Rassie se leenspelers laat Engeland se sukkel-klubs weer dink

Rassie Erasmus se grootskaalse “lenery” van oorsese spelers tydens die sogenaamde toetsgleuwe in Junie en November kan vir Suid-Afrikaanse rugby vorentoe goeie nuus wees.

Veral die Engelse klubs het vanjaar meer as gewoonlik oor dié reël gebrom, ook oor die ses tuisunies se spelers wat van hulle af na toetsspanne opgetrek word.

In hierdie dae waar Engeland se klubs finansieel swaar trek, voel hulle dat hulle nie waarde vir hulle geld kry met die duur spelers wat tydens dié tydperk nie vir klubrugby beskikbaar is nie.

Hulle word wel deur die toetsunies vir die leenspelers se afwesigheid betaal, maar die algehele uitgawe aan die duurder spelers (en die verswakte spanne in dié tydperk) regverdig nie die groot kontrakte nie.

♦  Al ses toetsunies se klubs, met dié in Frankryk in mindere mate, kry swaar.

Selfs in oënskynlik skatryk Engeland, ná die uiters winsgewende Wêreldbeker-toernooi van 2015 en waar die klubs finansiële bystand van die RFU kry, het net een van die 12 Premierliga-klubs (Bristol) ná verlede seisoen ʼn wins getoon.

Die 12 klubs het gesamentlik £28,5 miljoen (R511 miljoen) verliese getoon. Harlequins se verlies was die ergste (£6,6 miljoen, oftewel R118 miljoen).

Die Springbok-heelagter Willie le Roux se klub Wasps het die hoogste salarisrekening gehad (£17 miljoen, R305 miljoen). Hulle leningskuld aan die eienaars, Wasps Holdings Limited, het toe meer as ʼn miljard rand (£87 miljoen, dit is R1 560 miljoen) beloop.

Wasps se verlies verlede seisoen was £3,7 miljoen (R66,3 miljoen).

♦ Daar word verwag dat ʼn hele paar topspelers van die Suidelike Halfrond ná die Wêreldbeker-toernooi na die noorde sal verskuif en sodoende hulle kans sal verbeur om toetse vir veral Nieu-Seeland en die Wallabies te speel. (Dié reëling geld nie vir die Wêreldbeker-toernooi nie.)

Hulle sal dus tydens die toetsgleuwe steeds beskikbaar vir die klubs wees en is dus ʼn veel beter kopie as die huidige toetsspelers. En hulle kan hulle maar klaarmaak dat die salarisse sal sak, want dit kan nie anders nie.

♦ Dis reeds een van daardie hoender-eier situasies by Wasps waar Le Roux gaan padgee.

Die Wasps-klub in Coventry wil graag meer waarde vir salariskoste uit die spelers kry. Le Roux is glo een van drie van die beste, duurste en ook gewildste spelers by die klubondersteuners, wat op pad is.

Le Roux se kop staan Japan toe ná die einde van die huidige Britse seisoen, wat aanstaande jaar in April ten einde loop.

Nêrens word daar openlik gesê die klub wil spesifiek dié drie laat gaan nie, maar die aanduidings is dat hulle dit sal verwelkom.

Dié drie, die Engelse vleuel Elliot Daly en sy Engeland-spanmaat Hughes Nathan, wat onlangs vir ses weke geskors is, tel onder die klub se hoogs betaalde spelers. Hulle onbeskikbaarheid vir ligawedstryde tydens die sogenaamde toetsgleuwe, wanneer hulle vir Engeland of Suid-Afrika moet speel, maak hulle ʼn geringer bate vir Wasps.

Elliot wil padgee (bestemming onbekend) en Nathan het ʼn groot aanbod van die ryk Bristol gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.