Rassie se strategie op sosiale media ook ’n wenner

Rassie Erasmus. Foto: (Kyodo News via AP)

Rassie Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, het nie net met sy planne as Bok-afrigter beïndruk toe Siya Kolisi se span verlede jaar die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het nie, maar is deesdae ook ’n boffin op sosiale media.

Die eerste video wat hy op sosiale media gelaai het, was van sy motiveringspraatjie vóór verlede jaar se eindstryd teen Engeland – iets wat ongehoord in internasionale afrigterskringe was.

In die eerste episode van SA Rugby se nuwe podsending-reeks het Erasmus sy skuif na die wêreld van Twitter- en Instagram-inskrywings verduidelik.

“As gesin het ons ’n Facebook-bladsy, maar dit is omtrent die naaste wat ek aan sosiale media gekom het. Maar my tweelingdogters is 16 jaar oud en hulle is baie vertroud met Instagram en daardie goed, ” het Erasmus gesê.

Tydens verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi was Erasmus-hulle se dae besonders vol – van oefeninge en spanvergaderings tot etes en fisio-sessies. Hy het daar vinnig besef dat hy sosiale media tot sy voordeel kan gebruik.

“Dit was ’n kommunikasiemedium wat my aanvanklik sommer net pleinweg geïrriteer het. Tog het ek stelselmatig begin besef dat daar ’n plek daarvoor in sport is en dat mens dit kan gebruik om ander te inspireer.”

Volgens Erasmus het hy tydens die toernooi besef dat sosiale media nuttig te pas kan kom om buitestanders nader aan die aksie te bring.

“Toe ons met die Stronger Together-veldtog begin het, het ons vinnig agtergekom dat eerlikheid en deursigtigheid vir ongelooflike ondersteuning sorg.

“Die eerste ding wat ons gedoen het, was om vir die ondersteuners en die media ’n bietjie te wys hoe ons dinge tydens die Wêreldbeker gedoen het. Ons wou vir hulle wys dat in ’n spansport soos rugby dit nie altyd oor die beste speler gaan nie, maar dat baie ander faktore tot die sukses van die span bydra.

“Mense kon sommer sien hoe ons dinge benader.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OppieProvince ·

Rassie is ‘n briljante strateeg, ek volg sy praatjies op Twitter, en al die praatjies is baie insiggewend, kan op soveel ander plekke toepas!

Michael ·

Ja nee wragtag met so ‘n ongelooflike inspirerende praatjie voor die eindstryd is ek seker hy sou ons plaaslike dorpspan ook tot ‘n oorwinning in die wereldbekereindstryd kon praat. Alle SA spanne moet hom kry om voor elke wedstryd met hulle te kom praat. Hulle sal nooit weer ‘n wedstryd verloor nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.