Rassie se waagstuk met Flo Louw

Francois Louw – veel van hom verwag. (Foto: Twitter @flolouw)

Dit verg darem baie van ʼn speler wat in 58 van sy 61 toetse flank gespeel het, om die wêreld se voorste agtsteman aan te durf.

Dit is presies wat die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, verwag deur Francois Louw op agtsteman kies vir Saterdag se toetswedstryd in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks op Loftus Versfeld.

Dit is een van drie veranderinge aan die opdrafspan wat die Wallabies verlede Saterdag in Port Elizabeth geklop het.

Louw, 33, het nog net drie keer die nr. 8-trui in toetswedstryde gedra: in 2017 toe die All Blacks die Bokke met 25-24 op Nuweland geklop het, ʼn paar weke daarna toe die Iere die Bokke met 38-3 in Dublin opgefrommel het en sowat ʼn maand gelede in Brisbane toe hy as plaasvervanger-agtsteman opgestuur is.

Die Wallabies het die Bokke dié dag (sonder David Pocock) met 23-18 geklop.

Nou word Louw weer aan die diepkant ingegooi en geweeg teen Kieran Read, wat nog net vier keer in sy 113 toetswedstryde flank gespeel het.

Is dit nie ʼn groot waagstuk nie, of is dit nie ʼn teken dat Erasmus nie die nodige vertroue in Sikhumbuzo Notshe het nie?

Nee, sê Erasmus: “Notshe het goed teen die Wallabies gespeel en sal iets anders toevoeg wanneer hy opgestuur word. Flo (Louw) het baie ervaring en is goed op die grond.”

Notshe het verlede week in die beseerde Warren Whiteley (liesbesering wat nog nie herstel het nie) se plek gespeel, maar hy is vroeg in die tweede helfte afgehaal.

Louw is beslis meer gehard, wat baie nodig teen die All Blacks sal wees.

Origens keer Damian de Allende ná sy skouerbesering op binnesenter terug in André Esterhuizen se plek, wat met sy verdediging teen die Wallabies indruk gemaak het, maar leemtes in die ander aspekte van sy mondering het.

Die woelige loskop Steven Kitshoff is in die opdrafspan, met Beast Mtawarira, asook Vincent Koch tussen die plaasvervangers.

Kan hulle die All Blacks klop? Ek weet nie so mooi nie, maar het ons so gou vergeet wat ʼn rapsie meer as twee weke gelede in Wellington gebeur het?

Die Springbokspan (aantal toetse en punte tussen hakies) –

15 Willie le Roux (49, 60), 14 Cheslin Kolbe (3, 5), 13 Jesse Kriel (35, 45), 12 Damian de Allende (32, 15), 11 Aphiwe Dyantyi (8, 30), 10 Handré Pollard (34, 278), 9 Faf de Klerk (19, 15), 8 Francois Louw (61, 45), 7 Pieter-Steph du Toit (41, 20), 6 Siya Kolisi (kaptein, 36, 25), 5 Franco Mostert (25, 5), 4 Eben Etzebeth (72, 15), 3 Frans Malherbe (24, 0), 2 Malcolm Marx (19, 20), 1 Steven Kitshoff (32, 5). Bank: 16 Bongi Mbonambi (21, 10), 17 Beast Mtawarira 106, 10), 18 Vincent Koch (9, 0), 19 RG Snyman (7, 0), 20 Sikhumbuzo Notshe (5, 0), 21 Embrose Papier (3, 0), 22 Elton Jantjies (28, 223), 23 Damian Willemse (2, 0).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Anoniem ·

Dankie vir die waarheid Rassie. Jy benodig Louw, want hy is goed op die grond, omrede jou kaptein wat veronderstel is om in sy posisie goed op die grond te wees, dit nie kan doen nie. Jy sien, jy kan ons nie bulldust nie, jy gaan uitgevang word, elke keer.

Niklaas ·

Nouja, met hierdie sterk span kan ons dalks net die magtige Allblack span troef. Kom ons hoop dit gebeur. Dis nie onmoontlik nie. Dit sal wel een reuse stryd wees , glo ek.

