Rassie se Pollie-probleem

Handré Pollard stuur sy agterlyn weg in ʼn vorige toets. (Foto GB Jordaan)

Een van die groot raaisels in die Springbok-rugbykamp is hoekom Handré Pollard sy selfvertroue verloor het en hoe en deur wie dit reggestel kan word.

Pollard was die afgelope twee weke teen die Argentynse Poemas net ʼn skadu van die talentvolle en vaardige speler van wie daar so baie as jongeling verwag is.

Toe hy Saterdag in Mendoza met sy eerste strafskop van feitlik reg voor die pale misluk het, was dit klaarpraat.

Hy kon vir die res van die toets nie beheer neem nie en is deur die vlugvoetige Nicolás Sánchez oorskadu. Dit het ʼn baie groot rol in die Poemas se oorwinning van 32-19 gespeel, want as jou losskakel die dag warm en koud blaas, is dit neusie verby. Dit syfer soos suurdeeg deur na die ander spelers.

Vergelyk dit met die All Blacks-losskakel Beauden Barrett, wat ʼn byna foutlose vertoning in die oorwinning van 40-12 oor die Wallabies in Auckland gelewer het.

Wanneer sy span droog gemaak het (en dit was maar bra min) en tog kringetjie gemaak het, was Barrett aan die woord.

Hy het gepraat en gedoen.

Hy het gesorg dat die beste uit die onervare binnesenter Ngani Laumape, wat glo baie min tydens wedstryde praat, gehaal word. Barrett het ook gesorg dat Jack Goodhue, wat slegs in sy tweede toets in die opdrafspan was, soos ʼn veteraan vertoon.

Terug na Pollard. Probleem nommer een: Het Mzwandile Stick as agterlynafrigter die kennis en ervaring om sake reg stel? (Swys de Bruin is deur die Lions vrygestel om weer van die week af by die Bokke se afrigtingspan as aanvals- en agterlynkonsultant aan te sluit nadat hy die Goue Leeus se nuwe Curriebeker-afrigter, Cash van Rooyen, voor hulle eerste Curriebeker-wedstryd bygestaan het. De Bruin vertrek Saterdag saam met die Bokke na Australasië.)

Probleem nommer twee: Hoeveel ervaring was langs Pollard? ʼn Onervare senterpaar van André Esterhuizen en Lukhanyo Am (albei 4 toetse) en die twee vleuels, Makazole Mapimpi (3 toetse – hy is deur Lionel Mapoe, 14 toetse vervang) en Aphiwe Dyantyi (5 toetse). Toe word die jong Damian Willemse (2 toetse) boonop opgestuur.

Het die kaptein, Siya Kolisi, Pollard ooit eenkant toe geroep, ʼn kloppie op die skouer gegee en moed ingepraat? Wie anders het, of kon?

Probleem nommer drie: Benewens Faf de Klerk, wie kan die stelskopwerk oorneem as Pollard weer misluk?

Kom ons kyk na Pollard se vertonings in ʼn Springboktrui. In 31 toetse was hy 17 keer aan die wenkant en 14 keer in ʼn verloorspan vir ʼn wenpersentasie van 54,8%.

In die Rugbykampioenskap was hy in 13 toetse net vyf keer in ʼn wenspan vir ʼn wenpersentasie van slegs 40%.

Wie kan hom sy selvertroue teruggee, want Springbokrugby kan nie sonder ʼn vaardige losskakel klaarkom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

bloues ·

Polard moet leer om dieper te staan, dan sal hy nie bal en verdedigers gelyk ontvang nie.
As hy dan losvoorspeelers het kan hulle van hom af speel.
Kwagga speel in n Barberian span wat teen die All Blacks verloor en word bekroon met speler van die wedstryd. Kry dan net een kans in die groen trui.
Dit maak nie vir my sin nie,

Hendrik UAE ·

Die antwoord op n die wereld se gebede kaptein is veronderstel om Polllie te help.Einste kaptein wat van die begin af (toe Pollie nog selfvertroue gehad het) nee se vir drie punte met n strafskop.Kaptein speel dalk goed genoeg maar is nie die kapteinskap werd nie.Sien hom nooit daardie belangrike man tot man praatjie doen nie.Ek stem ook saam want agterlyn afrigter kon nie eers n skole span afrig nie.

rollie ·

Hou op om die swart ouens skuld te gee vir wit spelers wat nie die mas opkom nie. Willemse moet onmiddellik vir Pollard op losskakel vervang, hy het baie meer om te bied.

