Rassie se span vaar toe glad nie so sleg nie

Rassie Erasmus (Foto: Twitter/@Springboks)

Statistiek vertel natuurlik nie altyd die hele verhaal of die volle waarheid nie, maar in die Rugbykampioenskap-reeks het Suid-Afrika vanjaar ongetwyfeld beter as die afgelope jare gevaar.

Rassie Erasmus het wel in sy eerste jaar as Springbokafrigter rondgeval met sy spankeuses in die soeke na die regte span vir die Wêreldbeker-toernooi aanstaande jaar, maar die Springbokke sal nietemin Saterdag, wen of verloor teen die All Blacks, die eerste keer sedert 2014 weer tweede in die Rugbykampioenskap eindig.

Hulle kan die All Blacks, met 21 punte, nie meer verbysteek nie. Net so kan die Poemas, wat tans met agt punte derde lê – maar met ʼn neerlaag Saterdag teen die Wallabies (vyf punte) wéér vierde sal wees – nie meer tweede eindig nie.

Die Springbokke het tans 14 punte ná drie oorwinnings in vanjaar se Rugbykampioenskap-reeks, en het in 2013 én ook in 2014, in albei jare met vier oorwinnings en 19 punte, tweede ná Nieu-Seeland op die punteleer geëindig.

Hul driedruk-statistiek statistiek in die twee reekse van 2013 en 2014 was egter ook swakker as vanjaar s’n.

♦ Vergelyk bostaande drie jare, 2013, 2014 en vanjaar, met 2016 en 2017.

In 2017 was Allister Coetzee se span derde met 14 punte nadat hulle die Poemas twee keer geklop het en ook twee keer teen Australië gelykop gespeel het. Die Springbokke het toe 17 drieë gedruk en Nieu-Seeland 35.

In 2016 het hulle, ook in die derde plek, en slegs agt drieë in hul ses wedstryde gedruk teenoor die All Blacks se 38.

♦ Vanjaar se Bokke het op dié vertoning van Coetzee se spanne verbeter. Tot dusver het die Springbokke in vanjaar se reeks reeds 18 drieë gedruk en die All Blacks 29.

Erasmus-hulle het vanjaar ook beter gevaar as in 2014, toe hulle laas tweede in die Rugbykampioenskap was. Tóé het hulle in hul ses wedstryde 13 drieë gedruk en 10 afgestaan. Die kampioenspan Nieu-Seeland het 18 drieë gedruk en hul doellyn is net sewe keer oorgesteek.

In 2013 het die Bokke 19 punte gehad, en het hulle 23 drieë teenoor die 24 van die All Blacks gedruk. Hulle was boonop met punteverskil net een punt swakker daaraan toe as die All Blacks.

♦ In 2015, die Wêreldbeker-jaar, het die Bokke al drie hul wedstryde verloor. Daar is nie ʼn volle reeks gespeel nie en Suid-Afrika het weg (die eerste keer) teen Argentinië, en toe ook weg teen die Wallabies en tuis teen die All Blacks, verloor.

Die Springbokke het in 2009 laas die reeks, toe nog die Drienasies-reeks, gewen, maar toe in 2010 en ook in 2011 net een uit die vier wedstryde gewen en derde geëindig.

Hulle was in 2012 ook derde met 12 punte toe die Poemas as vierde span aan die Sanzaar-reeks begin deelneem het. Die Bokke het toe twee uit ses, albei teen die Poemas, gewen.

Die Springbokke se laaste oorwinning teen die All Blacks (voor vanjaar se eerste toets) was in 2011, toe hulle met 18-5 gewen het en toe in die tweede wedstryd met 7-40 geklop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

wolla ·

Ek reserveer my opinie tot na die einde van die jaar toer. Ons moet in gedagte hou dat die Bokke net 4 toetse verlede jaar verloor het.

Kosie ·

En hul grootste pak slae ooit teen die All Blacks gekry het. Geen gereserveerde opinie gaan ‘n jota of tittel daaraan verander nie…

LHS ·

Ek reserveer sommer my opinie dadelik deur te wys daarop dat hierdie tipe statistiek absoluut van nul en geen waarde is. Daar is geen konstante faktor om appels met appels te kan vergelyk nie. Wat wel waar is van die huidige is eintlik n uiters valse beeld van die werklikheid. Rugby in SA is net soos alle ander sportsoorte gedoem tot ewige mislukking a.g.v. polities gedrewe denke.

Niklaas ·

Die groot toets vir die Bokke is Saterdag. Teen n baie gemotiveerde en wraakgierige AB span. Mag ons hulle weer klop , al is dit net met n punt of twee (soos in NZ).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.