Rassie se kans om Bokrugby in ere te herstel

Hier gaan ons alweer: Is Springbokrugby op die regte pad met Rassie Erasmus as afrigter?

Toe Allister Coetzee in 2016 aangestel is, is dieselfde vraag gevra.

Só ook met Heyneke Meyer, Peter de Villiers, Jake White en Rudolf Straeuli voor hom, asook ʼn rits ander Springbokafrigters voor hulle.

Daar heers altyd opgewondenheid voor ʼn eerste toets met ʼn nuwe afrigter in die saal. Is die regte span gekies? Watter speelpatroon gaan die Bokke volg? Gaan die eerste treë gegee word vir die aanslag op die Wêreldbekerkroon in 2019 in Tokio?

Coetzee se aanslag het reeds in sy eerste toets teen Ierland ontspoor toe die Iere met 26-20 gewen het. Coetzee het nooit volkome herstel nie en hy het toenemend die kluts kwytgeraak totdat dit nie meer verduur kon word nie.

Erasmus het alles in sy guns: Hy kan kies wie hy wil, hy kon sy eie afrigtingspan aanwys, hy het drie belyningskampe gehou en het die samewerking van al die Superrugbyafrigters.

Maar alles kan ongedaan gemaak word as die Springbokke Saterdag in Washington DC teen Wallis sukkel.

Wallis? Die Rooi Drake is agter die Springbokke op die wêreldranglys én hulle is gestroop van hul topspelers wat beseer is, ʼn ruskans gegee word of nie beskikbaar is nie.

Ja, dis ook nie Springbokke se keurspan nie. Daar is sewe nuwelinge in die beginspan en nog ses nuwelinge op die bank. Boonop het die span eers Donderdagoggend in Washington aangekom.

Kom ons kyk waar staan ons: Daar is kommer oor die algehele agteruitgang van Suid-Afrikaanse rugby, al word die krake toegemessel.

Al hoe dit reggestel kan word, is as die Springbokke die wiel kan laat draai.

Boonop het die Walliese afrigter, Warren Gatland, sy grootste wedstrydwenner, die makrovleuel George North, senter toe geskuif. Dit saai ʼn bietjie onsekerheid, want wat wil hy daarmee bereik?

Gaan Wallis ook die taktiek van die Scarlets volg deur die spel so vinnig moontlik te maak?

Toe Erasmus verlede jaar vir Munster afgerig het, het die Scarlets die Iere in die eindstryd van die Pro14-reeks gemesmeraais.

Het Erasmus enige lesse daaruit geleer? Is daar ʼn plan B, of val hy terug op die tradisionele sterkpunte van Springbokrugby om met die voorspelers sag te maak en dan agterlangs te slaan?

Die spanne ‒

Suid-Afrika
15 Curwin Bosch, 14 Travis Ismaiel, 13 Jesse Kriel, 12 André Esterhuizen, 11 Makazole Mapimpi, 10 Elton Jantjies, 9 Ivan van Zyl, 8 Dan du Preez, 7 Oupa Mohoje, 6 Kwagga Smith, 5 Pieter-Steph du Toit (kaptein), 4 Jason Jenkins, 3 Wilco Louw, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Ox Nche. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Steven Kitshoff, 18 Thomas du Toit, 19 Marvin Orie, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Embrose Papier, 22 Robert du Preez, 23 Warrick Gelant.

Wallis
15 Hallam Amos, 14 Tom Prydie, 13 George North, 12 Owen Watkin, 11 Steff Evans, 10 Gareth Anscombe, 9 Tomos Williams, 8 Ross Moriarty, 7 Ellis Jenkins (kaptein), 6 Seb Davies, 5 Cory Hill, 4 Bradley Davies, 3 Dillon Lewis, 2 Elliot Dee, 1 Nicky Smith. Bank: 16 Ryan Elias, 17 Wyn Jones, 18 Rhodri Jones, 19 Adam Beard, 20 Aaron Wainwright, 21 Aled Davies, 22 Rhys Patchell/Gareth Davies, 23 Hadleigh Parkes.

Skeidsregter: Matthew Carley (Engeland).
Assistentskeidsregters: Alexandre Ruiz (Frankryk), Frank Murphy (Ierland).
TV-skeidsregter: David Grashoff (Engeland).

Afskop: 23:00 (SA tyd).

Verwagte weer: Bewolk en warm met verwagte donderbuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

‘n Era is verewig verby. Kwotas het dit tot niet gemaak, van jare gelede af al. Kwotas geld dan selfs in rugby op enige vlak, dus is die kans goed dat die persoon wat in die Bokgroep beland, erns langs die pad as ‘n kwotaspeler voordeel getrek het, en so daar beland het. Hoe gouer die Springbok naam verander word, des te beter. Ongelukkig het die naam Springbok nog handelswaarde en is dit al rede dat daar so geklou word.

Susanne ·

Stem 100% saam met Willem. Kwotas het die Springbok naam baie sleg gemaak.

John ·

Is Rassie die Vrystaatse rugby-afrigter van ‘n dekade gelede met ‘n megafoon op die stadiondak wat elke beweging ge-order het? Indien wel kan die spelers hulle regmaak vir ‘n Nazi-agtige veldmaarskalk wat glo nie een van die spelers het ‘n gryntjie breinkrag nie. Hoop dis nie daai ou nie…

Stompie van As ·

John. Was dit die tyd toe die Vrystaat die curiebeker gewen het?

Buffel ·

2018 Sal Bokke se swakste jaar in geskiedenis van Springbok rugby wees. Heeltemal te veel kwota spelers, kwota kaptein, besluitloosheid deur afrigter re te veel spelers in die groep, aanhoudende politieke inmenging deur die Bok emblem te wil “slag” etc. Bok rugby is al so verneder in die verlede veral deur Toetie se laaste 2 jaar. Beter dat die Bok maar geslag word en die kwota spannetjie oor 5 jaar aasukkel om die Afrika beker te probeer wen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.