Piet Pille ·

Notshe kan regtig nie aanspraak maak op Springbok klere, nooit gesien in die los waardeloos in die lynstane, wass maar net daar. Hoekom die Du Preez no.8 nie in die groep is, is maar seker Bee.

LHS ·

Wat de duiwel is Erasmus se probleem. Louw het nog absoluut niks gedoen in een van die wedstryde vandat hy ingebring is. Nee wat nou het ek ook nie meer simpatie as ons baie sleg gaan verloor nie.

Frans C ·

Die Bokke mag dalk hul man voorlangs staan maar is uiters kwesbaar agterlangs veral op vleuel waar die All Blacks groot sterk hardlopers het.

Onwaarskynlik dat die Bokke die een gaan deurtrek.

Rinkhals ·

@FransC: goed gestel. Bok pak kan goed hul man staan as senior spelers genoeg leierskap toon in afwesigheid van sterk kapteinskap. Groot uitdaging is agterlangs – midveld agv afwesigheid van spoed en grootte op vleuel waar bokke weer ‘n baie klein speler gekies het om Ioane in toom te hou. Vorige wedstryd het Ioane maklik verby hom gekom om in die hoek te druk. Louw eintlik ‘n “make shift” keuse om kaptein te akkommodeer wat eintlik nie baie goed op die grond speel nie.

Koos ·

Louw is rerig Flou al vir 3 jaar lank. Wat Rassie hieruit wil wys raak vir volgend ejaar weet net hy.

Sam ·

As Rassie rerig vir Louw in die span wil hê moet hy eerder vir du Toit 8ste man maak en Louw op flank kies.

Nico ·

Marco jy moet ook maar oorsee trek want jy is nie ANC swary nie en het ook geen WP konneksies nie. Die ANC se showroom paloeka kaptein gaan dit nie vir jou moontlik maak om ‘n regvedige kans te kry nie.

RATEL ·

Louw is Flou! Hoewel ek voorstaander van ondervindig en jeug gemeng is glo ek dat ouer manne soos beast en flou nou baie minder tyd moet kry en ons jong manne moet ondervinding opdoen voor WB. As Marco weer n kans kry gaan hy dit met 2 hande moet gryp. Allblacks gaan kom vir ons

Pieter Smuts ·

Louw se spoed en hantering laat hom in die steek. Die kombinasie met Faf sal ook nie werk nie. Verdediging ook verdag. Verseker oor die muur en geen troef met oog op 2019 WB nie…

nico k ·

Ek dink nie baie van Louw nie, maar Marco het niks gedoen na hy opgekom het nie. Maar ek sal Marco graag nog ‘n kans wil gee. Ek dink die All Blacks sorg eenvoudig dat geen opposisie speler sy hande op die bal kan kry nie. Marx kon ook geen balle afneem teen hulle nie. En Esterhuizen is goed op die verdediging maar nie op die aanval. So die keuses bly maar moeilik. Ons het min uitstaande spelers in SA en arme Rassie kry maar al die kritiek.

NEL ·

Ek dink ‘n goeie opsie vir nomemr 8 is Marcell Coetzee, hy is en was nog altyd ‘n harde speller, hy het ‘n baie goeie all round game.

Nel ·

Ek dink ‘n goeie opsie op nommer 8 is Marcell Coetzee, hy speel tans vir Ulster. Baie harde speler, hy het vir my ‘n baie beter all round game as enige ander nommer 8 wat tans in die groep is.

de Villiers ·

Ek stem saam dat Coetzee ‘n baie spesiale speler is, maar onthou dat hy die laaste 2 jaar bitter min gespeel het weens beserings (ek dink iets soos 7 of 8 wedstryde die laaste 2 jaar) en ek glo hy sal nader getrek word sodra hy bietjie meer wedstydfiks is. Alhoewel hy ‘n goeie 8 is, is hy ‘n wêreldklas 6 en dis waar hy gekies moet word. Los 8 vir Duane en Whiteley dat hulle dit tussen hulle 2 uit baklei…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.