Rassie, vat raak met die jonges, nie oues nie

Rassie Erasmus (Foto: Twitter/@Springboks)

Dis die ou-ou storie: die drie belangrikste letters in rugby is WEN.

Die Ierse Rugbyunie (RFU) lag van oor tot oor nadat hy uit die bloute uit ʼn wins van bykans R18,3 miljoen getoon het nadat daar vir ʼn aanvanklike verlies begroot is vanweë die mislukte Wêreldbeker-bod en die aanbieding van die WB-vrouetoernooi.

Maar toe begin die Iere wen – die Sesnasies, en later ook Leinster in die Europese Beker- en Pro14-reeks.

Boonop het Munster die halfeindrondes van albei reekse gehaal.

Volgepakte stadions, borge wat toustaan om te borg en genoeg geld om spelers tuis te hou en te keer dat hulle deur die Franse, Engelse en Japanners weggerokkel word.

Dis hoekom dit belangrik is dat die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, raak moet vat vir die komende Rugbykampioenskap met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi.

Daar was bespiegelings die naweek dat Erasmus dalk vir JP Pietersen, Francois Louw en Heinrich Brüssow wil betrek.

Kyk, al drie was gunstelingspelers in my boekie, maar dit was in 2007, 2009 en ook daarna.

Pietersen en Brüssow sal albei met die WB-toernooi 33 jaar oud wees en Louw 34. Saam met Bismarck du Plessis (35), Schalk Brits (38) en Duane Vermeulen (33) maak dit mos nie sin nie?

Onthou ook dat hulle almal in Europa (in Vermeulen se geval in Japan) speel en nóg ʼn lang seisoen agter die blad sal hê.

Ja, ʼn mens gaan nie oorlog toe net met onervare jongelinge nie, maar rugby is sekerlik ʼn spel vir jong mense.

Net een van die All Blacks se voorspelers, die stut Joe Moody (30), wat in die groep was vir die afgelope reeks teen die Franse, is ouer as 30.

Die pak se gemiddelde ouderdom is nog nie eens 27 nie, met Scott Barrett en Ardie Savea (albei 24) en Brodie Retallick en Sam Cane (albei 26) wat nog jare kan speel.

Die agterspelers se gemiddelde ouderdom is ook ʼn rapsie oor 26 jaar, met net Sonny Bill Williams (32) en Ben Smith (30) wat reeds lank in die tand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Peet ·

Wel as ons iets wil wen het ons geen keuse om die ervaring te gaan haal nie…

Johan ·

Baie waar Peet. Die Wereld beker is bietjie meer as ‘n jaar weg. Daar is nie genoeg tyd om ‘n klomp jongelinge genoeg ondervinding telaat kry nie. Sal ‘n mengsel moet wees van oud en jonk(ervare en onervare).

Pietman ·

Ons het al in die verlede met baie ervare spanne sleg verloor – dit gaan nie oor ouderdom nie – ingesteldheid, vermoë om die spel te lees en algemene basiese vaardighede het by die ervare spelers ontbreek – tyd om ontslae te raak van uitgediende tonnelvisie.

Alweer ·

Wil julle my vertel ons speel al weer met die ouetehuis die wereld beker

Petrus ·

Klaar bespiegel mense en die rubriekskrywer oor volgende jaar se Bokspan? Hy kla oor speleres wat dalk te oud is. ‘n Goeie mengsel van jonk en oud kan net goed wees! Indien Pieterse en Brussow 34 jaar oud is, maar fiks en die beste, moet hulle speel. Oud was nog nooit ‘n probleem waar spelers fiks en gesond was nie. Ons praat nie van Snorre se kaptein nie, maar ‘n span soos Engeland wat die wereldbeker met oud en jonk gewen het.

nico k ·

Beide Naas Botha, Danie Gerber en Andre Joubert het op 35 nog Springbok rugby gespeel. En goed gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.