Rassie se span teen Engeland kan moontlik só lyk

Rassie Erasmus – Bokafrigter. (Foto: Twitter munsterrugby)

Rassie Erasmus se toetsspan teen Engeland op 9 Junie kan feitlik voorspel word as hy, soos baie waarnemers meen, twee “spanne” vir die twee toetse gekies het.

ʼn Kykie na die groep wat Woensdag na die VSA vlieg vir Saterdag se geldmaaktoets in Washington DC, en veral ook na die 17 spelers wat in Suid-Afrika agtergebly het, gee oënskynlik die toetsgeheim teen Engeland weg. (Ons sluit Bismarck du Plessis en Frans Steyn, wat die naweek nog in Frankryk speel, by die 17-tal in).

Maar is die kies van die span teen Engeland werklik so eenvoudig? Benewens die 17 wat nie Washington toe is nie, moet minstens nóg ses van die VSA-groep ook gekies word om die 23-tal teen Engeland te vul.

Die 26 spelers op pad na die VSA sal dus natuurlik nog in berekening gebring moet word.

Só kan jy byvoorbeeld maar aanvaar Pieter-Steph du Toit, wat die span in die VSA aanvoer, sal ook teen Engeland uitdraf.

Drie van die vier hakers in die groep van 43 gaan VSA toe. Bismarck du Plessis, wat Maandag ná ʼn naweek-oortreding deur ʼn tugkomitee vrygespreek is, sal as haker teen Engeland opdraf (en hopelik nie in dié toets die trekpas kry ná ʼn redelike onstuimige seisoen vir Montpellier nie).

Beast Mtawarira en Trevor Nyakane lyk na die beginstutte en RG Snyman en Du Toit die waarskynlike slotte teen Engeland, met Franco Mostert stellig op die bank. Maar wat van Steven Kitshoff? En Wilco Louw?

Met drie van die vier skrumskakels in die VSA-groep, dui dit daarop dat Faf de Klerk teen Engeland  agter die oond sal diens doen.

Handré Pollard het tuis gebly, met Elton Jantjies wat losskakel teen Wallis sal speel. Pollard sal dus die waarskynlike opdraf-losskakel teen Engeland wees met Du Preez moontlik op die bank.

Die senters wat agtergebly het, is Damian de Allende, Lukhanyo Am en Frans Steyn, wat ook as heelagter teen Engeland oorweeg kan word. Jesse kriel en André Esterhuizen mag dalk ook ʼn plek teen Wallis kan oop speel.

Aan hul buitekant is die Lions se Aphiwe Dyanti en S’Bu Nkosi van die Sharks die twee vleuels wat waarskynlik albei hul eerste proesel toetsrugby sal kry.

Dalk word Willie le Roux ook op vleuel oorweeg, waar hy dikwels vir Wasps speel en goeie drieë druk.

Die heelagter? Wie weet … Steyn, Willie le Roux, Curwin Bosch of Gelant.

Daar is veral by die agterspelers ʼn hele paar spelers wat in meer as een, en in die geval van Frans Steyn in meer as twee, posisies op toetsvlak kan speel. Dit maak die keuse van die bankspelers besonder interessant. Dalk kies Erasmus daarom vyf voorspelers en net drie agterspelers op die bank.

Spankies is altyd ʼn sekere manier om kritiek te ontlok en lekker vir gesprekke om die vuur in hierdie koue dae.

Tog lyk dit of die kern van die Bokspan wat teen Engeland sal speel, iets soos die volgende sal lyk (met net sewe uit die 23 wat gekleurde spelers is. Hulle is almal in die opdrafspan) ‒

Opdrafspan
Heelagter: Willie le Roux (of Frans Steyn)
Vleuels: Aphiwe Dyanti, S’Bu Nkosi (of Willie le Roux)
Senters: Damian de Allende, Lukhanyo Am  (of Frans Steyn)
Losskakel: Handré Pollard
Skrumskakel: Faf de Klerk
Agsteman: Duane Vermeulen
Flanke: Siya Kolisi, Jean-Luc du Preez
Slotte: Pieter-Steph du Toit, RG Snyman
Stutte: Beast Mtawarira (of Steven Kitshoff), Trevor Nyakane (of Wilco Louw)
Haker: Bismarck du Plessis

Bank
Akker van der Merwe, Steven Kitshoff, Wilco Louw, Franco Mostert, Dan du Preez/Kwagga Smith, Robert du Preez/Elton Jantjies/Frans Steyn, Warrick Gelant/Jesse Kriel, Ivan van Zyl of Cameron Wright.

