Rassie se pad besaai met dorings

Rassie Erasmus – sy pad is met dorings besaai. (Foto: Twitter munsterrugby)

Daar is ʼn hele paar spoedhobbels in die pad van die waarskynlike Springbokafrigter, Rassie Erasmus, voordat hy sy Springbokspan kan aanwys en voorberei vir die onsinnige toets teen Wallis op 2 Junie in Washington DC.

Pale Toe! het reeds ʼn paar weke gelede berig dat die Walliese toets gebruik sal word om die koffers van Saru te vul en die Walliesers te slyp vir hul reeks teen Argentinië.

Erasmus (hy sal darem sekerlik binne die volgende paar dae aangewys word as afrigter in Allister Coetzee se plek) mik glo daarna om twee Springbokspanne te kies – ʼn sogenaamde swakker span (wat uit baie spelers kan bestaan wat oorsee speel, maar nie saamgeoefen het nie) vir die Walliese toets en dan sy sterkste span vir die reeks van drie toetse teen Engeland, wat op 9 Junie begin.

Van die Bokke wat teen Wallis speel, kan in aanmerking vir die tweede en derde toetse teen Engeland kom.

Dit kan nie anders nie, want vanweë logistieke probleme, sal die spelers wat teen Wallis speel, vlugflou wees weens die groot tydsverskil en lang vlugte tussen Suid-Afrika en die VSA … en boonop as die span weer in ekonomiese klas moet vlieg.

Eina!

Maar, die toets teen Wallis val buite die toetsvenster en die eindstryd van die Franse Top14-reeks word eers op 2 Junie beslis, die dag wanneer die Bokke veronderstel is om teen Wallis te speel.

Montpellier (gelaai met ʼn magdom Suid-Afrikaanse spelers soos Jan Serfontein, Frans Steyn, Ruan Pienaar, Jannie en Bismarck du Plessis en Paul Willemse) is die huidige voorloper in die Franse Pro14-reeks, gevolg deur Racing92 (Pat Lambie), La Rochelle (Paul Jordaan) en Toulon (Bryan Habana, JP Pietersen, Marcel van der Merwe, Juandré Kruger en Duane Vermeulen).

As Montpellier byvoorbeeld teen Toulon speel, sit Erasmus in tamatiestraat.

Die eindstryd van die Engelse Premierliga word op 26 Mei beslis, slegs ʼn week voor die Wallis-toets. Saracens (Vincent Koch, Schalk Burger) is voor op die puntelys, gevolg deur die Exeter Chiefs, London Wasps (Willie le Roux, Juan de Jongh en Ashley Johnson) en Gloucester (Ruan Ackermann).

Een van die ander probleme is die Saru-regulasie dat slegs spelers wat in 30 of meer toetse gespeel het, vir die Bokke in aanmerking mag kom. Dit skakel Koch (tensy hy binnekort permanent na Suid-Afrika  terugkeer), Willemse, Jordaan en ʼn rits ander spelers uit.

Ook, soos ons voorheen gevra het: wie gaan watter Springbokspan afrig en water die twee spanne  nie Springbokkleure af nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

bloues ·

Rassie kan 6 spanne kies as hy wil, dit gaan nie help nie. Springbok keurders sal vir Cronje op 9 kies en daar begin die bokkies se probleme. Teen die tyd wat Cronje die bal aangee is die teenstanders al tussen ons agterlyn spelers.
Rassie se volgende probleem is op nr 10. Miskien wys Pollard hy is reg , andersins het die bokkies daar ook moeilikheid.

Herman Goosen ·

Werklik vreemd vir my dat Rassie so ‘n pos sou aanvaar gegewe die feit dat hy ondervinding het van SARU se streke. Baie van hierdie spelers wat oorsee speel het werklik al beter dae gesien en speel in Europa weens die minder fisieke aard van hulle rugby. Daar is horde spelers in die land wat heeltemal goed genoeg is en wereldklas rugby speel. Ons almal weet egter dat die regte spelers nie gekies word om Springbokke te word nie, en geen afrigter kan kampioene va minderwaardige spelers maak nie.

Eish ·

Ek deel jou sentiment, maar soos die spreekwoord lui, as jy die bed opgemaak het, gaan jy in hom slaap, dorings of te not!

Ou Johnny ·

As asb…. gee eerder die pos vir Kobus Wiese wat weet wat in rugby aangaan.

Willie ·

Wat is ons so behep met oorseese spelers, die meeste is oor die bult en op die afdraande pad. HM het die pad geloop en sleg tweede gekom nou verwag almal wat leef en beef dat Rassie dieselfde moet doen. As ons nie uit die 300 spelers wat in die top reeks deelneem ‘n span kan kies wat hulle self kan laat geld nie, kan jy al die All Blacks & Engels spelers vir hom gee en dit sal nog steeds ‘n treurmare wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.