Rassie trek Schalk Brits nader, stuur sewe na franchise’e terug

Schalk Brits – terug by die Bokke. (Foto: Laureus)

Schalk Brits, wat drie weke gelede sy laaste wedstryd vir Saracens gespeel het toe hulle die soveelste keer as Engeland se kampioen gekroon is, is by die Springbokgroep vir die res van die Engelse reeks gevoeg.

Die Springbokhaker in tien toetse het reeds in Bloemfontein by die Bokke aangesluit en sal aldus die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, vir Saterdag se tweede toets teen Engeland oorweeg word.

Erasmus glo dat Brits dieselfde rol in die huidige Bokspan kan speel as die ervare oorsese spelers Duane Vermeulen en Willie le Roux, wat onder die uitblinkers was in Saterdag se oorwinning teen Engeland.

“Ons is besig om ervaring, kontinuïteit en diepte te bou met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi. Ons wil dus hê ons jong spelers moet uit die ervaring van die ervare spelers put.

“Ek wil hê Schalk moet dieselfde leiersrol as Duane en Willie speel. Hy het uitgebreide ondervinding van die Engelse en Europese toestande en ken Engelse rugby deur en deur ná sy jare by Saracens.

“Dit is ʼn goeie manier vir ons jong spelers om die uitdagings van internasionale rugby by die ervare manne aan te leer.”

Brits het die afgelope nege seisoene vir Saracens gespeel nadat hy eers vir die WP en Stormers uitgedraf het voordat hy na Johannesburg verhuis en vir die Cats en Goue Leeus gespeel het.

Hy het verlede maand 37 geword, maar die vlak van sy spel was sodanig dat Saracens hom graag vir nog ʼn seisoen wou gehad het.

♦ Intussen het Erasmus die naweek ook die Springbokgroep verder verminder nadat die haker Bismarck du Plessis en die veelsydige agterspeler Frans Steyn verlede week weens “beserings” glo nie deur die Franse toegelaat is om betyds vir verlede week se toets in Suid-Afrika te wees nie.

SA Rugby het toe bekendgemaak dat hulle nie verder vir die reeks teen Engeland deel van die Bokgroep sal wees nie.

Die aanvanklike groep van 43 is nie met plaasvervangers vir dié twee aangevul nie, en benewens Trevor Nyakane wat nou ook met ʼn ribbesering uit die reeks is, het Erasmus ook vir Ox Nché, Jason Jenkins, Kwagga Smith, Nizaam Carr, Travis Ismaiel, Curwin Bosch en Cameron Wright na hul onderskeie franchise’e teruggestuur.

Met die insluiting van Brits by die groep, is daar dus nou 34 spelers in die Bokgroep vir die volgende twee toetse teen Engeland.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

What a joke! ·

Jy moes kwagga hou,hy is vinnig by afbreek punte…ai

Frans C ·

Sover ek kon vasstel het Brits in 2002 en 2003 vir die WP gespeel en in 2004 en 2005 vir die Golden Lions.Hy is daarna terug na die WP 2006 tot 2009. In 2005 speel hy Super rugby vir die Cats en vir die Stormers van 2006 en 2009 en ook in 2011.

Dit is baie jammer dat die begaafde speler nie meer vir Suid Afrika gespeel het nie,maar ek vermoed hy het nie ingepas by afrigters se spelpatrone nie.

Josua Keys ·

Ek was nog altyd ‘n Rassie en Swys aanhanger en ek dink hulle is besig met groot veranderinge maar ek persoonlik dink dat ons nog groot slae gaan kry. Wat die afgelope Saterdag gebeur het was wel lekker om te aanskou maar nie oortuigend nie en ek dink die Engelse het nie hul volle potensiaal gebruik nie en komende Saterdag in Bloemfontien gaan dit ‘n ander storie wees. Wat my egter baie bekommer is dat daar geen kommunikasie in die ons agterlyn was nie, gelukkig vir ons het Engeland dit nie opgemerk nie, spelers het te stadig in vedediggings lyne in beweeg en daar was groot gapings agterlangs gelukkig was die verkeurde opsies deur Engeland gebruik anders was dit nag vir ons. Tweedens, die aangee na mekaar was pateties en as dit nie vir manne was met goeie hande nie sou ons heelwat meer balle aangeslaan het balle was heeltemal tever voor spelers aangegee of die bal was net weggeslinger met die hoop iemand vang dit, daar sal daadwerklik ernstig na dit asook die kommunikasie agterlangs gekyk moet word en Swys moet vinning dit onder die manne se aandag bring om ten alle tye rond te kyk en manne in verdedigings lyne in te roep. Ek hoop egter ook dat Esterhuizen Saterdag sy kans sal kry maar hy is ook soms skuldig aan balle op verkeerde tye aan te gee of weg te slinger maar daaraan kan gewerk word.

nico k ·

Ek dink die agterlyn wat nie altyd in posisie was nie kan dalk wees van ouens wat nog nooit saam gespeel het nie. Dit is heeltemal nuwe kombinasies. Dit kan net verbeter. En die swak aangee is van klein bietjie oorhaastigheid. Ek is altyd verbaas dat die All Blacks die bal so vinnig rondgooi en daar is elke keer ‘n ander speler wat raakvat! Ook iets wat by ons met tyd kan verbeter.

Pieter ·

Vandag het Rassie gese Duane gaan nie noodwendig verder deel vorm vd groep nie. Dis nou stank vir dank – hy het sy hart uitgespeel en dis hoe hy behandel word!!!!!!!!! Geen wonder ons bestes gaan speel oorsee nie.

Jan ·

dis so onregverdig oor all die hakers om n outehuis te gaan haal om rassie se pelle in die bok span te kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.