Die groep wat Woensdag na Wallis vertrek:

Voorspelers
Nizaam Carr, Dan du Preez, Pieter-Steph du Toit (kapt.), Thomas du Toit, Jason Jenkins, Steven Kitshoff, Wilco Louw, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Oupa Mohojé, Ox Nché, Sikhumbuzo Notshe, Marvin Orie, Chiliboy Ralepelle, Kwagga Smith, Akker van der Merwe.
Agterspelers
Curwin Bosch, André Esterhuizen, Warrick Gelant, Travis Ismaiel, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Makazole Mapimpi, Embrose Papier, Ivan van Zyl, Cameron Wright.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

LHS ·

Na alle waarskynlikheid sal Erasmus na die 3 toetse teen Engeland nie meer twee salarisse ontvang nie en sal vanuit sy kantoor as direkteur van rugby verskonings kom dat hy n sukkel span NET TYDELIK UIT NOOD moes oorneem en…………….bla, bla, bla, gaaaap. Daarna gaan n puppet aangestel word wat deur Erasmus ten volle gemanipuleer sal word, veral betreffende transformasie. Ek sal wed dat SA die reeks net 2-0 gaan verloor omrede daardie uitslag reeds met Engeland onderhandel is.

Tania Heyns ·

Dagsê Pieta

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Bul ·

Die jaar gaan die swakste ooit wees vir SA rugby op die internasionale vlak. Selfs Toetie sal sy kop optel.

B-man ·

Ek is ook ‘n bul, maar dis vir my opvallend hoe daar in die “opdrafspan” teen Engeland net twee Leeus gekies word (en dan is hulle nog op die bank ook). My kop sê vir my dat meeste van ‘n jaar se toetsspelers tog uit die huidige beste span van die betrokke jaar behoort te kom?

bloues ·

Ek dink tog die bokkies het n kans. Eddie is n geslepe afrigter en werk na die wereldbeker. Hy gaan sy kaarte styf teen die bors vashou.

Frans C ·

Sonder om swartgallig te klink,lyk dit of die Lions se dae getel is,want Ackerman is besig met ‘n aktiewe werwings veldtog. Volgens berigte in News 24, is Franco Mostert en Ruan Dreyer op Engeland toe in opvolging van Kriel en Ackerman se seun.

Die Engelse club Gloucester het reeds Dinsdag tot onsteltenis van die Lions rugby unie,die aankondiging gemaak.Volgens berigte het die Lions nie bereid om Mostert sonder ‘n geveg te laat gaan nie.

Ackerman volg nou in die voetspore van afrigters soos Jake White wat die nare gewoonte daar gestel het om spelers wat hul afgerig het te werf waar hul ook in die wêreld afrig.Dit alles om hul aansien as afrigter te verhoog ten koste van hul vorige spanne.

Frans C ·

Ek kan eenvoudig nie opgewonde raak oor die groep spelers nie.Daar is ‘n nare gevoel in my dat beide spanne nie die mas gaan opkom nie.Daar is mense op Kyknet se Superrugby program wat die span ophemel.Hulle kan seker nie anders nie want hoe gaan dit nou lyk as hul,hulle bedenkinge oor die span uitspreek.

Wat my bekommer is dat Suid Afrikaanse Super 15 spanne sukkel teen spanne wat die speeltempo afwissel,soos ‘n konsertinaspeler.

Hoe is dit moontlik dat ‘n speler soos Banks van die Brumbies ewe skielik deur drie-vier
laagvatpogings bars, ‘n potensieële Springbok heelagter verspot maklik klop en die Bulle van ‘n oorwinning beroof met 14 spelers?

Dawie ·

@Frans C….Dankie vir jou kommentaar, duidelik kyk jy ook die wedstryde..ek wil ook net noem voor hy Galant verbygesteek het, het Jesse Kriel self net touch rugby gespeel.

boerseun ·

Go Engeland!!!! Viva kolisi en sy maatjies. Wat n grap…

LHS ·

Natuurlik sal Erasmus nie Leeu spelers kies nie want netnou wen die bokke die wedstryd. Hierdie selfaangestelde afrigter se hooftaak is duidelik nie om te wen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.