Wesley ·

Is dit hoe jou werk werk Hendrik? O nee baas, sorry ek kon nie my werk reg doen nie, my mede-kollegas was onervare en jy het my nie kom moed inpraat nie…. Als almal anders se skuld.

Wim ·

Nooit gesien dat die Kaptein met Pollard of met enige ander speler praat nie – wat is sy funksie dan? Glo nie hy is opgewasse vir d talk nie

bollie ·

Ons het ‘n losskakel nodig wat rats en vinnig van die merk is om die agterlyn weg te kry. Tans beskik slegs Willemse daai eienskappe. Ek sal die jongeling ‘n kans gee. Hy sal foute maak maar is ‘n belegging in die toekoms…anders moet hulle vir Willie op losskakel probeer (eintlik die enigste ander ou wat visie agterlangs het).

Afrikaan ·

Raak eerste van Stick ontslae. Hy is ‘n swak coach en AC kon ook nie met hom werk nie. Vervang hom voor hy die hele agterlyn opneuk. Speel vir Willemse op losskakel en Pollard langs hom op binnesenter. Dan het ons skill en ervaring.

Arie ·

Hulle kan insit net wie hulle wil dit sal nie help nie, geen/niks/nada afrigting nie. Stick weet nie wat rugby is nie en Rassie probeer net om die anc happy te hou, dink ek is klaar met rugby ek wag nooit weer vir ‘n toets nie

Wesley ·

O so lat ek dit regkry, dit is almal anders se werk om moed en selfvertroue in Pollard in te praat, om al die werk te doen om hom voor hy sy stempel kan neerdruk, en sy vertoning is glad nie sy eie skuld nie? Sjoe hoe verlig is ek nou nie. Nou kan hy maar terugsit, goue seun van Bok rugby bly en sulke snert opvreet soos soetkoek…

Anoniem ·

Die probleem lê by die pak voorspelers wat nie meer kan domineer en oorheers nie en nie Jantjies of Pollard is spelers wat op die agtervoet kan speel nie. Deur te diep te speel beteken jy haal jou agterspelers uit die wedstryd, want hulle gaan selde oor die voordeellyn kan kom. Die pak moet verander, Kitshoff en Wilco Louw MOET begin, dieselfde vir Pieter Steph du Toit as Etzebeth of RG Snyman se slotmaat. Ek sal egter baie graag ‘n lostrio van Marco van Staden, Pieter Steph du Toit en Duane Vermeulen wil sien saamspeel.

Boland ·

Sterk agsteman.Groot 7 flank wat bal dra en 6 is jou fetcher.Die All Blacks druk driee deur die bal na die gate of oop veld te stuur.Bal sal altyd vinniger as die speler wees.Bokke se verdediging is swak.Sit hulle self onder druk deur onnodig punte af te staan.

Kerneels ·

Swak verdediging = vleuls uit posisie. Ten spyte van mapoe se twee drieë (waar hy net bal moes vang en druk), kom hy telke maal binne toe om te (probeer) verdedig en veroorsaak in die proses gapings op die punte.

Ruiklont ·

Van wanneer af is daar een of twee spelers in ‘n span. So te sê die hele span was laks. Staan stadig op, beweeg traag na hul posisies, die beste senter op die veld was Kolisie, hy weet blykbaar nie wat sy eintlike posisie is nie. Ek is jammer maar nie voor rugby eerste kom nie sal dit nie goed gaan nie

Nico ·

Pollard se loopbaan het reeds stelselmatig begin ontspoor toe hy na die Bulle is. Hulle het hom gelok op grond van wst hy op skool gedoen het maar alle afrigters tot nou glo mos aan 10 en 12 moet hulle disnis hardloop teen oppente anders tel hulle niks. Soveel jong spelers word gewerf op wat hulle op skool gedoen het maar word zombies gemaak in grootmens rugby. Jan Serfontein was ‘n ander sprekende voorbeeld totdat Franco jom weet laat rugby speel het.

