Rassie sien Sharkskaptein Ruan oor die hoof

Akker van der Merwe (Foto GB Jordaan)

Slotte is klaarblyklik nie die Springbokafrigter Rassie Erasmus se vernaamste kopsorg nie.

Hy het Dinsdag die amperse Springbokslot en kaptein van die Sharks, Ruan Botha, oor die hoof gesien met die aanwys van die 15 Sharks-spelers wat na sy volgende kamp van Sondag tot Woensdag in Durban genooi is.

Geen fisieke oefening word tydens die kamp gedoen wat gehou word om die spelers vertroud te maak met wat die Springbokafrigters vir die nasionale span in gedagte het nie.

Daar was nie plek vir Botha nie, wat verlede seisoen saam met die Bokke onder Allister Coetzee Europa toe is. Met Eben Etzebeth (tans beseer, maar wat na verwagting vir die Rugbykampioenskap reg sal wees) en Lood de Jager (wat tans uitstekende rugby speel), sý Bulls-spanmaat RG Snyman en Pieter-Steph du Toit, asook Franco Mostert, is Botha klaarblyklik nie die man wat Erasmus in gedagte het nie.

Hy is duidelik op soek na ʼn tweede haker om Malcolm Marx by te staan. Akker van der Merwe (nommer twee by die Sharks) en die Springbok Chiliboy Ralepelle, is albei genooi; so ook by die skrumskakels, waar die Springbok Louis Schreuder, wat lank by die WP en Stormers op die kantlyn was, saam met Cameron Wright by die kamp sal wees.

Al drie die Du Preez’s, die losskakel Robert en die losvoorspeler-tweeling Dan en Jean-Luc, is genooi; en die beseerde Springbokstut Coenie Oosthuizen, is ook in die 15-tal – duidelik met die oog op die tweede helfte van die seisoen wanneer hy van sy kniebesering sal herstel het.

Die groep sluit ses spelers sonder toetservaring in (met * gemerk):

Agterspelers
Louis Schreuder en *Cameron Wright (albei skrumskakels), *Robert du Preez (losskakel), *André Esterhuizen en Lukhanyo Am (albei senters), Lwazi Mvovo en *S’bu Nkosi (albei vleuels), Curwin Bosch (heelagter/losskakel).
Voorspelers
Beast Mtawarira, Coenie Oosthuizen, *Thomas du Toit (al drie stutte), Chiliboy Ralepelle en *Akker van der Merwe (albei hakers), Jean-Luc du Preez (flank), Dan du Preez (agtsteman).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

Die 13 Sharks spelers. Is dit dieselfde spelers wat Saterdag pakslae gekry het by die Bulls, en wat vergeet het dat hulle rugby moet speel en lusteloos en sonder belangstelling op die veld gestaan het die laaste 10 min?
Geen wonder Rassie laat hulle nie oefen nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.