-storm-spelpatroon wat rugbyliefhebbers warm onder die kraag het.

Siya Kolisi se span het die 100ste toets teen die Nieu-Seelanders met 19-17 verloor nadat Jordie Barrett in die 78ste minuut van die wedstryd die wenstrafskop oor die dwarslat gejaag het.

Die Bokke het daarna – in plaas daarvan om die bal vas te hou – besluit om die All Blacks eerder met nóg ’n hangskop te peper en hulle kon nie daarin slaag om punte aan te teken nie.

Die kritiek het aanvanklik grotendeels van oorsese rugbykenners gekom, maar sedert die nederlae is Suid-Afrikaners ook ontevrede met hierdie benadering.

“Toe ons met twee of drie punte gewen het, het ons nie gekla oor die lof en positiewe kommentaar wat ons gekry het nie. Ons verseker julle dus dat ons verstaan en nie sal kla wanneer ons die negatiwiteit verdien wanneer ons met ’n paar punte te verloor nie,” het Erasmus getwiet.

Tog is sommige ondersteuners steeds nie tevrede nie.

“Ons kla nie soseer omdat ons verloor het nie. Ons kla omdat ons met ’n uitstekende senterpaar en vleuels van wêreldgehalte sit en julle besluit op ’n wedstrydbenadering wat deur skoppe oorheers word. Dit maak nie sin nie,” het een sosialemediagebruiker geskryf.

Ander het weer gesê dat hulle die Bokke deur dik en dun sal ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SjN ·

Geen begrip volgens my, dan sou hul die wedstryd plan verander het Rassie.

Henry ·

Rassie, wees liewer eerlik….. Is jy tevrede met die spelpatroon??

koos10 ·

Rassie, daai opmerking is soos die opmerkings van ‘n politikus wat met sy hand in die koekieblik betrap word of een wat stemme probeer werf!

Chappie ·

Dis seker maar net ek maar ek lees meer sarkasme in Rassie se woorde as begrip…lol

James Milne ·

Kom nou Rassie, drie toetse verloor, jy skuld ons drie videos en moenie weer die skeidsregters aanval nie. Ek dink jy moet weer gaan water dra in die volgende toets. Jy het mos teen die Britse en Ierse Leeus deur jou optrede gewys dat jy geen vertroue het in Nienaber en sy afrigtingspan nie, geen vertroue het in die spelers se vermoe om besluite op die veld te neem nie en vir seker geen vertroue in die kaptein se leiding op die veld nie. Jy was met elke onderbreking op die veld met jou waterbottel as verskoning, maar jou eintlike doel was om steeds in beheer te wees. Ek dink jy het jou naam met n plank geslaan.

Frans ·

Een spelpatroon vir alle teenstanders is ‘n patroon vir mislukking want alle spanne reageer nie dieselfde nie.Die drie verloorwedstryde het dit duidelik gemaak dat nie alle spanne soos die Engelse in die wêreldbeker eindstryd gaan knak onder die druk waaronder die Bokke se spelpatroon hul plaas nie.

piet ·

As ons meer positiewe rugby speel wen ons dalk meer gemaklik en hoef ons nie elke keer op ons basvelle deur te skuur nie…en dan verloor ons dalk nie so baie wedstryde op die laaste nippertjie nie. En ek is seker as ons meer positiewe rugby speel gaan die ondersteuners meer verdraagsaam wees as ons verloor en ten minste kan mens dan darem die spel geniet ook. Onthou julle daai fantastiese wedstryd teen die AB’s so ‘n paar jaar terug op Ellis Park toe die spanne so geharloop het maar die AB’s het oplaas steeds met 10 punte gewen. Die wedstryd wat Nigel Owens as die beste wedstryd beskou wat hy geblaas het. Ons was terleurgesteld dat die Bokke op die einde verloor het maar almal het die rugby geniet. Tans is dit ‘n sieldodende skop drama wat niemand eintlik wil sien nie en ons verloor.

piet ·

Dis nogal interessant. Vir ‘n lang tyd het die Bokke ‘n reputasie gehad (somtyds geregverdig) van vuilspel. Dit het ons ‘n lang tyd gevat om van daai reputasie ontslae te raak. Nou beskou die hele wereld ons van hierdie sieldodende hoop-skop rugby. Ek wonder hoe lank gaan dit vat om die persepsie om te keer? Hierdie spelpatroon kan natuurlik ook die gevolg he dat (veral oorsese) toeskouers nie meer moeite gaan doen om die Bokke in aksie te sien nie. Die Bokke gaan nie meer die “draw card” wees van voorheen nie. En mens kan nie die toeskouers blameer nie, wie wil nou regtig duur betaal om sulke gemors te aanskou.

Andries ·

Wat het van opwindende SA rugby geword? Ek sal ‘n verloor soos ‘n man vat as daar lekker opwindende rugby gespeel word. Nou moet ons na ‘n vervelige geskoppery kyk met die hoop dat daar punte op die bord kom deur die ander span se “druk onder die bal foute”….. Kry die bal by die vleuels. Ek wil my keel seer skree op Makazole Mapimpi.

Kry begrip dat ons bloed tydens die wedstryd wil kook en nie na die wedstryd nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.