Herman Goosen ·

Ons is bloot besig om foute orals te soek behalwe waar dit eintlik is. Raak ontslae van Springbok bestuur en sit professionele mense wat weet wat hulle doen in die werk. Dan sal dinge ondertoe ook verbeter.

LHS ·

Beide die Leeus se stutte, asook beide flanke, asook nr’s 9, 10,12,14 en 15 is veronderstel om nog in die groep te wees. Kyle Brink is beseer, goed en wel. Ruan Combrinck is die enigste vleuel wat kan aanval en verdedig en as bonus skop hy nog n 60m strafskop ook oor. Elton Jantjies is nie volmaak nie maar ten minste het hy ondervinding, kan pale toe skop en algemene spelpeil onder omstandighede die beste wat ons het huidiglik.

LHS ·

Myns insiens hoort net die volgende huidige spelers in die beginspan. Nommers 2, 4,5 , 8 , 9, 15 en moontlik 12. Nommers 4 en 5 kan enige van Etsebeth, Mosterd, du Toit of Snyman wees. Wie hoort baie verseker nie daar? Beide flanke, 12 se verdediging is goed, goeie stormram maar nie n spelskepper, 13, 11,14, 10. Waar is Ruhan J. v. Rensburg ?

rollie ·

Rohaan is besig met sy kursus by Weight Watchers. Hulle reken hy sal volgende jaar weer beskikbaar wees nadat hy so 20kg verloor het.

rollie ·

My agterlyn: Faf, Willemse, De Allende, Kriel, Dyanti, Leyds, Willie

Ria ·

Rassie het meer probleme as net die Pollie probleem…Die hele Springbok span…Gaan try julle luck Saterdag teen die Wallabys….Maar ASB…bly weg van NZ…hulle gaan julle insluk en soos ñ stuk snot uitspoeg op die veld…..Ria.

Frans C ·

Dit is net die Argentyne en All Blacks wat spanne op die veld kan stuur wat lank saamgespeel het.Die dag toe toegelaat word dat ‘n Argentynse nasionale span toegelaat word om in die Superrugbyreeks te speel,het ek geweet hier kom moeilikheid vir die Bokke.
Onthou daar is 24 provinsiale spanne in Argentinië,maar die span is nie om een provinsie soos by die ander gevorm vir superrugby nie,maar bestaan uit al die spelers
wat eers onder Jaquares deelgeneem het en nou pnder ‘Los Pumas’ in die 4 nasiereeks
speel.
Natuurlik sal hul samespel stukke beter as die Bokke en Walabies wees.Die All Blacks
gebruik die vaste 5 van die Crusaders en kom hul eerste senterpaar ook van die Crusaders af.Ons beste span die Lions kan net 2 voorspelers oplewer.
Hier reken ons gooi 15 spelers van al die provinsies bymekaar en siedaar jy het ‘n wenspan.Dit is natuurlik twak want wenspanne word oor seisoene en nie in een jaar met
‘n klompie toetse gevorm nie.
Ons is in die moeilikheid want ons glo in kwantiteit en nie kwaliteit.Wp-ondersteuners
juig as hul span die Cheetahs,wat 12 spelers verloor het klop.SARU is net so oningelig
want die Kings en Cheetahs word voor die wolwe gegooi teen spanne wat wemel van oorseese spelers,meesal in privaatbesit met diep beursies.

nico k ·

Ek sien iemand skryf dat Ruan Combrinck kan verdedig? Ek het hom al te veel sy man sien mis.

Johan ·

Solank die huidige kaptein in die span is sal die Springbokke n verloorspan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.